Twee volwasse leeumannetjies is van die Majete-wildreservaat af hierheen geskuif en bly nou eers in spesiaal geboude bomas waar hulle en twee leeuwyfies uit Suid-Afrika aan die omgewing en aan mekaar gewoond raak.

Foto: Sean Viljoen

Die leeus is deur die niewinsgewende bewaringsorganisasie African Parks na Liwonde gebring, in samewerking met Malawi se departement van nasionale parke en natuurlewe en met die ondersteuning van die Nederlandse regering. (Ons het ook in Julie verlede jaar in Weg #153 geskryf dat jagluiperds vir die eerste keer in 20 jaar deur African Parks na die park gebring is.)

Die Majete-wildreservaat se leeubevolking het dekades gelede uitgesterf weens stroping, maar is sedertdien weer ingestel – en is nou só suksesvol dat dit kan help om Liwonde te herbevolk.

Nog inligting african-parks.org

Het jy geweet?

Afrika se leeubevolking het die afgelope twee dekades met 42% afgeneem – daar is tans net sowat 20 000 leeus in wildernisgebiede oor en leeus het in 26 Afrikalande uitgesterf.