Fundisile Mketeni, die hoofuitvoerende beampte van Sanparke, sê hulle is gereed om besoekers te verwelkom.

“Ons waardeer hoe opgewonde die publiek is om weer die natuur te verken. Ons sal verseker dat parke bedryf word volgens streng gesondheidsmaatreëls om personeel en gaste veilig te hou.”

Die Namakwa- nasionale park, Bouldersstrand en Kaappunt in die Tafelberg- nasionale park* bly gesluit. Al die hekke van die Krugerwildtuin is oop, behalwe die Pafuri-hek (dié maak egter ook Vrydag 12 Junie oop). Slegs ’n sekere getal voertuie sal per tydgleuf toegelaat word en besoekers moet vooraf bespreek en bewaringstariewe betaal – jy kan nie net opdaag nie.

Kontak Sanparke op 012 428 9111 of www.sanparks.org. Jy mag drie tydgleuwe bespreek by die Krugerwildtuin om in te gaan: Van 6 vm.-8 vm., 8 vm. -10 vm. en vanaf 10 vm. 

Piekniekplekke en wildskuilings bly gesluit. Ablusieblokke is oop in die ruskampe, by hekke en by sommige piekniekplekke. Sommige winkels en petrolstasies sal ook oop wees volgens vlak 3-regulasies. Hierdie geld alle nasionale parke, sê Rey Thakhuli, ’n woordvoerder van Sanparke. 

Ons waardeer hoe opgewonde die publiek is om weer die natuur te verken. Ons sal verseker dat parke bedryf word volgens streng gesondheidsmaatreëls om personeel en gaste veilig te hou.

“Jy mag steeds nie tussen provinsies reis om die parke te besoek nie,” sê Mketeni. “Gaste moet dus uit die park gaan in die provinsie waar hulle ingekom het.”

Hierdie geld dié parke wat oor twee provinsies strek: Die Krugerwildtuin (Mpumalanga en Limpopo), die Tankwa- nasionale park (Wes- en Noord-Kaap) en die Tuinroete- nasionale park (Wes- en Oos-Kaap). Dus, as jy byvoorbeeld by die Krugerwildtuin ingaan in Mpumalanga, moet jy die park weer in dié provinsie verlaat.

Jy mag ook nie landgrense oorsteek nie, by die Kgalagadi- (tussen Suid-Afrika en Botswana), die Richtersveld-oorgrenspark (tussen Suid-Afrika en Namibië) en in die Krugerwildtuin (by die Pafuri-grenspos en Giriyondo-grenspos). 

“Ons vra dat gaste alle vlak 3-regulasies respekteer, insluitend die dra van maskers, sosiale afstand behou, en daar moet nie te veel mense in voertuie wees nie. Gaste moet ook met soveel van hulle eie rommel as higiënies moontlik die park verlaat.” 

*Let wel, Leeukop is tans toe weens besoekers wat nie gehoor gegee het aan vlak 3-regulasies nie.  

Bron: sanparks.org

Dié Kaapse Natuurbewaring-reservate is oop vir stap en hengel

Verskaf: Kaapse Natuurbewaring
Verskaf: Kaapse Natuurbewaring

Dié reservate in die Wes-Kaap is oop: De Hoop-, Keurbooms-, De Mond-, Walkerbaai-, Robberg-, Outeniekwa-, Limietberg-, en die Sederberg-natuurreservaat (Algeria).

Die reservate gaan in fases oopmaak volgens die regulasies van grendeltyd. Op vlak 3 is stap en hengel toelaatbaar. Daar is ’n daaglikse beperking vir aantal besoekers per staproete (tussen 20 en 100 mense): Kyk hier watter beperkings geld elke roete.

Alle besoekers moet ’n masker dra. By die ingangshek moet besoekers hulle hande ontsmet en sal hulle liggaamstemperatuur gemeet en besonderhede neergeskryf word. 

By reservate met geen gekontrolleerde hekke nie moet stappers sosiale afstand handhaaf en alle veiligheidsmaatreëls volg. 

Geen georganiseerde stapgroepe word toegelaat nie – besoekers moet verkieslik in pare stap. Piekniekplekke, oornagroetes en -verblyf is steeds gesluit. 

Besoekers moet stappermitte telefonies (087 087 8250) koop. Stappermitte sal nie by die hek te koop wees nie. Wild Card-lede kan ook telefonies hulle stappermitte kry – teen geen ekstra koste nie. Jy kan ’n stappermit koop tot 10 vm. op die dag wat jy dit wil besoek. Die reservate is oop van 8 vm. tot 4 nm.

Lees nog vrae en antwoorde hier

Isimangaliso ook oop

Die Isimangaliso-vleilandpark – een van Suid-Afrika se wêrelderfenisgebiede – is oop vir dagbesoekers en hengel. Volgens die Isimangaliso-vleilandpark se persverklaring het die grendeltyd die veld tyd gegee om te herstel en die wild is meer ontspanne, met diere wat nader aan die paaie wei. 

Kontak: 035 590 1633; info@isimangaliso.com