Weg se podcast is hier! (Klik hier vir meer inligting oor Weg Stories). Vir baie mense klink die hele podcast-ding dalk soos Grieks. Wees gerus, enigiemand kan dit regkry om na ons podcast te luister, veral met ons gids. Hier is drie maniere om na jou gunsteling-stories uit Weg te luister: Kies die een wat jou die beste pas.
Luister op die web
Elkeen van ons podcasts sal op ons webblad verskyn. Hier sal jy ’n kort beskrywing van die episode sien, wie dit gelees en geskryf het, sowel as die skets wat saam met dit oorspronklike rubriek gepubliseer is. Druk “play”, sit agteroor en geniet ’n vinnige storie terwyl jou baas dink jy is besig met werk. Onthou om Weg se web- en Facebook-blad dop te hou vir wanneer die volgende episode beskikbaar is.
iTunes
Jy hoef nie meer ’n Apple-toestel te hê om iTunes op jou rekenaar te installeer nie. Maak die program oop en gebruik die soek-funksie regs bo: Soek vir “Weg Stories”. Gaan tot onderaan die bladsy by “Podcasts” en klik op ons ikoon. Nou kan jy inteken op die podcast, en enige van die episodes luister. Dit is ook belangrik om by “Ratings and Reviews” in te loer en jou opinie oor Weg Stories te gee (ons verduidelik hier onder hoekom). As jy nog nie iTunes het nie, laai dit hier af.
Gebruik ’n app
Hierdie is die beste manier om na podcasts te luister. Met ’n goeie app is dit makliker om Weg Stories op te spoor én makliker om te luister. ’n Mens kan op een bladsy deur al die vorige episodes soek, en as jy ’n bietjie agter is, kan jy sommer al die episodes die een ná die ander in volgorde luister, sonder om ’n klomp knoppies hoef te druk.
Nog ’n nuttige funksie is dat jy nie ’n knoop in jou oor hoef te maak vir wanneer die volgende episode gepubliseer word nie. Sodra ons ’n nuwe episode oplaai, laai die app dit outomaties af en stuur vir jou ’n kennisgewing dat dit reg is vir jou om te kom luister. Om dit reg te kry, gebruik die volgende stappe:
• In die app se soek-funksie, tik “Weg Stories”.
• Maak die podcast oop en kies heel eerste die “Subscribe” of “Follow”-opsie. Nou sal jy op datum bly met nuwe episodes.
• Kies die episode wat jy wil luister en druk “play” – so maklik soos dit.
Vir elke app is die stappe basies dieselfde. Daar is wel hordes podcast-apps beskikbaar en dit is soms moeilik om die koring van die kaf te skei as jy nie weet waarvoor jy moet soek nie. Ons het vier van die bestes gaan soek – kies dus een van hulle as jy twyfel..
Baie podcast-apps het ’n klomp ekstra funksies en jy moet ’n paar US$ opdok om te op jou toestel te kry, maar ons voorstelle is almal gratis.
As jy ’n Android-toestel het, probeer een van hierdie twee:
- Podbean. Dit is ook beskikbaar op iOS.
- Podcast Addict.
As jy enige iOS-toestel (Apple) het, is hierdie twee die voorlopers:
- Apple Podcast (jy hoef nie die app af te laai nie, iOS-toestelle kom uit met dit klaar geinstalleer).
- Overcast
Gradeer en resenseer
Elke episode wat ons oplaai is heeltemal gratis. Daar is wel ’n manier hoe jy kan bydra sonder om geld uit te gee. Indien jy die Apple Podcast-app gebruik, of as jy iTunes het (sien bo, nommer 3), gaan na Weg Stories, klik op “Ratings and Reviews” en gee vir ons ’n punt en laat ons weet wat jy dink van die podcast. Jou terugvoer help ons nie net om die podcast beter te maak nie, maar hoe meer graderings en resensies Weg Stories het, hoe beter gaan dit na ander luisteraars versprei. Hoe meer siele, hoe meer vreugde!
As jy enige vrae het of sukkel om by Weg Stories uit te kom, stuur ’n epos na francois.haasbroek@weg.co.za.
Luister hier na elke episode: