Een leser was besorg oor die uitwerking van ’n namarkse produk soos ’n bosbreker op ’n voertuig se veiligheidsgradering, terwyl ’n ander eerstehands ervaar het hoe sy kar se lugsakke nie ontplooi het nie toe hy in ’n ongeluk betrokke was.

Hy het gewonder of die kar se versterkte bufferstaaf moontlik die rede daarvoor kon wees. Cyril het eers by die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) probeer aanklop om hulp rakende Suid-Afrikaanse riglyne, maar dit wil voorkom of die mense daar besef met watter warm patat ons besig is, en hy is van die een mens na die ander na die volgende verwys – tot daar uiteindelik niemand meer oor was na wie hy verwys kón word nie.

Hy het ook met die vervaardigers van motors en veldrytoebehore gesels om agter die kap van die byl te kom, en die storie gelewer minute voor ons by die drukker moes wees. Maar dit was die wag werd.

Dis ’n insiggewinde artikel wat ons almal aandagtig moet lees. Ek wil selfs so ver gaan om te sê dit het die potensiaal om ’n katnes oop te krap. Ja, dit maak sin om jou 4x4 toe te rus vir die beste moontlike veldry-ervaring, maar weet jy wat die gevolge is as jy met nie-standaardonderdele op jou voertuig ry?

En nee, ons praat nie net van die waarborg nie. As dit by bosbrekers kom, is die landskap wêreldwyd besig om te verander, en op vele plekke word dit al verbied. Dis nie vergesog nie om te dink dit kan dalk ons voorland ook wees. In dié stadium is daar net te veel aspekte waaroor bloot skouers opgetrek word.

Ek dink daar is ’n verantwoordelikheid by elkeen van ons om ten minste met motorvervaardigers te gesels oor die toerusting op ons veldryers. Vind uit of dit binne die riglyne is wat hulle voorskryf, en as dit nie is nie, maak asseblief ’n plan om iets aan die saak te doen.

Veilige reis!