Gerugte oor die 2018 Jeep Wrangler doen geruime tyd al die ronde, maar die skinderpraatjies het behoorlik vlam gevat toe ’n paar bladsye van die handleiding op sosiale media versprei is.

Fiat Chrysler het eers geswyg oor die foto’s, maar hulle het pas ’n amptelike aankondiging gemaak en boonop foto’s gelewer. Die mediaverklaring lees soos volg:

“Die mees bekwame Jeep-sportnutsvoertuig ooit is nou selfs meer bekwaam. Die moderne stilering bly getrou aan die legendariese, oorspronklike Jeep. Die enjin is egter kragtiger as tevore terwyl dit ook meer ekonomies is. Die dak verwyder makliker en daar is hope veiligheidsaspekte.

“Die nuwe Wrangler se unieke voorkoms, sierrooster en ronde hoofligte is dadelik herkenbaar. Die voorruit slaan maklik plat en daar is dosyne opsionele deure, dakke en voorruite om uit te kies.”

Wat ons uit die foto’s kan aflei is dat die voorruit inderdaad kan platslaan terwyl die A-pilaar steeds bly staan. Daar is ook ’n soort ventilasiegleuf teenaan die voorste modderskerm en luginlate op die enjinkap. Dit lyk ook of die Wrangler se deure en dak aansienlik makliker verwyder kan word as met die vorige model.


Lees nog nuusbrokkies uit ons Januarie-uitgawe hier.