Mark Williams-Wynne vertel: Ondanks die feit dat ek my besoek aan die Kruger maande vooraf beplan het, het my vriende wat veronderstel was om saam te kom, op die nippertjie onttrek.

Ek was dus alleen, maar min gepla. In die laaste paar jaar probeer ek om die Kruger minstens een keer per jaar te besoek. Die Kruger is anders as KwaZulu-Natal se grootwildparke wat ek as kind meer besoek het.

In die Kruger kan ’n mens diere in groter konsentrasies sien. Jy is byna gewaarborg van minstens een goeie wildkykgeleentheid waar jy dramatiese foto’s kan neem.

Kyk na die video:

Vroeg uit die vere

Op die oggend van 6 November 2017 was ek vroeg op en teen 4.30 vm. by die hek uit. Ek het van Onder-Sabie na Skukuza al met die H4-1- roete langs gery. Hierdie pad bied gewoonlik goeie geleentheid om soggens grootkatte te sien.

Maar nie hierdie slag nie. Ek het als probeer: Omgedraai om sekere dele weer te bekyk, die bos met my verkyker gefynkam en ook by ander toeriste stilgehou om te hoor of hulle iets gesien het – maar g’n enkele snorbaard nie. Dit was al omtrent tyd vir my middaguiltjie, en ek het teruggedraai Onder-Sabie toe.

Ek het van Onder-Sabie na Skukuza al met die H4-1- roete langs gery. Hierdie pad bied gewoonlik goeie geleentheid om soggens grootkatte te sien.

Ek het besluit om die H1-1 te vat en dan die H12, net om ander landskap te sien. Langs die H1-1 was daar min diere, en ek het nie veel hoop gehad vir die H12 nie, want dis bloot ’n verbindingspad tussen die H4-1 en H1-1.

Verkeersknoop

Ek het nog nooit iets besonders langs die H12 gesien nie en het die bos maar halfhartig deurgekyk. Maar toe kom ek oor ’n bult en sien die soort verkeersknoop wat net een ding kan beteken... Skielik was ek nie meer vaak nie – hier voor was íéts!

By die knoop karre het twee leeus in die pad gelê. Dit was ’n groot mannetjie en wyfie wat paar – so aan en af, soos die grootkatte mos maar maak. Almal se aandag was by dié twee, maar ek het nog ’n leeu gesien – so ’n paar meter weg teen ’n miershoop onder ’n maroelaboom. Hierdie mannetjie het later weggestap, seker om die res van die familie te gaan soek.

My aandag was gefokus op die parende leeus en ek het probeer om in ’n goeie posisie te kom vir foto’s.

Karre het gekom en gegaan en ek het my gaping gekry. My Canon EOS 70D-kamera was gereed op my skoot met ’n Sigma APO 120-400 mm-f4.5-5.6-DG OS HSM-lens aangeskroef. Dis my gunstelinglens vir wildlewe. Ek hou van Canon se D-SLR-kameras omdat jy maklik tussen video en stilfotografie kan beweeg – dit verg net die druk van ’n knoppie.

Foto: Skermgreep uit Kruger Sightings-video.
Foto: Skermgreep uit Kruger Sightings-video.
Foto: Skermgreep uit Kruger Sightings-video.

Leeumoles

Dit was duidelik dat die mannetjie nie gelukkig is nie. Die wyfie was nie juis lus vir paar nie en die mannetjie het ongeduldig geraak. Dit het gevoel asof iets gaan gebeur; ek het net nie geweet wat nie. Intussen het ek foto’s geneem.

Ek het skaars my kamera oorgeskakel na video-modus toe die mannetjie grom en skielik die naaste kar – ’n klein Volkswagen Polo – ’n klap gee (foto 1 en 2)! Gelukkig was die vensters toe, en die leeu het seker geskrik toe die onsigbare ruit sy klap stuit.

Hierna het hy vinnig bedaar en van die Polo wegbeweeg (foto 3). Die toeriste in die Polo was erg verskrik en die ander mense in omliggende karre was ook nou versigtiger – almal het ruite opgedraai! Daar was nooit meer as 10 karre by die leeus nie, en die leeus het nooit gepla gelyk deur die teenwoordigheid van die karre nie. Totdat die mannetjie skielik na die Polo kap...

Ek het skaars my kamera oorgeskakel na video-modus toe die mannetjie grom en skielik die naaste kar – ’n klein Volkswagen Polo – ’n klap gee...

Ronde twee

Ná ’n ruk het die meeste voertuie weer gery, en ’n ander plek ingeneem. Ek het egter gebly. Die mannetjie het weer begin rondstap en in die grond met sy poot gekrap (foto 4). Hierna het hy weer die wyfie genader. ’n Wildkykvoertuig was nou langs die leeus in die skadu van ’n boom.

Dié wildkykvoertuig was nie vroeër by toe die leeu die Polo geklap het nie, en die gids agter die stuur het duidelik nie enigiets verwag nie. Terwyl die toeriste in sy voertuig foto’s neem (en selfies met die leeus in die agtergrond...) het die wyfie weer die mannetjie die koue skouer gegee, en dié keer het hy weer sy frustrasie op die eerste voertuig uitgehaal: die wildkykvoertuig. Die mannetjie het die oop kant van die voertuig bestorm, maar die gids was gelukkig wakker.

Hy het die voertuig aangeskakel en gery om afstand tussen die voertuig en die mannetjie te kry. Danksy die gids was almal veilig, maar dit was duidelik dat die toeriste goed geskrik het. Die leeu het weer stoom afgeblaas en in die skaduwee gaan rus. My eie uiltjie het ook geroep, en synde dit gelyk het asof die aksie nou vir goed verby was, het ek terug Onder-Sabie toe gery.

WAT SÊ ONS KENNER?

Indien die leeus geïrriteerd was met die voertuie en hoe naby hulle was, sou hulle bloot wegbeweeg het. Dis die voordeel wat die diere in die Krugerwildtuin het – 50 m weg van die pad af het hulle vrede, in teenstelling met ’n plek soos die Masai-Mara in Kenia, waar die voertuie hulle oor die grasvlaktes bly volg.

Met my verblyf en navorsing daar het ek waargeneem hoe wildbesigtigingsvoertuie laer trek om ’n trop leeus wat lê en slaap. Ek dink die mannetjie se gedrag is bloot korasie en dominansie. Met sy wegbeweeg van die wyfie af het hy heel moontlik beweging – dalk sy eie weerkaatsing – in die venster van die Polo gesien en daarna gekap.

Dalk het hy gedink dat dit ’n vreemde leeumannetjie is wat probeer inbeweeg op sy “aksie”: die wyfie wat in oestrus/op hitte is. Met die kap na die “ander” leeu het sy poot heel moontlik ’n skaduwee veroorsaak wat die beeld “breek”. Dit verklaar moontlik die ligte kap en niks meer nie. Daar was nie die reuk of geluide van ’n ander leeu nie, en hy moet sy fout besef en geretireer het.

Wat die wildkykvoertuig betref: My ondervinding is dat leeus selde die voertuig, oop of nie, sal storm behalwe as iets aan die profiel van die voertuig verander.

Dus as iemand in die voertuig byvoorbeeld opstaan om ’n beter foto te neem, of by ’n karvenster uithang. Die leeu kan dan ’n mens eien, wat gevaar beteken – en dan kan hy oorgaan tot aksie. Die aansit van die safarivoertuig het dalk die stormloop ontlok, maar ek stem saam dat die gids se optrede korrek was om groter afstand tussen sy voertuig en die leeu te kry.

– L.D. van Essen, natuurlewekenner

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook