Skets: Fred Mouton

In 2015 het ek al my besittings verkoop behalwe twee rugsakke en ’n kitaar. Die plan? Om ’n reisblog te begin. In 2016 het ek die eerste keer in Malawi geland en verlief geraak op dié plek en sy vriendelike mense. Toe ek in 2017 die geleentheid kry om weer te gaan het dit nie veel oortuiging geverg nie.

’n Busrit is nie die gerieflikste manier om tot in Malawi te reis nie, maar dit bied ’n unieke reiservaring vir ouens soos ek wat met ’n klein begroting moet klaarkom.

’n Kitaar moet jy egter mooi oppas: Sorg dat dit altyd laaste ingepak word sodat dit bo-op ander bagasie lê, en koop ’n stewige kitaarsak. Musiekmaak is een van die belangrikste dinge in my lewe. My reise is dikwels onbeplan, en wie weet, dalk moet ek iewers ure verwyl terwyl ek vir ’n bus wag. Kitaarspeel is ook ’n morele opkikker vir wanneer dinge swaar gaan.

Noord van Johannesburg begin my sitvlak reeds pyn (dis drie dae se sit van die Kaap tot in Malawi) en my oë knip-knip van die vaak. Maar mettertyd word ek hipnoties meegesleur deur die bewegende wêreld wat soos ’n (baie lang) fliek buite die busvenster verby beweeg.

Hier is ’n hengse tekort aan “drama” in Malawi, en dis een van die goed wat my die meeste aantrek omtrent die land.

Die bus stop selde, en die kajuit het my wêreld bínne die wêreld geword. Toe ek my bestemming met ’n stram lyf en geswelde voete bereik, voel ek oorweldig deur dankbaarheid – ek is veilig.

Skielik staan ek in ’n anderster wêreld. Mzuzu is in die noorde van Malawi en lê hoog bo seespieël. Dit is reënerig en koud met my aankoms, maar ek bly net ’n paar uur voor ek die 50 km aflê na Nkhatabaai. In dié kort entjie verander die temperatuur drasties namate jy afdaal na die kusstrook langs die Malawimeer. Wanneer ek my tone in die sand langs die meer wikkel, staan ek lank reeds in ’n somerhemp met ’n kortbroek en ’n koue bier in die hand.

Ek voel gelate, ontspanne, vrý. Hier is ’n hengse tekort aan “drama” in Malawi, en dis een van die goed wat my die meeste aantrek omtrent die land.

’n Paar weke later neem ek die veerboot van Nkhatabaai tot op Likoma-eiland waar ek beplan om te gaan werk op ’n bouperseel wat besit en bestuur word deur ’n man genaamd Andrew Cama. Ek het van Andrew en Likoma te hore gekom by ene Skanky, bestuurder van die Kande Beach Resort naby Nkhatabaai, waar ek ’n wyle vertoef het. Skanky het my vertel van sy vriend Andrew wat die afgelope 20 jaar al lodges op Likoma bou.

Likoma is geleë in die ooste van die meer en naby die Mosambiekse oewer. Om die eiland te bereik kan jy een van twee veerbote vat, die Ilala (wat al sedert 1951 op die water is) of die Chilembwe (wat in 2014 begin diens doen het).

Op die Ilala voel dit asof jy deel is van ’n lewende museum. Dis ’n tipe reiservaring wat elders lank reeds geswig het voor die aanslag van modernisering.

’n Klein bootjie neem my van die Nkhatabaaihawe tot waar die Ilala in die skemergloed op haar passasiers wag. Dis ’n gewerskaf soos mense en goedere gelaai word. Sodra ek deur helpende hande tot op die onderste vlak van die Ilala getrek word, word ek omring deur ’n maalkolk van mense. Die skip is volgepak met enigiets van potte en panne tot drank, sigarette, vrugte, boumateriaal en gedroogde vis.

Op die Ilala voel dit asof jy deel is van ’n lewende museum. Dis ’n tipe reiservaring wat elders lank reeds geswig het voor die aanslag van modernisering.

Dis ’n oornagrit en ek kan kies tussen ekonomiese klas, tweede klas, eerste klas (top deck) of kajuitklas. Ek het nie die begroting vir kajuitklas nie; dus vat ek die top deck-opsie wat beteken dat ek die aand in my slaapsak onder die sterre deurbring. Ervare passasiers slaan sommer ’n tentjie op, want ten spyte van die warm Afrika-klimaat op land raak dit snags bitterkoud op die meer.

Likoma is sowat 7 km by 3½ km groot; als is dus binne stapafstand. Ek lê die 4 km af van waar ek aan land gaan op Likoma tot waar Andrew besig is om lodge te bou. In 1989 was Andrew op die avontuur van ’n leeftyd. Die plan was om duim te gooi van Kaapstad tot in Kaïro. In die suide van Malawi het hy op die Ilala geklim saam met ’n paar ander toeriste, almal onderweg na Nkhatabaai in die noorde.

“Maar ek het nie deur Afrika gereis net om ander toeriste te ontmoet nie,” vertel Andrew, “en op pad, net voor sonsondergang, het die boot anker gegooi by hierdie pragtige eiland.”

Hy het besluit om af te klim, en op die derde dag het hy die strand van sy drome ontdek. Hy het ook verlief geraak op die plek en sy openhartige mense.

In my maand hier is my kwartiere ’n tentjie, opgeslaan onder ’n afdak enkele meters van die meer af. Dit was perfek. Soms, as ek laat in die nag wakker word, kon ek hoor hoe die vissermanne hulle nette iewers naby intrek. Deur die “dak” van die byna deursigtige tent lê en tuur ek vir ure na die miljoene sterre wat die planeet se koepel verlig.

Dit is ’n absolute voorreg om my nagte so te kan deurbring.

Deur die “dak” van die byna deursigtige tent lê en tuur ek vir ure na die miljoene sterre wat die planeet se koepel verlig.

Elke oggend sesuur daag die ander werkers op. Andrew groet elkeen op die naam en lê die dag se take uit.

Dis nie maklik om ’n lodge hier te bou nie, maar dié is Andrew se derde bouprojek op die eiland – hy het dus al ervaring opgedoen. Dienste en materiaal wat Suid-Afrikaners as vanselfsprekend sou aanvaar, is skaars of totaal afwesig in Malawi, vergeet nog van op die afgesonderde Likoma-eiland (onthou: byna als moet met die Ilala hierheen verskeep word).

Die pas van die bouwerk is stadig maar konstant. Ou mokoro’s word uitmekaar gehaal en deur houtwerkers omskep in die struktuur wat uiteindelik die kroeg-en-kuierplek sal word. Vroue stap met silwerkleurige emmers vol oewersand op hulle kop gebalanseer na waar dit benodig word. Twee manne maak stene uit sement en klip. Dis ’n streslose en vreedsame proses, en almal is in ’n goeie luim. Nooit word daar geskel nie. Niemand verloor hulle humeur nie, niemand hoef aangepor te word nie.

In die eerste week doen ek vir die tweede keer in ’n maand malaria op. Dae lank rol ek lusteloos rond in my tent terwyl Mandy (die matriargale kampopsigter) ’n ogie oor my hou.

Toe die koors een aand breek, kan ek vir die eerste keer in dae ordentlik eet. Uit vreugde tel ek toe my kitaar op en sing vir Andrew en ’n Duitser genaamd Mike van my liedjies. Dit was ’n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie: Wanneer ek myself op ’n unieke plek bevind, met die regte kombinasie van natuurlike skoonheid en goeie mense rondom my, dan loop die emosie direk kitaar toe. Sulke tye is soos genade uit die hemel.

Kort daarna is Andrew vort na Engeland, en ek het vir nog 2½ weke in vrede en vreugde op die eiland vertoef.

‘Likoma-eiland is een van daai plekke wat jy per ongeluk ontdek en óf op versot raak óf nooit weer sal besoek nie.’

“Die stadslewe werk nie vir my nie,” het Andrew my een aand voor sy vertrek vertel. “Dis te veel van ’n kompromie. Die lewe in die stad is betekenisloos. Hier word ek omring deur die natuurskoon en die mense van die eiland; dit laat my hart sing.”

Ek deel sy sentiment. Ek het velang na Malawi die oomblik toe ek verby Beitbrug weer op Suid-Afrikaanse bodem land.

Likoma-eiland is een van daai plekke wat jy per ongeluk ontdek en óf op versot raak óf nooit weer sal besoek nie. Nie almal gaan daarvan hou nie, maar as jy waarlik wil ontsnap en afstand tussen jou en die alledaagse gejaag wil hê, is dit dalk net die plek vir jou.

Volg Chris se avonture hier: