Vir so lank as wat ons kan onthou, word woonwaens van hout gemaak, maar dít is besig om te verander – nie omdat hout ’n slegte ding is nie, maar omdat die tegnologie dermate gevorder het dat ontwerpers en ingenieurs nou materiale kan gebruik wat meer voordele het wanneer dit kom by die bou van woonwaens.

Die probleme wat waens van ’n klompie jare terug met iets soos houtvrot gehad het, blyk nou iets van die verlede te wees, en wat struktuur betref, is waens sterker as ooit tevore. Die nuwe materiale is ook beter bestand teen water en ongelukskade én hulle weeg die minimum.

Ons het met ’n klompie vervaardigers gesels oor die materiale wat hulle gebruik.

Invader

“Ons gebruik om verskeie redes veselglas, maar hoofsaaklik omdat dit ons in staat stel om ons waens ligter en sterker te bou,” sê Dan-Pierre Louw, Invader se besturende direkteur.

Veselglas is ook buigsaam, met die vermoë om impak tot ’n mate te absorbeer – en Dan-Pierre sê daar is aansienlik minder skrape en duike in die geval van ’n botsing as met metaal. “Die meeste goed bons bloot van veselglas af. Die buigsaamheid is geskik vir die algehele struktuur, want dit beweeg effens as jy oor rowwe terrein ry. As dit té rigied is, kan dit skade veroorsaak.”

Veselglas word ook gebruik om skibote en waterponies te bou, omdat die buigsaamheid daarvan so geskik is vir ’n wateroppervlak. Die kleur van die veselglas word vooraf saam met die rou materiaal gegiet, wat beteken dit verbleik nie.

“Daar is beperkings, maar as jy alles in ag neem, oortref veselglas enigiets wat ons met metaal kan bou. Dit roes nie, jy hoef dit nie te verf nie en jy hoef beslis nie bekommerd te wees oor houtvrot nie. Dit gelei ook nie temperatuur nie – dit is hoekom dit altyd so koel is in een van ons waens, self al staan hy onder die bloedige Afrikason.”

Okto en Swift

Die Okto-reeks gebruik ’n hoëdigtheid-polistireen tussen ’n laag aluminium aan die buitekant en ’n laag veselglas aan die binnekant – en dit word dan met ’n vakuumhegtingsproses gebind. Die raam is ’n kombinasie van aluminium en veselglas. “Ons gebruik nie hout nie en die struktuur is baie lig,” sê Woody Loftus van Loftus-woonwaens, die agent vir Okto en die invoerder van Swift-waens uit Brittanje.

Die Swift-reeks het veselglas op die binne- én buitemure pleks van aluminium buitelangs. Vir die raam gebruik hulle poliuretaan. Woody sê dié kunsmatige materiaal is só taai jy kan nie ’n skroef daaruit trek nie. “Dit is egter duur, en daarom verkies ons die aluminium op die Okto-reeks. Dit is baie duursaam en ongewenste dinge soos houtvrot word uitgeskakel.”

Woody sê dit is te danke aan die 13 jaar ervaring wat, Thinus van Wyk, hulle fabrieksdirekteur, by Jurgens opgedoen het dat Okto se materiale so goed ontwikkel en getoets is. “Ons vertrou Thinus se oordeel. Die handelaars onder ons sambreel was dit eens dat houtvrot die grootste en onsmaaklikste probleem vir kampeerders is. Met die materiale wat ons nou gebruik, kan jou wa binne of buite staan en daar is tegnies niks wat behoort skeef te loop nie. Die Europese mark het ook nou dié rigting ingeslaan.”

Hoefer
Hoefer
Hoefer
Hoefer

Hoefer

Die Hoefer-groep spog met die onderskeiding dat hy die ligste volgrootte woonwa in Suid-Afrika vervaardig. Die uitvoerende hoof, Charles Hoefer, sê hulle het die vermoë om nog ’n klompie kilogramme af te skud, maar dat dit met die toestande in Suid-Afrika onwaarskynlik is.

“Ons bou ons produkte om grondpaaie baas te raak, en daarom is dit onwaarskynlik dat ons ’n selfs ligter padwa sal ontwikkel. Ons het die skade gesien wat van die paaie in Suid-Afrika aan padwaens kan aanrig.

“Ons jongste reeks weeg omtrent ’n ton en ons het omvattende grondpadtoetse gedoen. Dis lekker om te sê die wa het hom goed gedra. Ons kan hom waarskynlik 100 kg of selfs 150 kg ligter maak, maar ons sal dit nie doen nie omdat ons nie te veel aan die struktuur wil torring nie,” sê Charles.

