Nuwe kampplekby St. Francisbaaireg vir elke smaak

St. Francisbaai
Waterberry staan reg vir enige kampeerder. Hier is enigiets van tent- tot woon­wastaanplekke – selfs staanplekke spesifiek vir ryhuise. En almal behalwe die tente het krag.

By St. Francisbaai is kampplekke yl gesaai, maar nou het ’n splinternuwe kampplek hier geopen. Waterberry Park was voorheen die St. Francisbaai-woonwapark, wat etlike jare gelede ten gronde gegaan het, en volgens David Glanvill, een van die eienaars, was die stuk grond toegegroei onder dennebome toe hy en sy vennoot, Gary Gilbert, die woonwapark gekoop het. Hulle het ingespring en die kampterrein van die grond af oorgedoen.

David is ’n tuinboukundige en ’n mens kan dit sien – nie net aan die netjiese tuine nie...

David is ’n tuinboukundige en ’n mens kan dit sien – nie net aan die netjiese tuine nie, maar ook die uitleg van die oord. Daar is vier kampgedeeltes met onder meer woonwastaanplekke, tentstaanplekke, kampkolle vir ryhuise en luukse staanplekke. Laasgenoemde is groter as die res en jy het onder meer jou eie plaveisel en ’n braaiplek. Buiten die 10 tentstaanplekke het al die staanplekke by Waterberry Park hulle eie kragpunte.

Prys: Afhangend van die seisoen R500 of R1 000 per staanplek vir die luukse woonwastaanplekke, R450 of R900 vir die gewone woonwastaanplekke, R400 of R800 vir die ryhuisstaanplekke, en R300 of R600 vir die tentstaanplekke. Pryse geld vir die eerste 2 mense; daarna is dit R200 p.p.p.n. ekstra (R100 vir kinders). Hoogstens 4 mense per staanplek.

Kontak: 082 785 6513;  office@waterberrypark.co.zawaterberrypark.co.za 


Hoefer mik Witbank toe

Die Hoefer-groep, ’n Amerikaanse woonwavervaardiger met ’n aanleg in Swaziland, het pas bekend gemaak dat GC Caravans in Witbank sy plaaslike handelaarskap is. Charles Hoefer, die groep se uitvoerende hoof, sê sy waens gaan vir die afsienbare toekoms net beskikbaar wees by dié handelaarskap, waar Michael Hammond en Neil Volschenk aan die stuur staan.

Michael en Neil is die afgelope jaar al besig om saam met Charles ’n hiperluukse wa – die Azzero Premium All Terrain-woonwa – te ontwerp. Die Azzero, wat ewe tuis sal wees op teer- én grondpad, is van die langer waens op die mark en is 7,57 m lank, 2,4 m breed en 2,6 m hoog.

Die beoogde tarragewig is 1 200 kg, wat volgens Charles twee yskaste (193 l en 93 l), lugreëling, ’n noodwiel en tent insluit. Dit klink dalk vergesog, maar Charles sê die geheim lê in die materiale wat gebruik word vir die romp en die onderstel. Die onderstel bestaan uit ’n unieke vliegtuigaluminium wat 8 mm dik is. Die vloer vorm ’n eenheid met die onderstel en is self 80 mm dik. Dié bestaan uit ’n spesiale materiaal waaroor Charles nie wil uitwei nie, maar dit is so sterk soos veselglas van 14-16 mm.

Die koppelstuk, remstelsel en as word deur Alko verskaf en dan word die hele wa met gom aan mekaar geheg – selfs die neuswiel is aan die A-raam vasgeplak. Al die vensters, deure, die waterpomp en wasbak-tweeplaatgasstoofkombinasie word deur Dometic verskaf, en die mikrogolfoond, lugreëling en yskaste deur Defy. Die wa het ’n eilandbed en badkamer, en die stel banke met hulle leerbekleedsel slaan plat om nog ’n dubbelbed te maak. Die BVM is 1 510 kg met ’n 1,8 t-as en 2,7 t-koppelstuk.

Die waens behoort van April af by GC Caravans beskikbaar te wees vir rondom R600 000. Charles, wat vir ’n geruime tyd reeds besig is met die ontwikkeling van ’n superligte woonwa, sê dié projek is vir eers op ys gesit.

Kontak: 013 697 5121;  gccaravans.co.za


Nuwe Vigus op pad

Die Chinese vervaardiger JMC het pas sy jongste Vigus-bakkie bekend gestel.

