SHANÉ VAN DYK van Botrivier vra:

Ons het op dié toneel afgekom net voor die Kij Gamies-watergat op die Laer-Duinepad in die Kgalagadi-oorgrenspark. Die slang het vrek gelyk, maar die jakkals het hom aanhou optel en skud. Hy is ná ’n paar minute veld-in met die slang. Is dit normale gedrag?

Die slangkenner JOHAN MARAIS antwoord:

Dis ’n molslang wat heel moontlik doodgery is. Dis algemeen vir jakkalse om slange dood te maak en te vreet, selfs giftige slange.


SONJA PIENAAR van Heilbron skryf:

Ek het dié roofvoël op ons plaas gekry. Hy het op die grond gesit en ek kon hom maklik optel.

Die plaaslike veearts kon geen beenbreuke kry nie. Ná ’n antibiotika-inspuiting het ek hom huis toe gevat om aan te sterk. Sy vere was in ’n swak kondisie en hy was ondergewig. Ek het vir hom ’n bietjie beesmaalvleis gevoer. Hy het gou sterker geword en op die sesde dag wou ek hom vrylaat, maar hy het nie weggevlieg soos ek gehoop het nie. Ek het hom na ’n nabygeleë wildplaas geneem aan te sterk. Enige idee watse soort roofvoël dit is?

Die voëlkenner ULRICH OBER-PRIELER antwoord:

Sonja se vonds is interessant. Die grootte, lang vlerke en kopvorm dui op ’n vleivalk (ook genoem paddavreter) maar ek het nog nie hierdie kleurvariasie gesien nie. Die oogkleur lyk soos dié van ’n witkruisvleivalk. (Dié soort is beperk tot Suid-Afrika en die getalle neem dramaties af.)

Die feit dat hy wit vere, ’n swart snawel en geel washuid bo die snawel het, beteken dis nie ’n albino nie, maar wel ’n leukistiese kleurvariasie. Die bruin kleur op die vere is waarskynlik net grond of bloederigheid van sy laaste prooi. Sulke wit voëls is uiteraard skaars. Die genetiese basis is ongewoon en dis vir sulke opvallende wit roofvoëls moeilik om prooi te vang.

Hy toon beslis nie die gedrag van ’n gesonde voël nie. Hy het waarskynlik gif ingekry saam met die prooi wat hy gevreet het. Hopelik sal hy uiteindelik herstel en kan hy weer vrygelaat word. Ongelukkig kan sulke skade permanent wees.


DERYCK SALTER van Hermanus vra:

Ons het op ’n groot trop buffels afgekom op die H1-7 noord van die Shingwedzi-ruskamp in die Kruger. ’n Besoeker in ’n ander voertuig sê toe hulle volg die trop, want daar is ’n spierwit buffelkalf. Ons het hom moeilik geglo, maar nietemin gewag. En jou wrintie, hier verskyn die wit kalfie.

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Die kalfie het leukisme. Albinisme is wanneer die liggaam geen pigmentasie het nie. Die ander opmerklike eienskap wat die twee toestande onderskei, is die kleur van die oë. By albinisme is die oë gewoonlik pienk of rooi (die gebrek aan pigment in die iris maak die bloedvate van die retina sigbaar). Die kalfie se oë is nie rooi of pienk nie en daar is ook kleur in sy neus, ore en kloutjies.

Daar is verskeie opinies oor die risikofaktor vir leukistiese diere. ’n Tropdier het waarskynlik minder van ’n risiko as alleenlopers of diere in klein troppe.

Die abnormale kleur kan natuurlik ook roofdiere afskrik. Die teenargument is dat diere kleure anders sien as ons en dat dit nie so ’n groot rol speel nie: As iets ruik en optree soos ’n rooibok, is dit ’n rooibok en dus ’n maaltyd!


PIET HUGO van Wellington vra:

Ek het dié by op ’n stuk hout gewaar toe ek wou vuurmaak vir ’n braai. Is dit stuifmeel wat aan sy pootjies vasklou? Ek vermoed dit is van die canolalanderye in die omgewing, wat tans aan die blom is.

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Dis ’n Afrika-heuningby. Piet het gelyk – dis smandjies vol stuifmeel. In die lente kry bye baie stuifmeel, want blomme is volop. In die wintermaande is aalwyne ’n belangrike stuifmeelbron.

Bye maak heuning van nektar. Nektar is pure koolhidrate en dus het hulle iets nodig om hulle dieet te balanseer – stuifmeel verskaf proteïen. Stuifmeel is ook baie belangrik vir die ontwikkeling van die jong bye.

Bye versamel die stuifmeel op die hare op hulle lyf en skraap dit met hulle voor- en middelste pootjies en verpak dit in ’n stywe bolletjie in die stuifmeelmandjie op hulle agterpoot. Op jou foto kan ’n mens mooi sien hoe lyk dit as dié proses voltooi is en die bytjie op pad terug is na die nes of korf.


MADALEINE ERASMUS van Kroonstad skryf:

Ons het laatmiddag op hierdie toneel naby die Sweni-watergat op die S126 in die Krugerwildtuin afgekom. Daar was geen ander roofdiere in sig nie; dus het ons aangeneem die berghaan het die steenbokkie gevang. Toe ons stilhou, was daar geen teken dat aan die bokkie gevreet is nie. Die roofvoël het dadelik die pens oopgeskeur.

Kan ’n berghaan ’n steenbok self vang?

Die voëlkenner LUKAS NIEMAND antwoord:

Berghane is hoofsaaklik aasdiere en is baie doeltreffend om kleiner karkasse op te spoor. Hulle is gewoonlik van die eerste aasdiere wat by ’n vars karkas opdaag.

Dis seker nie onmoontlik dat die berghaan die bokkie kon vang nie, maar hulle jag normaalweg kleiner soogdiere soos muise, hase en selfs muishonde. Ek raai die bokkie was reeds vrek en die berghaan het eerste opgedaag.