"Ek het oneindige respek vir olifante. ’n Mens lees dikwels van olifante wat voertuie omstoot of beskadig, en ons het self al ’n paar benoude oomblikke beleef. Toe ’n groot olifantbul dus by die Rietfonteinwatergat in die Etosha- nasionale park verby wou kom, het ons dadelik ons voertuig uit die pad beweeg.

Maar nie almal het die wapperende ore en stofopskoppery van die olifant geglo nie en ’n paar dapper (of bloot domastrante) besoekers het bly staan. Dit is toe dat die olifant besluit dié voertuig se bakwerk is die perfekte rusplek vir sy swaar slurp.

Hy het saggies met sy voet op die buffer getrap terwyl ons hulpeloos sit en toekyk hoe die mense in die voertuig in gevaar verkeer.

Dit is toe dat die olifant besluit dié voertuig se bakwerk is die perfekte rusplek vir sy swaar slurp...

Ek hoop dié brief en foto herinner besoekers aan nasionale parke dat hulle olifante moet respekteer en altyd ’n veilige afstand handhaaf. Moenie wag totdat dit te laat is nie, want dan kan jy nie skuif nie. Daar was gelukkig geen ooglopende skade aan die voertuig nie, net aan die huwelik.

Die laaste woorde wat ons kon hoor terwyl hulle wegry, was: “Ek is ’n geskeide man!”