Dis 3.30 vm. toe ek indraai by die vulstasie op Humansdorp. Terwyl ek uit die kar klim, herinner my rug my dat my veertigs nader kruip. Christina Aguilera laat waai op die radio. Blykbaar net vir my, aangesien almal anders aan die slaap is: my vrou, twee kinders, én die nagskofpetroljoggies.

“Hoekom doen ek dit?” wonder ek. ’n Paar uur gelede het my foon gebiep. Die boodskap het my in ’n koue sweet laat uitslaan: “Moontlike Upcher’s warbler by Tankatara-soutpanne, buite Port Elizabeth.” Al ons planne vir die res van die week is onmiddellik opsy geskuif. Dié voëltjie is nog nooit in Suider-Afrika aangeteken nie; dus ’n splinternuwe een vir die voëlboek. Vir ’n kranige voëlkyker is daar niks meer opwindend nie!

Die boodskap het my in ’n koue sweet laat uitslaan: “Moontlike Upcher’s warbler by Tankatara-soutpanne, buite Port Elizabeth.”

Met behulp van Christina se hoogste note kry ek die petroljoggie wakker en die tenk weer vol. Dis nog sowat 100 km se ry en die son gaan binnekort opkom. Toe ons uiteindelik by die onopvallende soutpannetjie aankom, staan daar reeds ’n string karre. Almal is hier om dieselfde rede. Ek herken die helfte van die vaak maar opgewonde gesigte. Die vreemdelinge word dadelik aanvaar as spanmaats in die soeke na ons vaalbruin teiken. Die soektog is kort, en die verdwaalde sangertjie werk mooi saam.

Onbewus van die kameralense en verkykers wat elke beweging dophou, hop meneertjie in bossies rond op sy soektog na muggies.

Om so ’n swerwer na te jaag is in voëlkyktaal bekend as twitching. Daar is ’n goue reël as dit by dié adrenaliensport kom: Hoe vinniger jy daar kan kom, hoe beter is jou kans om die voël te kry. Dis hoekom twitchers deurnag reg oor die land in ’n motor jaag en soms selfs met Kulula-myle.

Dis ’n eienaardige gevoel: Hoe langer jy wag, hoe meer stresvol word die hele ding. As jy dan jou teiken onder oë kry, word jy oorval met ’n intense gevoel van verligting en genoegdoening.

Dit gebeur gereeld dat die plan misluk. Die ry, geld en vroeg opstaan was vir die wind en dit maak jou sommer lus om jou verkyker in die see te gooi.

In die geval van die sanger by Tankatara was daar ’n ander struikelblok. Hierdie klein vaal voëltjie (KVV) is besonders moeilik om uit te ken van sy nefies. Kenners van reg oor die wêreld het aan die stry geraak. Foto’s is in forensiese detail ondersoek. Klankopnames is ontleed. Daar is gewik en geweeg, en alle moontlike variasies van alle moontlike opsies is ondersoek.

Maar ja, die amptelike BirdLife Suid-Afrikaanse Rariteitekomitee (ja, daar is so iets) het besluit: Upcher’s Warbler.

Die volgende uitdaging: ’n Afrikaanse naam. Dié skugter meneer gaan waarskynlik bekend staan as die vaalspotsanger. Ek meen “verdwaalde sanger” of “populêre sanger” sou meer van pas wees.

Party mense frons as hulle hoor jy is ’n twitcher. Maar dit gaan oor baie meer as om net nog ’n regmerkie op jou lys. Jy is deel van ’n stuk geskiedenis. Jy skep ’n storie waarmee jy nog talle ander voëlkykers jaloers gaan maak om ’n kampvuur. En as hulle die volgende uitgawe van die voëlboek publiseer, kan jy met trots na daai kruisie op die verspreidingskaart kyk, en dink: “Ek was daar.”

Ek sou niemand aanraai om haastig te wees om ’n lewenslys te voltooi nie. As jy eers by 700 of 800 is, is die enigste moontlike nuwe lifers verdwaalde swerwers soos dié. En ek is nie seker of my kredietkaart of my rug dit veel langer gaan hou nie. (Daar is sowat 950 voëlspesies in Suider-Afrika en Faansie se lys staan al op 865. – Red.)