“Hier’s ’n slang in die tent,” het my skoondogter bedaard aangekondig. Almal het na haar gekyk, maar niemand het gereageer nie. “Hier’s regtig ’n slang in die tent. Glo julle my nie?!”

Ek het opgestaan en gekyk.

Sowaar, daar lê hy, opgekrul in die hoekie. Hoe nou?

Ons is by Sunday-pan in die Sentraal-Kalahari, kampplek 2. My seun, Carel, het Ta met een allemintige veeg 5m uit die tent gevee. Maar toe draai daai pofadder om, terug na sy lêplek toe. Net bo sy kop in die bosse het die koringvoëls gesit, en hulle het beurtelings vir die slang vertel waarheen hy moet gaan en vir ons wat ons moet doen. Dit was duidelik die slang gaan nie na hulle luister nie en ons was beslis nie van plan om dit toe te laat nie.

Carel besluit toe sy nr. 3-pot moet die ding doen. Die slang is met die besem vasgedruk, die pot skuins gehou met die deksel soos ’n skild voor en skuins oor die pot, en soos almal gehoop het, het die slang besluit dis ’n beter lêplek as waarheen hy op pad was.

Met die deksel stewig op die pot het ons so 4 km verder die ou gaan aflaai. Pot skuins, weg van ons af, deksel af, en daar lê hy, opgerol soos ’n dik boerewors. Ons moes die pot omkeer, en soos hy uitgerol het, het hy bly lê. Ons het hom vrygelaat in dieselfde soort bosse as wat om ons kamp was.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #32 (Junie 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.