Maar die woorde sou hulle nie self skryf nie, en dit was tyd om my in die kantoor neer te plak en dit af te handel. Die pad na my rekenaar het egter intussen in ’n hindernisbaan ontaard: stapels boeke, hope papiere, leë koffiebekers en selfs ’n opgestopte nonnetjiesuil.

Soos baie van hulle oorkom, het dié arme uil ook voor ’n motor beland. Ná sy dood het hy egter ’n nuwe lewe gekry in opvoedkundige uitstallings en as model vir illustrasiewerk. Hy het selfs al ’n paar kameeverskynings in YouTube-video’s gemaak!

Teen hierdie tyd is die uil al ’n bietjie verrinneweer, maar dit bly ’n mooi voël. En wanneer die kinders my kantoor oorneem, wil hulle altyd met die ding speel – totdat sy vlymskerp naels hulle oortuig dat Lego die beter opsie is.

Wat presies maak ’n uil met sulke moorddadige kloue dood? Wel, danksy kompakte databondeltjies genaamd braakballe, weet ons presies wat ’n uil se gunsteling-peuselhappies is. Wanneer ’n uil klaar gevreet het, bring hy die onverteerbare dele van sy prooi in ’n saamgeperste knolletjie op. Dit bevat gewoonlik hare, bene, tande, vere en eksoskelette.

Let maar op wanneer jy weer op ’n uilnes afkom: Aan die onderkant sal van hierdie braakballetjies lê. Tel ’n paar varses op as jy nie te veel gril nie, week dit saam met ’n bietjie ontsmettingsmiddel in water en pluis dit met ’n knyptangetjie uit. Dis minder walglik as wat dit klink, en die resultate sal jou boei.

Sowat 80% tot 95% van die nonnetjiesuil se braakballe bevat oorblyfsels van nagdiertjies soos muise, rotte, spitsmuise en molle. Navorsers het al dié vondste ingespan om die omvangsgebiede van skaars knaagdierspesies te dokumenteer, en selfs ’n nuwe soort gouemol is al op dié manier ontdek. Maar nonnetjiesuile is opportunistiese vreters: as ’n voëltjie, reptiel, padda of insek verbykom, sal hy ook ingesluk word.

Ek het al gesien hoe een met indrukwekkende lugtoertjies teen skemeraand vlermuise jag.

Getty Images

Uile jag met ’n hele arsenaal wapens. Die meeste spesies kan – danksy vlugvere met sagte rafelrande – geruisloos vlieg. Boonop vlieg hulle nogal stadig, wat maak dat parate muisoortjies gewoonlik te laat uitvind dat ’n uil luglangs nadergesluip kom. Uile se groot, buisvormige oogballe stel hulle in staat om in swak lig te kan jag.

Maar die uil se spesiale wapen is sy uitstekende gehoorsintuig. Sy vermoë om klank te hoor is min of meer gelykstaande aan ons s’n. Maar anders as ons, kan uile vasstel presies waarvandaan ’n klank kom. Daai kiertsregop “ore” bo-op heelwat uilspesies se kop is eintlik vereklossies en het niks met hulle gehoor uit te waai nie.

Uile en ander voëls se ore is bloot gate in die kante van hulle skedel, gewoonlik bedek met ’n paar vere. En die oorgate van die nonnetjiesuil is asimmetries; die een sit dus hoër as die ander. Gevolglik hoor die uil se ore ’n klank op ietwat verskillende oomblikke, wat hom dan in staat stel om die oorsprong van die geluid noukeurig te bepaal. Verder dien die stywe, hartvormige verekrans op die nonnetjiesuil se gesiggie as ’n satellietskottel wat klank versterk.

Dit laat armsalige diertjies wat snags rondskarrel met net ’n skrale kans om te ontsnap. Dink net hoe bloedstollend klink die nonnetjiesuil se gekrys vir hulle!

En vir mense ook. Hierdie grieselrige klank het waarskynlik aanleiding gegee tot menige mens se wantroue in uile.

Maar eintlik is uile boeiende voëls en hulle speel ’n groot rol in plaagbeheer. In die vet jare skiet knaagdiersyfers gewoonlik die hoogte in. In antwoord hierop broei nonnetjiesuile dan vir die beker. Waar een wyfie in ’n gewone jaar gemiddeld ses eiers lê, kan sy in ’n bloeityd tot 19 lê!

Die teenoorgestelde is ook waar: In die maer jare hou sy haar in en broei soms glad nie.

Wanneer dit by neste kom, is die nonnetjiesuil nie kieskeurig nie. Enige holtetjie of spleet sal deug.

In die veld broei hulle gewoonlik in grotte, hol boomstamme of ou hamerkopneste, maar in beboude gebiede sal jy hulle neste bo-op dakke, skoorstene en watertenks sien en selfs in myne en op groot masjinerie.

Geboude en goed geplaaste uilkaste word gou ontdek. Ons het eens ’n vakansiehuis by die Vaalkopdam buite Pretoria gehad en ’n broeipaar het daar hulle intrek in só ’n uilkas geneem. Ek het gedink dis fantasties wanneer muisgeraamtes gaste op die voorstoep welkom heet, maar my ma het nie saamgestem nie...

As een van die min voëlsoorte wat bykans wêreldwyd voorkom, is die nonnetjiesuil ongetwyfeld een van die mees aanpasbare en suksesvolle uilspesies – én een van die dominantste nagjagters. Wanneer jou nekhare weer een donkeraand orent vlieg van daardie spookagtige roep, hoop ek dit is nie van vrees nie, maar eerder verwondering.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook