Dis ’n feit, die slim ouens moet dit nog net empiries bewys: Stoepsit is noodsaaklik vir ons gesondheid. G’n wonder daar bestaan ’n boek met die naam Stoep Zen nie; “zen” verwys immers na ’n samehorigheid tussen liggaam, denke en siel – en daar’s min dinge wat jou hele wese kan laat bene rek soos ’n salige middag op ’n stoep. Soms kan ’n vertrek net te beklemmend wees, te benoud of te bedompig, en dan wil ’n mens uit. Maar buite is ook nie altyd die beste nie, want dis koud of donker of vol wilde dinge. Daarom is ’n stoep die perfekte middeweg – ’n ruimte waarheen jy kan ontsnap om ’n bietjie asem te skep, sonder om onveilig of sonder heenkome te voel.

Stoepe kom in allerlei gedaantes. ’n Strandhuisstoep het gewoonlik ’n uitsig, ’n ingeboude braaiplek en gestreepte rusbanke waarin jy kan wegsak. ’n Agterstoep het ’n swaai, varings in potte, ’n gekoekte tuinslang en ’n papegaai in ’n hok. ’n Kafeestoep het ’n kafeekat, vrolike sambrele en geblomde tafeldoeke. ’n Plaasstoep – my gunstelingstoep – het ’n sinkdak met diep skaduwee, ou rottangstoele en ’n nóg ouer hond, ’n paar ystervarkpenne en ’n glasasbakkie vol kameeldoringpeule en patroondoppies, die kruitreuk nog skerp in jou neusgate. En die draadtafeltjie van ’n ou tuinstel – die een poot ’n bietjie mank.

Die maak nie regtig saak hoe ’n stoep lyk nie, hulle almal laat jou dieselfde voel – welkom. Want ’n stoep is nie styf nie. Inteendeel, hier kan jy jou maar net so tuismaak soos die bougainvilleablare wat onder die ysterkateltjie inskarrel om daar, verbloem deur die mosterdgeel deken se fraiings, die skaaphond se verbleikte tennisbal te treiter. Skop jou skoene uit en gooi jouself ’n bietjie skuins op daai einste bedjie, so met die deken se een hoek oor jy voete getrek. Niemand sal snaaks van jou dink nie. Want ’n stoep is soos ’n ou vriend – julle is gemaklik by mekaar.

Die maak nie regtig saak hoe ’n stoep lyk nie, hulle almal laat jou dieselfde voel – welkom.

Elke stoep het ’n unieke persoonlikheid, maar elkeen is ’n spasie waar ’n lekker atmosfeer heers. En hoe meer ingeleef die stoep, hoe geselliger die stemming. Wie neem nou werklik aanstoot vanweë die krake in die sement of die stowwerige boekrakkie vol geskifte Caltex-haasplakkers? Die voosgegooide veerpyltjiebord met nog verlede Desember se toernooitelling in bordkryt daarnaas, die afgebreekte riempie in die bankie se sitplek, die miere wat aangestreep kom na ’n blerts appelkooskonfyt op die vloer... dit alles dra by tot dié kuierplek se karakter, tot ’n soort samesyn wat hier so moeiteloos gedy. G’n wonder ons is so lief vir stoepsit nie – hier kan elkeen net homself wees, want die stoep gee ook nie voor om iets anders te wees nie.

’n Stoep is ’n goeie keuse as jy geselskap soek, selfs al kom sit jy alleen hier. Want kort voor lank sal ’n hond met sy ken op jou knie kom staan en dan met veelseggende bewegings van sy wenkbroue met jou in gesprek tree. Of ’n kat sal al skurend teen die muur langs aankom en maak of sy jou nie sien nie, maar tog vertoef. Party stoepe het ook die lekkerte van ’n paar vet geitjies wat rondom die lig sit en muggies jag, of ’n swaeltjienes waaruit ’n stuk of vier kuikens met wydgerekte geel bekke gil vir kos.

