Foto's Liela Magnus

Sowat 40 km anderkant Brits in Noordwes sit Gerrie Cilliers voor haar Jurgens Surfer Deluxe op ’n kampstoel met die ingeboude voetstoeltjie. Die dik deurskynende plastiektafeldoek beskerm die mooi geruite blou-en-wit ene onder hom. Klampe aan die kante keer dat die wind hom skep. Drie wit stoele staan reg vir aandete en die warmplaat is aan.

Hier by die Thaba Morula-kampterrein is Gerrie in haar element.

VOORVATTER, RAAKVATTER. Gerrie Cilliers in haar element, ontspanne voor haar woonwa besig om items te brei vir die kerkbasaar. By haar huis in Pretoria (bo) haak sy self die woonwa voordat sy die langpad vat. Regs is Gerrie besig om met die woonwaskuiwer seker te maak haar woonwa staan perfek waar sy hom wil hê in die kampterrein.

Gerrie, ja. Nie mevrou Cilliers, doktor Cilliers of stigterslid van die Tuks Alumni-woonwaklub nie. En beslis nie tannie nie. Sy is net Gerrie, dit maak nie saak hoe oud jy is nie.

Sy kamp nou al 53 jaar met woonwaens.

Eers saam met haar man, Arnold, en hulle kinders. Later was dit net sy en Arnold. Maar sedert 1998, ná Arnold se dood, is dit net sy in die woonwa.

“My man het my baie mooi geleer. Toe hy begin siek word, het hy gesê ek moet die woonwa begin sleep – hy sal my leer. En toe, die laaste keer dat ek saam met hom sleep, het hy só gespog oor hoe goed ek die woonwa sleep. Dit het baie vir my selfvertroue beteken. Ek het ’n fantastiese man gehad.”

Wanneer sy haar Peugeot 407 met sy outomatiese ratkas voor die woonwa intrek en haak en dan in die pad val, kom haar man se sleeplesse onbewustelik by haar op. “Hy het my geleer om jou ratte betyds te verander voor die kar swaarkry, en om wyd om ’n draai te gaan. Jy moenie kortpad kies in ’n draai nie.”

Ná al die jare sukkel sy wel nog om met ’n wa op die haak in trurat om ’n draai te ry. “Ek ken al die teorieë. Jy moet mos die wiel regs draai as jy links wil gaan, maar dit wil nie mooi bymekaarkom nie. Ek kan reguit agteruit ry, maar ’n draai is net te veel van ’n uitdaging.”

Tegnologie tot die redding

Maar dié terugstotery pla haar nie veel nie. Aanvanklik het medekampeerders Gerrie gehelp om die woonwa op sy plek te kry wanneer sy by ’n kampplek aankom, maar sy het deurentyd haar oë oopgehou vir ’n oplossing om dit self te kan doen. Dié oplossing het gekom in die vorm van ’n woonwaskuiwer.

Wanneer sy by haar staanplek aankom, loop sy vinnig diékant toe en dan anderkant toe om die woonwa. Sy staan dan met haar hand in haar sy terwyl sy ewe profesioneel en in ’n oogwink haar wa met die woonwaskuiwer op sy plek kry.

“Soms moet ek in die spieël kyk om te onthou hoe oud ek is,” sê sy met haar koordlose elektriese boor in die hand. Hiermee laat sak sy die hoekstutte om die woonwa waterpas te laat staan; sy gebruik ’n skuifslotsleutel om die wa se dak los te maak sodat sy dit kan lig; en dan word ’n katoetertjie ingespan om die stoeptent deur die gleuf te trek. Die diamante aan haar trouring flits in die son wanneer sy die tentpenne met haar rubberhamer inkap.

“Ek het net besluit ek kan nie altyd van iemand afhanklik wees nie. Maar ek ís eintlik nog ’n bietjie afhanklik, want ek kan die woonwa uitstoot uit die motorhuis uit en ek kan hom haak en die stabiliseerder inhaak, maar ek kan hom nie self afhaak nie, want my hande is te klein. Ek kan nie die hefboom trek wat die knop losmaak en die wieletjie terselfdertyd opdraai nie. Daarom kom iemand saam terug van die kamp af en help my.”