Charles het die meeste van sy ervaring by sy pa se ryhuis-maatskappy in Amerika opgedoen en sê hy het daar geleer hoe om met verskillende materiale te eksperimenteer. Hy het ook ’n woonwa uit koolstofvesel gebou. “As ek sê ons waens word van veselglas gebou, is dit die waarheid én ’n leuen. Hoewel dit oorwegend veselglas is, is daar duisende verskillende maniere om dit te gebruik en ook heelwat verskillende soorte. Ons gebruik ’n geplakte struktuur. Die naaste ding aan ons struktuur is die romp van ’n vliegtuig of renboot. Die veselglassamestelling is spesifiek ontwikkel om uiterste toestande te trotseer.”

Infanta

Infanta gebruik ’n materiaal wat aan die voorpunt van die tegnologie is en nie deur enige ander plaaslike vervaardiger gebruik word nie. “Ek wil nie te veel daaroor uitwei nie, maar dit is ’n koolstofvesel-samestelling wat hoegenaamd geen veselglas bevat nie. Die materiaal is tot 20 keer sterker as veselglas en boonop UV-bestand én buigsaam.

“Ek sal amper so ver gaan om te sê dit is die beste tegnologie wat tans beskikbaar is vir die bou van kampvoertuie. Dit word ook gebruik om die lemme van windturbines te bou. Sover ons weet, is daar net een ander woonwavervaardiger wat dieselfde materiaal gebruik, en hy is nie in Suid-Afrika nie,” sê Infanta se bestuurder, Jurie Swart.

Die duursaamheid en sterkte van die koolstofveselproduk is beslis goed vir ’n boswa, maar wat gewig betref, is die verskil merkbaar. Die Inkunzi, wat 750 kg geweeg het toe aluminium gebruik is, weeg met die nuwe materiaal slegs 420 kg. 

Destination

Destination is bekend vir sy luukser woonwaens wat meer op die bopunt van die mark gemik is, maar dié vervaardiger gaan binnekort ’n reeks bekend stel vir kampeerders wat hulle sente moet omdraai.

“Die materiaal wat ons in die binnekant van ons waens gebruik, word ’n PVC-kern genoem. Dit is basies ’n soort skuim wat uit Europa ingevoer word. Dit weeg 60 kg per kubieke meter en het ’n merkbare strukturele waarde. Die veselglasgelamineerde materiaal wat ons op die kant van ons waens gebruik, is ewe lig teen 600 g per vierkante meter. Ons gebruik dít omdat wedvaartseiljagte dieselfde materiaal gebruik. Dit is duursaam en lig, maar taamlik duur,” sê die eienaar, André van Helsdingen.

Destination sal voortgaan om op sy vier luukse modelle die PVC-kern tussen veselglasgelamineerde panele te gebruik, maar is van plan om ’n kleiner model in die meer bekostigbare deel van die mark bekend te stel. Hiervoor gaan hy ’n poliuteraan-materiaal gebruik wat plaaslik gemaak word.

Jurgens Campworld

Jurgens is die grootste en invloedrykste oorspronklike vervaardiger in Suid-Afrika, en die oorgrote meerderheid van sy waens het hout in die struktuur.

Die vervaardiger het egter die gebruik van hout dramaties verminder om in die pas te bly met die onlangse ontwikkelings in die bedryf. Die verminderde gebruik van hout is veral belangrik in ’n model soos die Gypsey Lite, wat lig genoeg is dat kampeerders wat nié ’n sleeprybewys het nie, hom kan haak.

“Die meubels in die Gypsey Lite is aansienlik ligter as dié wat ons voorheen gebruik het, en die dak ’n soliede struktuur. Ons het van baie van die hout ontslae geraak sonder om enige van die struktuur se krag prys te gee,” sê Ina Dreyer van Jurgens Campworld se bemarkingsafdeling.

Stealth

Stealth is ook een van die nuwer vervaardigers op die mark wat glo daar is min materiale wat kan kers vashou by sy panele wat bestaan uit polistireenskuim tussen twee veselglaslae.

“Dié kombinasie is baie belangrik. Eerstens gebruik die meeste Europese vervaardigers dit omdat dit sterk is sonder dat jy die kwelling van houtvrot het,” sê die eienaar, Garry Coady.

“Dit is ook nie nodig om raamwerke uit hout of aluminium te bou om die sypanele te ondersteun nie. Die kombinasie van polistireenskuim tussen twee lae veselglas is sterk genoeg dat dit nié ’n raam aan die binnekant nodig het nie.

“Die polistireenskuim is só ontwerp dat indien een deel water kry, syfer dit nie deur die hele paneel nie.” Die kombinasie is ook bestand teen ligte skade, maar as dit erg beskadig word, is dit volgens Garry maklik om te herstel en weer te verf, indien nodig.

“Prysgewys is dit duurder as ander materiale, maar jy betaal vir iets wat beter is as die ander produkte,” voeg hy by