’n Stoep sal ook altyd iets te doen oplewer as jy ongedurig voel – veral ’n plaasstoep. Hier lê gewoonlik iets rond wat aandag kort: ’n uitmekaargehaalde dompelpomp of deurslot, ’n halfklaar hekelwerkie, aartappels in ’n skotteltjie water wat geskil moet word, of ’n paar vismotgevrete eksemplare van Landbouweekblad of Reader’s Digest-boekies waarvan die blokkieraaisels nog nie klaar ingevul is nie. Ja, op ’n stoep kan bykans enige ding rondlê. Alles behalwe kwaadgeld.

Een of ander tyd sal die sifdeur piep en weer toeklap soos die ander huismense ook ’n bietjie kom stoepsit. Weldra volg ’n skinkbord rooibostee (en as dit op die verkeerde hoek van die draadtafeltjie neergesit word, stort ’n bietjie altyd uit) en dan die stories.

Want selfs al sit ’n klomp vreemdelinge saam op ’n stoep, sal hulle altyd iets kan vind om oor te gesels: Daardie springbokhorinkies – Oupa het altyd sy hoed daaraan opgehang wanneer hy middagete van die lande af kom. Dié malva darem. Wee’ jy, dis vandat die geut verlede winter verstop was en so oorgeloop het dat hy nou hier opslaan. En hy kom mooi aan, ook darem met so min tevrede. Ja, daardie skilpaddoppies... die kraaie maak mos só, pik die ou kleintjies uit, jy kan maar kyk: onder hulle neste lê die wêreld besaai. Dié kateltjie ontdek ons mos die anderdag op die solder – ek het al skoon van hom vergeet en was verbaas dat al die stukke nog daar was. Gits! Kan jy onthou wanneer laas ons nog perlemoen mag geduik het? Kyk net hoe groot was hul skulpe daai jare, nè!

Ja, ’n stoep word maklik ’n neersitplek vir dinge wat nêrens elders hoort nie. Maar ’n stoep wys ook niks of niemand weg nie, dit akkommodeer alles en almal. Vir kleuters is dit ’n speelplek op ’n reëndag, vir ’n boer ’n dinkplek as die reën wegbly. Dis die hart van die partytjie op Oujaarsaand en ’n binnekamer vir ’n ma se verlange wanneer die koshuis haar kinders weer op ’n Maandag-oggend insluk. ’n Stoep is romanties genoeg vir ’n vrytjie vang, en ook gewigtig genoeg vir ouers vra. Dis ’n biegstoel, ’n spreekkamer, ’n hoekie vir lê en lees of laatnag ’n dampie slaan. ’n Stoep hoor gesprekke aan sonder om sy opinie te lug, en hy bewaar almal se geheime. Dis hoekom dit ook veral gesond is om ’n bietjie te kom stoepsit op daardie dae wanneer jou oë aanhou wasig raak en jy net alleen wil wees.

’n Stoep hoor gesprekke aan sonder om sy opinie te lug, en hy bewaar almal se geheime. ...

Almal verstaan dié behoefte – hulle sal jou nie hier kom hinder nie. Sulke tye werk ’n stoep saggies met ’n mens. Eers skuif die sonnetjie styf langs jou in en skud sy kniekombers ook oor jou skoot oop. Dis nie lank nie, dan voel jy sommer van kop tot tone vertroetel.

Daarna raak jy bewus van die sifdeur wat al weer van sy hakie af gewip het en nou liggies teen die deurkosyn klop, of die rivierpadda in die klammigheid onder die malvabos wat sy tongetjie sit en klik, en jou warboel gedagtes val by ’n stadiger ritme in. En uiteindelik, as jy met jou troebel oë nikssiende staar na waar duiwe van die telefoondrade aftuimel, of die ooie doer teen die rantjie langs aankom kraal toe, voel jy mettertyd weer nader aan en meer deel van ’n groter prentjie.

Ek sweer: Dis net ’n kwessie van tyd voordat stoepsit as ’n vorm van meditasie erken word. Of deur dokters voorgeskryf kan word: Stoepsit x 2 daagliks na ete. Tot tyd en wyl neem ek maar gereeld na goeddenke ’n dosis vitamien S.