Gerrie se nuwe wa

Gerrie het haar Surfer Deluxe omtrent 11 jaar gelede gekoop. Sy het lank alleen die vorige woonwa – ’n Sprite Musketeer – gesleep. Maar haar vriendin Jannij Stander het die Surfer Deluxe gesien en geweet dié wa het Gerrie se naam op.

Jannij het die pamflet aangedra in ’n lesing by die kerk – nogal oor hoe om jou brein te fokus. “Hy (die man wat die lesing gegee het) het gesê jou brein is soos ’n vlinder: Hy vlieg oral rond en elke keer moet jy die vlinder terugbring na die beginpunt. Gedurende die pouse vertel Jannij toe vir my van die woonwa en toe kon ek daai vlinder nie weer terugkry op sy plek nie,” lag Gerrie.

TYD VIR AGTEROORSIT. Op die hooffoto kuier Gerrie saam met Henriëtta Magnus by die Thaba Morula- kampterrein terwyl die braaivleisvuur knetter. Wanneer sy die woonwatent opslaan (regs bo), moet jy eerder wegstaan, anders is jy in haar pad. Die woonwaskuiwer (regs onder) is een van Gerrie se gunstelingkatoeters wat dit vir haar moontlik maak om steeds te kamp. Gerrie het vinnig ná haar man se dood besef as sy wil aanhou kamp, sal sy die tegnologie moet inspan – dinge soos ’n woonwaskuiwer en koordlose boor (onder). Haar hande staan steeds vir niks verkeerd nie.

Die volgende oggend het sy summier versterkings ingeroep en die predikant – wat voorheen ’n ingenieur was en self ’n ywerige kampeerder is – is saam om die woonwa te gaan bekyk. “Ek sê toe vir Jan [die predikant] hy kan al die tegniese vrae vra; ek sal al die geriefsvrae vra.”

Ek kan die woonwa uitstoot en ek kan hom haak, maar ek kan hom nie self afhaak nie, want my hande is te klein.

Gerrie het ekstra kragpunte buite die woonwa laat aanbring, ’n bykomende kragprop binne laat installeer en aangedring op ’n plek vir haar vrieskas. Al die werk is binne ’n week afgehandel – die kinders was op pad van Engeland en die woonwa moes reg wees.

Die afgelope 11 jaar het Gerrie behoorlik haar stempel op die woonwa afgedruk. ’n Helderkleurige kwilt wat sy self gemaak het, bedek die bed; die borde word in lapsakkies gebêre sodat dit nie stof vergaar nie; in die toilet versteek ’n poppie ’n rol witgoud onder haar tabberd; en glaskoppies en -glase word met ’n lap beskerm sodat dit nie breek of losskud nie. Gerrie drink nét uit regte glas wanneer sy kamp.

Stormnag by Aldam

Toe Gerrie en Arnold in 1964 hulle eerste woonwa koop – ’n Venter met tentkante – het hulle twee seuns en ’n peuterdogter gehad. In daardie jare was glase beslis nie ’n prioriteit nie.

Hulle het die Venter gekies omdat dit lekker ruim was en die gesin dit met hulle ligblou Mercedes-Benz 180 (diesel) kon sleep. “Ons het na ’n skou toe gegaan waar my man vir my gewys het watse waens ons kan sleep met hierdie swak motor – en alles is sulke klein goedjies. En ek sê: ‘Nee dankie, ek sien nie kans nie. Ek het engtevrees; ek sien nie kans vir sulke klein goedjies nie.’

JARE SE KAMP. Met die Cilliers’s se eerste woonwa, ’n Venter, (links in die middelste ry en regs in die onderste ry) het hulle begin om die Suidkus te verken. Dit was hoofsaaklik haar man, Arnold, en oudste seun, Pierre, wat dié woonwa opgeslaan het. Daarna was dit die Camp Pride (regs, boonste ry) en toe die Constantia (links bo, regs in die middel en links onder) wat die gesin gedien het, ook soms as kampskool wanneer Gerrie se oudste dogter, Elma, vir die kleintjies “skoolgehou” het.

