Die skoenbekooievaar het ’n ietwat... ongewone noemnaam. Boonop is sy wetenskaplike naam Baleaniceps rex, wat koningwalviskop beteken...en as jy na ’n foto van hom kyk, sien jy sommer gou waar sy komieklike name vandaan kom.

Om een in lewende lywe te sien moet jy ’n grenspos oorsteek. Die onmiskenbare groot grys voël met sy skoenagtige bek kom voor in groot vleilande en moerasse van Soedan tot Zambië – laasgenoemde die naaste plek vir Suid-Afrikaners om een te sien. Maar moenie sirkustoertjies verwag as jy een te siene kry nie. Onthou, Walviskop weet nie hoeveel moeite dit gekos het om by hom uit te kom nie.

Die mannetjies en wyfies wei dikwels aan teenoorgestelde kante van hulle gedeelde gebied; die kanse is dus goed dat jy net een op ’n slag sien. Die voëls staan ook vir lang rukke doodstil terwyl hulle wag vir die prooi van voorkeur, longvis, om binne trefafstand te kom.

Die nes, ’n grasstruktuur bo-op drywende plante of klein eilandjies, kan tot 3 m breed wees en is diep weggesteek in die papirusmoerasse. ’n Wyfie lê maksimum twee tot drie eiers, maar net een kuiken oorleef tot volwassenheid. Net soos by party arendsoorte val die oudste kuiken sy jonger boetie of sussie wreedaardig aan. Dit is Kainisme (genoem na die Bybelse Kain wat sy jonger broer, Abel, vermoor het). Die rede is waarskynlik dat die eersgeborene dan al die kos kry en dus die beste kans op oorlewing het.

Skoenbekooievaars is nie volop nie – daar is ’n geskatte 8 000 van dié voëls oor in die natuur. En hulle oorlewing word bedreig deur onder meer habitatvernietiging of -versteuring, die verbouing van vleilande vir landbou en selfs mense wat hulle in strikke vang om mee handel te dryf. Dit is dus elke sent werd om na hierdie unieke voël te gaan kyk. Pak net ’n longvis in as jy ’n bietjie aksie soek.