Etienne Terblanche van Durbanville skryf:

Ons het in 2018 die Karoo- nasionale park se oudste leeumannetjie, Bitterbal (pa van die bekende Sylvester), by een van die skuilings gewaar. Hy het aan ’n bergskilpad gekou.

Sowat ’n uur en ’n half later kom nog ’n bergskilpad aangestap, direk na die leeu toe. Eers toe die skilpad sy kop ’n paar keer teen die leeu se agterlyf gedruk het, het Bitterbal omgekyk. Maar hy het bloot aanhou vreet. Die skilpad gaan sit toe styf teenaan die leeu. Toe die leeu klaar is en die laaste stukkie vleis uit die dop lek, het hy opgestaan en water gedrink. Daarna het hy omgedraai en met sy bolyf op die tweede skilpad gaan lê.

Later het hy dié skilpad in die water gegooi, opgetel en begin vreet, so al asof hy eers die dop soos ’n stukkie beskuit wou week. Bitterbal het aan die tweede skilpad gesmul en toe later tussen die bome verdwyn.

Daar het stilte geheers in die skuiling – ek dink almal was verward oor die skilpad se gedrag.

Later het hy dié skilpad in die water gegooi, opgetel en begin vreet, so al asof hy eers die dop soos ’n stukkie beskuit wou week...
foto
Foto: Etienne Terblanche
foto
Foto: Etienne Terblanche
foto
Foto: Etienne Terblanche

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord: Dié gedrag is nie iets wat ’n mens aldag sien nie en dit laat meer vrae as wat daar antwoorde is. Dit is bekend dat bergskilpadmannetjies mekaar stamp en probeer omdop om dominansie te kry.

Hulle stamp en byt ook die wyfie om haar aandag te kry. Dié skilpad se gestamp aan die leeu kan wees weens dié aggressiewe gedrag. Die leeu het nie wegbeweeg nie en dalk ook nie “reg” gevoel nie en die skilpad het nie geweet hoe nou nie, en word toe Ta se tweede gang.

Twee ander voorbeelde van dié gedrag: ’n Groot ou bergskilpad in die Addo-olifant- nasionale park het onder motors ingeloop en hulle opgelig – vandaar sy naam, Domkrag!

By die Khamkirri-kampterrein langs die Oranjerivier het ’n bergskilpad gereeld koelbokse, gasstowe en selfs tente in die rivier gestoot. Indien iemand die betrokke voorwerp vashou, sou hy ná verskeie probeerslae net daar staan, net soos die skilpad wat Etienne gesien het.


*Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #173 (Maart 2019) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.