“Toe sien ons die Venter en dit voel vir my hy is so groot soos ’n saal. En ek sê: ‘Vir dáárdie een sien ek kans.’ Ons het ’n hele ruk met hom gekamp.”

Met daardie Venter het die Cilliers- gesin die KwaZulu-Natalse Suidkus, Noordkus, binneland én die Krugerwildtuin verken, tot hulle by die Allemanskraaldam naby Winburg in die Vrystaat staanplek gekry het.

“Daardie aand was daar ’n verskriklike storm. Die seuns en ’n maatjie het soos nagapies aan ’n tentpaal vasgeklou. Dan kom skep die wind alles 15 cm die lug in en met ’n ‘whoosh!’ gaan lê hy weer.”

Sy onthou die angs van daardie nag: “Ek het in die woonwa by my dogter gelê en net gebid. Later het ek gebid ás ons dan vanaand móét gaan, moet ons almal asseblief saam gaan sodat daar nie een agterbly nie.”

Daardie storm was die Venter se doodskoot. Die Cilliers-gesin het begin soek na ’n woonwa met soliede kante en besluit op ’n Camp Pride.

Gerrie sê dié woonwa het goeie diens gelewer, maar ook net tot die gesin uitgebrei het en hulle nie die dak meer so maklik kon lig nie. Volgende op die lys was ’n Constantia. “Dit was ’n fantastiese woonwa. Hy was só groot daar kon drie mense langs mekaar in die gangetjie staan. Hy was breër as ’n motor.”

Hulle kampavonture is egter tot stilstand geruk toe die Valiant waarmee hulle die Constantia gesleep het, gesteel is. Vier jaar lank het die woonwa in die erf gestaan, en toe Arnold weer ’n bakkie koop, is die woonwa as ’n blyplek aan padwerkers verkoop. Die Musketeer het gevolg – ’n staatmaker nadat die Cilliers-gesin twee laatlammetjies ryker geword het.

Die hart van die klub

Deesdae sleep Gerrie haar woonwa omtrent een keer per maand saam met die Tuks Alumni-woonwaklub na ’n kampplek binne 200 km van Pretoria af.

ZAAIMAN STANDER kamp al amper 20 jaar saam met Gerrie en sê sy is die hart van hul woonwaklub.
TRACEY COETZEE sê Gerrie is vir haar ’n voorbeeld van wat ’n mens kan vermag wanneer jy jonk van gees bly.

“Die lekkerste is om buite in die natuur te wees. Die woonwa is so lekker; jy maak gou skoon en alles is byderhand – en jy hoef nie ver te loop om iets te kry nie. Dis baie beter as ’n chalet. Jy slaap in jou eie vuilgoed; jy hoef nie iemand anders se vuilgoed skoon te maak nie.”

Gerrie is duidelik geliefd onder haar medekampeerders. Almal kom groet, maar teen dié tyd weet hulle al jy kan aanbied om te help, maar jy bly uit haar pad as Gerrie met die opslanery begin.

SÓ LEEF ’N MENS MOS! Hier skep Gerrie pasteie op wat sy op die eerste kampdag maak vir middagete. Dié pasteie is al ’n instelling – en ’n groot gunsteling onder haar medekampeerders.

Tracey Coetzee het al ’n klomp keer saam met Gerrie gekamp. Sy staan met die opslaan van Gerrie se woonwa nader om te help pale vashou. “Gerrie is so ’n blymoedige mens en sy doen haar eie ding. Sy is ’n sprekende voorbeeld dat ’n mens nooit moet ophou lewe nie en nooit moet terugstaan vir iets wat moeilik lyk nie.”

Zaaiman Stander kamp al amper 20 jaar saam met Gerrie en die klub. Hy sê hulle het nie net baie by haar geleer nie, maar sy bly ook die hart van die klub. “Sy is die morele kompas van die groep en hou die geselskap op ’n goeie vlak. Sy het ’n wonderlike sin vir humor.”

As mense vra hoekom sy nog woonwavakansies hou, antwoord Gerrie sy sal aanhou tot sy nie meer kan nie. “Dis my leefwyse. Dis wie ek is.”