Ons het Desember 2015 die Kgalagadi-oorgrenspark vir die eerste keer besoek. Wat ’n belewenis – ons het een oggend vroeg by die Nossobruskamp gesien hoe ’n paar opgeskote leeus die vlotterklep uit die watergat breek en daarmee speel.

Ons was ook een aand vasgekeer in dié skuiling toe ’n trop leeus (sowat 14) ’n indringer-leeumannetjie teen die kampdraad langs die uitgang van die skuiling vasgedruk het; in so mate dat ons nie by die uitgang kon uit nie.

Nossob-ruskamp
Nossob-ruskamp

Dit was vreesaanjaend om die geluide van naby te hoor. Ná twee uur het ander besoekers van die skuiling se loopgangpale (natuurlik aan die kamp se kant) uitgebreek sodat ons kon deurklim.

Later het die veldwagters die leeus kom verwilder – die draad het glo al tydens die skermutseling skade opgedoen.

Hulle het met ’n groot gesukkel die trop weggejaag, maar die indringer wou nie ’n voet versit nie – hy het natuurlik geweet dit sou neusie verby wees vir hom. Ná sowat ’n uur het Ta glo met ’n redelike spoed die pad gevat!


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za