NAAMSA skryf die daling toe aan kopers wat verkies om te wag vir nuwe geslag voertuie – soos die nuwe Volkswagen Polo. Verkope oor Desember was ook laer as in November, aangesien kopers eerder wou wag om hulle voertuie in 2018 te registreer. 

Toyota se beste verkoper in Desember 2017 was die Hilux (3 382 eenhede), wat ook die gewildste voertuig in die land is. Altesame 1 108 Fortuners het huis gekry terwyl Toyota slegs 7 FJ Cruisers kon swaai.

Ford se groot geldmaker was die Ranger, waarvan 2 681 eenhede verkoop is, en sy naaswenner die Ecosport, met verkope van 892. Van die Kuga het slegs 66 verkoop.

Volkswagen se Polo was ’n uitblinker, maar wat sportnutsvoertuie en bakkies betref, is 432 Tiguans, 315 Amaroks en 17 Touaregs verkoop. Audi se suksesvolste Q-reeks was die Q3 met verkope van 125, en die ongewildste Q-reeks die Q7 met ’n verkoopsyfer van 31.

Nissan het 869 NP300’s aan nywerhede verkoop, maar die Hardbody kon slegs 95 haal tenoor 260 Navaras wat by die deur uit is. Die X-Trail het glad nie sleg gevaar nie: 231 is verkoop.

Land Rover se nuwe Discovery en Range Rover Sport het onderskeidelik 94 en 93 eenhede verkoop, terwyl meer welgesteldes die nuwe Range Rover Velar (68) as die Jaguar F-Pace (48) omarm het.

’n Ander verrassing was Alfa se Stelvio wat 11 eenhede verkoop het. BMW, Mercedes-Benz en Porsche verskaf nie hulle individuele model-syfers nie en derhalwe weet ons nie hoeveel X-reeks-, G-klas- en Cayennes-modelle baas gekry het nie.

Die agterosse was die Jeep Cherokee waarvan slegs 5 verkoop is; Suzuki kon slegs 4 Grand Vitaras swaai; 3 Fiat Pandas is verkoop; 2 mense het ’n Chev Trailblazer gekoop (Lees dié twee dan nie koerant nie? – Red.) en slegs 1 siel het belang gestel in ’n Volvo V90 Cross Country. En dit ís so ’n gawe ryding.

Januarie 2018 behoort aansienlik beter te lyk, want dit is tradisioneel die maand wanneer mense nuwe rygoed aanskaf.

  • Laat ons weet wat jy dink die redes vir swak verkop is. Stuur jou mening na digitaal@weg.co.za. 

Lees hier nog nuusbrokkies wat in die Weg Ry & Sleep van Maart 2018 verskyn.