Die Kaapse leser Nicus Malherbe deel sy praktiese gids (en ’n paar ongewone wenke) tot blommekyk.

“Ek wou nog altyd die blomme sien, maar het nie iemand gehad wat saam wil gaan kyk nie. En as jy op ander wag, gaan jy nooit iets doen of sien nie. Toe besluit ek eendag in 2015 ek gaan alleen – 600 km in een dag! Wat ’n visuele fees. 

Die volgende seisoen het ek toe ’n paar vriende Weskus- nasionale park toe gevat vir die dag. Die blomme was bittermooi daai jaar. Ek en ’n paar vriende beplan nou juis om die staproete daar in die nabye toekoms te doen.”

Wenke vir blomkykers:

1. Beplan. Lees jou Weg-tydskrif. Vind uit of die blomme al blom, wants dis ver om te ry vir niks. Maar moenie te veel beplan nie. Soms is dit ook orraait om maar net in die kar in te klim en te kyk waar jy uitkom. 

2. Padkos. Gekookte eiers, toebies en wors maak enige road trip die moeite werd. Dis lekkerder en goedkoper as padstalkos. Onthou stoele, ’n blomboek, ’n verkyker, glase en wyn – dis belangrik.

3. Onthou goeie musiek. As ek een stuk raad kan gee: 'n Paar goeie liedjies maak 'n gewone rit epies. Die natuur en die grondpad is reeds fenomenaal. Sit die regte liedjie by, en daai kombinasie raak hemels. 

4. Moenie jaag nie, dis nie nodig nie. Geniet die rit. Cruise control is 'n langpad bederf, gebruik dit. 

5. Kyk blomme van noord na suid. Blomgesigte is na die son gedraai in die dag. Dit werk goed, want son op jou rug is beter as son in die oog. 

6. Hou stil. As jy by 'n mooi blommetjie verby ry, stop en neem hom dadelik af – moenie aanneem daar gaan nog van daai soort om die volgende draai wees nie. Jy weet nie. 

7. Volg die padreëls. Maar ook nie te streng nie. As die bordjie sê slegs 4x4’s, en Gatiep kom alte vrolik oor die bergpas met sy geroeste 1971 Toyota Hilux-bakkie, moenie jou eie 2x4 se vernuf vlak kyk nie. Laestrek, ’n positiewe ingesteldheid en wit kneukels het al menige bergpas baasgeraak. 

8. Ry met oop vensters. Hierdie is veeldoelig. Dis blomtyd. Blomme ruik lekker. En daai gekookte eiers behoort ook al teen dié tyd deurgewerk het.

9. Stop en rek bene. Pak die kampstoele af, maak die wyntjie oop en sit en tuur oor die uitspansel. Dis nodig. Vriendelike mense stop dan ook en maak geselsies. 

10. Moenie tuisgemaakte gemmerbier in die ry probeer oopmaak nie. Dit werk nie. Jou kar gaan soos 'n nagklub se vloer ruik.

11. Moenie bekommer oor die motte en die dooie tor op jou voorruit nie – dit gee jou kar karakter. En jou bure gaan dink jy is hard core. 

12. As jy verdwaal, stop en vra. Die locals is vriendelik en hulpvaardig. 

13. In die grenslose wildernis – net soos in die lewe – is daar hekke om oop en toe te maak. Dis deel van die lewe. Doen dit net. Dit gee jou ook tyd om te pieps. ’n Stamperige pad word bes gedoen op 'n leë blaas. 

14. Vat die lang pad huis toe. Dit maak die wêreld se verskil.