Twee spesies algemene kom in Suider-Afrika voor – die gewone en die swart vylslang. Maar jy gaan nie een van hulle sommer te sien kry nie; vylslange is geheimsinnig en skuil die meeste van die tyd ondergronds. Hulle kom in die somer gewoonlik snags uit om te jag. 

Vylslange het nie gif nie en is heeltemal onskadelik. In sommige Afrika-kulture word hulle selfs as gelukbringers beskou en wanneer só ’n slang sy opwagting maak, volg geluk glo kort op sy hakke. (Of is dit nou stertpunt?)

Selfs sonder gif is die vylslang egter steeds ’n gedugte jagter wat alles van klein soogdiere, paddas en akkedisse tot ander slange vang – selfs die giftige soorte soos pofadders! Die vylslang byt sy prooi vas, oorweldig dit met brute krag en sal dit soms nog lewendig begin insluk. 

Soos in die geval van ander slangvretende slange (dié lysie sluit kobras en sommige sandslange in) wil dit voorkom asof die vylslang immuun is teen ander slange se gif. Indien die slang wat hy gevang het hom tydens die geveg wat volg pik, lyk dit nie asof dit enige uitwerking op die vylslang het nie. 

Die gewone vylslang kan tot 2 m lank word terwyl die swart vylslang ’n kleiner spesie van sowat 65 cm lank is. Dié outjie sal af en toe ’n slang vang, maar verkies eerder kleiner prooi soos akkedisse en paddas.

Albei spesies is rustige diere wat selde byt – selfs nie eens wanneer ’n mens hom die eerste keer hanteer nie. Maar wees gewaarsku: Vylslange het ’n muskusklier naby die agterent en hy mag jou dalk net met ’n walglike stank besmeer wat nie sommer maklik afwas nie!

Gaan na africansnakebiteinstitute.com as jy meer van die vylslang wil weet, en laai die gratis slimfoon-app ASI Snakes af.  

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook