Grenstariewe

Jy kan in rand ook betaal, maar sorg dat jy kontant het. 

Voertuig: R259; waentjie of woonwa: R165.

Dinge wat jy moet hê

Paspoort Dit moet vir nog ses maande of langer geldig wees ná jou vertrekdatum uit Namibië en moet minstens twee skoon bladsye hê.

Sertifikate Kinders jonger as 18 moet ’n volledige geboortesertikaat hê om die grens oor te steek.

Rybewys Jou Suid-Afrikaanse een is geldig in Namibië – hou dit byderhand.

Voertuigregistrasiedokumente Afskrifte van hierdie dokumente is voldoende. Onthou ook die dokumente vir jou sleep- of woonwa.

Magtigingsbrief As jy nog aan jou kar afbetaal, moet jy ’n brief van die bank hê wat jou toestemming gee om die kar oor die grens te neem. Indien jy iemand se ryding leen, moet jy ’n ondertekende toestemmingsbrief van daai persoon kry. Dié brief moet die kar se registrasienommer, die eienaar se naam en ID-nommer, asook sy woonadres, toon. Die spesifieke datums wat jy in die land gaan wees, moet ook aangedui word.

Noodtoerusting Minstens een nooddriehoek per voertuig.

ZA-plakker Ja, geplak agterop jou voertuig.

’n Skryfding Nie ’n moet nie, maar jou eie balpuntpen bespoedig papierwerk aansienlik.

’n Glimlag en ’n bietjie geduld Onthou, die doeanebeampte agter die toonbank kan jou langverwagte vakansie net hier kortknip – wees vriendelik.

Foto: Francois Haasbroek

Papiere en Kure

Visum Suid-Afrikaners mag vir 90 dae sonder een in Namibië vakansie hou.

Inentings Dis nie verpligtend nie, maar kry liefs vooraf jou geelkoors-, hepatitis A- en klem-in-die-kaak-inentings.

Malaria Tref voorsorg as jy in die natter noorde gaan draai.

Mediese versekering Dis altyd ’n goeie idee.

Kos- en doeanemaatreëls

VLEIS Elke persoon in jou kar mag 25 kg vleis (bees, skaap, of wild) Namibië inbring. Jy mag tans 25 kg rou hoendervleis per persoon na Namibië neem. As jy terugkom SA toe, mag jy 10 kg biltong en 25 kg rooivleis per persoon terugbring. (Jy moet ouer as 12 wees om vleis te “dra” en net drie mense per voertuig mag vleis vervoer.)

As jy via Botswana terugreis na SA, verminder die hoeveelhede van 25 kg per persoon tot 25 kg per voertuig. Jy benodig ook ’n brief van die boer wat die vleis verskaf het. Jagters kort ’n uitnodiging van die plaaseienaar as hulle gewere oor die grens vat. Jy kan 500 kg rou vleis en 100 kg biltong oor die grens terugbring solank jy ’n jagpermit en ’n Suid-Afrikaanse veeartseny-invoerpermit (R157, prys styg einde Maart) het vir hoeveelhede wat meer is as 25kg ( 0123197514).

Geen varkvleis mag oor die grens gaan nie.

LET WEL: Hierdie maatreëls verander ook soms op kort kennisgewing.

VIS Jy moet ’n permit koop (R505) by die Suid-Afrikaanse departement van visserye (0214023634) as jy vis (tot 30 visse toegelaat) wil terugbring.

GESKENKE, DRANK EN SIGARETTE

Geskenke van tot R200 werd en persoonlike artikels is doeanevry. Jy mag per persoon die volgende oor die grens Namibië toe saamvat: twee kartondose sigarette, 50 sigare en 250

g tabak; 2l wyn en 1l hardehout of ander drank; 50ml parfuum en 250ml eau de toilette.

Jy mag nie braaihout of mieliemeel oorneem nie. Jy mag ook nie klippe in Namibië optel en huis toe bring nie.

VERKLAAR ÁLLES. Skryf jou selfoon, kamera, lense, GPS, ensovoorts se reeksnommers vooraf op ’n stuk papier neer. Dis dan makliker om te verklaar wanneer jy die grens oorsteek. Moet níks weglaat nie – soms kom jy ’n amptenaar teë wat net wag vir ’n onverklaarde kamera om moeilik te wees.

Belangrike nommers

  • Noodgevalle 061230505 (SOS-noodnommer); 112 (selfone); 10111 (polisie); 911 (algemeen)
  • SA hoëkommissariaat in Windhoek H.v. Nelson Mandelalaan en Jan Jonkerstraat: 00 26461 205 7111
  • Namibiese hoëkommissariaat in Windhoek 012 481 9100; secretary@namibia.org.za
  • Namibiese vleisraad 00 26461 275 830 (Windhoek); 00 26463 297 191 (Noordoewer)
  • Namibiese konsulaat 021 419 2810 (Kaapstad)
  • Namibiese padfondsadministrasie 00 26461 433 3000; info@rfanam.com.na
  • Namibiese ministerie van landbou (veeartseny-dienste-departement) 00 26461 208 7111
  • Namibiese ministerie van binnelandse sake 00 26461 292 2111
  • Namibiese toerismeraad 021 422 3298; 00 26461 290 6000; namibiatourism.com.na