Weg Ry & Sleep het Jurgens Ci se eienaar, Paul Kyriacou, om kommentaar genader, maar hy het hom nie oor die stand van sake by die aanleg uitgelaat nie. “Ek sal dit doen wanneer ek klaar is waarmee ek besig is.” Hy het wel gerugte ontken dat van sy personeel vir maande nie betaal is nie en gesê alle salarisse is op datum.

Jurgens is die grootste woonwavervaardiger in die land wat digby 30 Campworld-handelaars landwyd van voorraad voorsien. Die handelaars sukkel egter al geruime tyd om nuwe woonwaprodukte aan te vul.

Arnold Prosch, ook ’n Campworld-handelaar en eienaar van Cara-Camp Caravan & Outdoor Centre op Somerset-Wes, het aan Weg Ry & Sleep gesê sake het begin skeef loop kort nadat Kyriacou Jurgens Ci verlede jaar by Imperial Holdings gekoop het.

Sake het in só ’n mate versleg dat van die Campworld-handelaars – soos Tygerberg Caravans en Northern Natal 4x4 & Caravans – die Campworld-groep verlaat en met ander vervaardigers kragte saamgesnoer het.

Intussen het 17 handelaars saamgespan om ’n nuwe netwerk op die been te bring om van die Jurgens Ci-woonwaens se onderdele vir klante in die hande te kry. Die nuutgestigte maatskappy staan bekend as LeisureWorld.

As sake volgens plan verloop, doen hulle van 1 Oktober af amptelik sake onder dié nuwe naam. Prosch en Jan Serfontein van Northern Natal 4x4 & Caravans is LeisureWorld se twee direkteure en die meeste van die 17 handelaars het aandele in die maatskappy.

Prosch sê hoewel Jurgens Ci steeds as ’n onderneming bestaan, sit die Campworld-handelaars met die probleem dat hulle nie meer die produkte en diens ontvang wat hulle van die vervaardiger verwag nie.

Dit staan LeisureWorld-handelaars vry om enige handelsname te ondersteun. Dit sluit name soos Echo4x4, Invader, Okto, Quantum Leisure en Bush Lapa in.

“Die gaping wat Jurgens Ci intussen in die mark gelaat het, is groot. In baie opsigte het hulle voorheen die mark oorheers,” sê Prosch. “Ons moes transformeer en ek sien ’n blink toekoms. Voortaan kan ons aan klante ’n groter verskeidenheid woonwaens bied, terwyl ons steeds eienaars van Jurgens Ci-woonwaens soos Gypsey, Sprite en Jurgens met onderdele kan bystaan.”

LeisureWorld het solank ’n webwerf vir klante geskep waarheen hulle hulle besonderhede kan stuur: leisure-world.co.za

  • Lees al die nuusbrokkies wat in ons Oktober-uitgawe verskyn hier.