Mitsubishi het by vanjaar se Tokio-motorskou twee elektriese konsepvoertuie bekend gestel wat ons oog getref het. Die Mitsubishi Mi-Tech gebruik vier elektriese motors om al vier wiele aan te dryf en ’n piepklein turbine om elektrisiteit vir die battery op te wek. Die turbine kan verskeie brandstowwe ontbrand, waaronder diesel, keroseen en alkohol. Die Mi-Tech sal waarskynlik nooit verby die konsepfase vorder nie en is bloot daar om ’n weg te baan vir toekomstige produksievoertuie.

MITSUBISHI MI-TECH
MITSUBISHI MI-TECH

Die Mitsubishi Engelberg Tourer staan ’n beter kans om die lig te sien, maar waarskynlik in ’n afgewaterde weergawe. Hierdie hibriede voertuig gebruik dieselfde aandrywingstelsel wat vir die Outlander PHEV (inprop- hibriede elektriese voertuig) ontwikkel is. Die aandrywingstelsel bestaan uit ’n 2,4 l-viersilinderenjin op die vooras en ’n elektriese motor op die agteras – nes die Volvo XC90 T8 wat in hierdie maand se ry-indruk bespreek word.

Die Engelberg Tourer sal blykbaar verder as 70 km op batterykrag kan ry en 700 km haal as jy die binnebrandenjin én elektriese motor gebruik.

Ford stel eersdaags ’n elektriese sportnutsvoertuig bekend wat op die Mustang gegrond is. Hoe dít gaan werk, sal ons graag wil sien, maar sy naam gaan waarskynlik die Ford Mach-E wees. Omdat hy in regterhandstuur beskikbaar is, sal die Mach-E moontlik ook hierheen kom.

Verlede maand het ons berig oor die Volvo XC40 Recharge wat volkome elektries is. Nou het Volvo aangekondig hulle sal een jaar se elektrisiteit vir jou nuwe Volvo borg – ’n aanbod wat ook in Suid-Afrika geld. Let wel, dis nét die elektrisiteit vir jou Volvo en nie jou hele munisipale rekening nie.

BMW IX3
HONDA EVERUS

Ander elektriese sportnutsvoertuie wat hierheen op pad is, is die Audi Q4 e-tron, die BMW iX3Kia e-Soul en Jaguar i-Pace.

Dan is daar ’n ooraanbod van stadskarre soos die Mazda MX-30, die Mini Cooper SE Electric, die nuwe Volkswagen Golf 8  die Audi A6 TFSI e 55 Quattro PHEV en verskeie Toyotas, Teslas, Hondas, ’n Citroën en Peugeot, en selfs ’n Mercedes-Benz of twee wat almal volgende jaar elektriese of hibriede weergawes kry.

Ons raad aan jou is om nou al planne te beraam om van jou brandstofaangedrewe voertuig ontslae te raak, want kort voor lank gaan hy geen herverkoopwaarde hê nie. Kom ons hou ook duime vas die regering kan Eskom regruk voordat dié vlaag van elektriese rygoed hier aanland.

VOLVO XC40 CHARGER
VOLVO XC40 CHARGER
TESLA MODEL X
TESLA MODEL X
MAZDA MX-30
MAZDA MX-30
INFINITY QX
INFINITY QX