Ons gaan hom eersdaags onder hande kry en deeglik toets, maar hier is wat ons reeds van hom weet: Dit is ’n tweedegeslag-bakkie (die eerste Vigus is in 2014 hier bekend gestel) wat in China gebou en in Afrika, Australië, Asië en Suid-Amerika verkoop word.

Pryse begin by R201 880 vir ’n enkelkajuit en die dubbelkajuitweergawe gaan R282 880 kos, wat hom die goedkoopste dubbelkajuit in Suid-Afrika maak. En dan is daar ’n viertrekweergawe wat R348 990 kos – wat steeds nie jou beursie te hard straf nie.

Die Vigus word aangedryf deur ’n 2,4 l-turbodiesel wat 290 Nm wringkrag uitskop, en ’n 2,4 l-petrolenjin. 


Ses gewilde sportnutse nié vir SA bestem

As jy gereeld oorsee reis, weet jy van die ongewone rygoed wat ’n mens daar teëkom – soos die Cadillac XT4, Lincoln Nautilus en Toyota 4Runner, almal sportnutse in Amerika wat jy nooit hier sien nie. Maar daar ís voertuie wat in regterhandstuurmarkte soos Japan, Australië en Engeland gebou word wat ons ook graag sou wou hê. Hier is ses nuwe sportnutse wat ongelukkig nié vir plaaslike bodem bestem is nie.

Die Edge is ’n middelslag-sportnuts wat sedert 2006 in Kanada gebou en in Noord-Amerika, Europa, Nieu-Seeland en Australië verkoop word.

’n Ontrimpelde bakwerk is pas onthul en hy kry nou ’n gawe 2,7 l-EcoBoost-dubbelturbo-V6- enjin. Die Edge word in Australië en Nieu-Seeland as die Ford Endura bemark waar hy taamlik gewild is. Ons dink hy sou in Suid-Afrika beter vaar as die Kuga.

Die Spaanse motormaatskappy Seat het vlugtig in Suid-Afrika ’n draai gemaak voordat sy moedermaatskappy, Volkswagen, hom uitgegooi het. Die Seat Tarraco is pas in Europa bekend gestel en die Europese media besing sy lof.

Die Tarraco word aangedryf deur ’n 1,5 l- en 2 l-turbopetrol asook ’n 2 l-turbodiesel. Hy’s beskikbaar in handrat en outomaties, en met voorwiel- of allewielaandrywing. Ons hoop Seat keer eendag terug na Suid-Afrika.

Nissan swyg oor die welstand van sy Infiniti-handelsmerk in Suid-Afrika, maar ons vermoed die skrif is aan die muur.

Volgens NAAMSA se nuwevoertuigverkoopsyfers is daar in Januarie 2018 één Infiniti hier by ons verkoop en sedertdien nog nie ’n enkele een nie. Infiniti SA se webblad wys steeds die eerste geslag QX50, maar ’n splinternuwe voorwielaangedrewe weergawe word in Mexiko en China gebou en hy kry ’n 2 l-petrolenjin en CVT- palwisselratkas.

Dié Tsjeggiese voertuigvervaardiger het sy klein sportnuts verlede jaar by die Beijingse motorskou bekend gestel.

Die Kamiq word in China gebou en gaan daar, in Europa en in ander lande in die Verre-Ooste verkoop word, maar nie in Suid-Afrika nie. Grootte- en prysgewys is sy direkte mededinger die Hyundai Creta, wat wel in Suid-Afrika beskikbaar is. Die Škoda Kamiq kry ’n 1,5 l-petrolenjin en 5 spoed-hand- en 6 spoed- outomatiese ratkas.

Net soos Lexus eintlik ’n windmaker Toyota is en Infiniti dieselfde vir Nissan, is Acura die luukse arm van Honda.

Die derde geslag Acura RDX is pas in Amerika bekend gestel en gaan in China en die VSA gebou word vir Asië en die Noord-Amerikaanse markte. Die RDX word aangedryf deur ’n 2 l-turbopetrolenjin en 10 spoed- outomatiese ratkas, en kopers het ’n keuse tussen allewiel- of voorwielaandrywing. Die Acura kry wel slegs linkerhandstuur.

General Motors is landuit, en saam met hom ons drome dat die Blazer eendag sy pad na Suid-Afrika sou kon vind.

Die kans hierop was altyd skraal, maar ons het gehunker na een sedert Chuck Norris in Lone Wolf McQuade sy Chevy Blazer K5 uit ’n vlak graf gery het. Amerikaners kry vanjaar ’n splinternuwe Blazer met ’n 2,5 l-viersilinder- en 3,6 l- V6-petrolenjin.

Viertrek is standaard, maar wat voorkoms betref, verskil die nuwe Blazer aansienlik van Chuck s’n. 


die 4x4@kennis-span. Agter is Thekios Chadi, Morné Claassens en Marlon Jaftha, met Leratho Mokuane voor.

Nóg meer Kennis...

Vir die Gautengse woonwa- en ryhuishandelaar Kennis Caravans & Motorhomes is 2019 sommer al klaar ’n bedrywige jaar. Allan Vos, besturende direkteur, sê sedert hy sy sakebedrywighede met Campworld gestaak het, is Kennis nou ’n LeisureWorld-handelaar – en van Januarie af ook ’n goedgekeurde Echo4x4-handelaar.

Én dan het hulle onlangs ’n nuwe 4x4-passentrum op die been gebring. Hiervoor het Allan vir Morné Claassens genader. Morné het al diep spore in die 4x4-kringe getrap en was voorheen tien jaar ’n vennoot by ’n 4x4-passentrum.

Kennis s’n staan bekend as 4x4@Kennis, en volgens Morné ondersteun hulle alle handelsname as dit by toebehore kom – van dakrakke, 12 V-ys-vrieskaste en dubbelbatterystelsels regdeur tot bosbrekers, lugvering en snorkels. Kennis doen etlike jare al besigheid as woonwahandelaar en is ook ’n onafhanklike handelaar van die land se grootste ryhuisvervaardiger, Motorhome-World.

Kontak: 011 664 7000;  info@kennis.co.za of 4x4@kennis.co.zakennis.co.za


’n Sleepwa vir die pad én die water!

Dolphin Trailers is sowat twintig jaar gelede gestig, maar het oor die jare momentum verloor totdat die maatskappy uiteindelik sy deure moes sluit. Die nuwe eienaars, Deeven en Leshani Pather, het egter ’n tweede asem in die handelsnaam geblaas toe hulle Dolphin Trailers se oorspronklike veselglasgietvorms en gereedskap in Mei 2018 gekoop het.

Dolphin Trailers maak drie sleepwaens: Die Dolphin Lite wat ’n skamele 120 kg weeg, die vaartbelynde Dolphin Sport, en die Dolphin Trailer-boat. Dit is laasgenoemde wat die meeste aandag trek, aangesien hy dubbeldiens lewer as ’n sleepwa én ’n 8 voetskuit.

Haal die deksel af, bout ’n buiteboordenjin vas en siedaar, jy’s reg vir die viswaters! Jy het nie ’n skipperlisensie vir dié platboomskuit nodig nie en die vaartuig het ’n SAMSA-kategorie R-vlotvermoësertifikaat vir varswatergebruik. Die skuitsleepwa kom standaard met ’n noodwiel, twee verwyderbare sitplekkies en ’n stel roeispane.

Die skuit alleen weeg 48 kg en kan op die water 400 kg dra. Die skuitsleepwakombinasie weeg 160 kg, het ’n dravermoë van 590 kg en ’n volume van 1 700 l. Daar is ’n wagtydperk van vier weke nadat jy jou bestelling geplaas het, en Deeven en Leshani kan jou sleepwa per koerier na enige plek in die land stuur.

Kontak: 065 954 3936; dolphintrailers.co.zainfo@dolphintrailers.co.za

Prys: R23 500 


10 kersies vir Ewiks

Die woonwaskuiwervervaardiger Ewiks vier vanjaar sy tiende verjaardag. En vandag, sê Erik Warburg, die eienaar van Ewiks, is sulke skuiwers nie meer ’n luukse nie, maar noodsaaklik. (Ons stem saam – ’n mens word nie jonger nie en ’n woonwa is swaar. As jy al ooit ’n dubbelaswoonwa op jou eie met die hand probeer rondskuif het, sal jy weet dis bykans ’n onbegonne taak. – Red.)

Erik is ’n meganiese ingenieur wat self die Ewiks-skuiwer ontwerp het. Hy sê dit is vir hom vreemd dat wavervaardigers skuiwers nie standaard aanbied op hulle groter waens nie. Ewiks se skuiwer werk met ’n afstandbeheer waarmee jy jou wa kan beweeg sonder om een druppel te sweet.

Die stelsel het ’n elektriese motor by elke wiel en gebruik die krag van die 12 V-battery in die wa. As jou wa nie ’n eie battery het nie, installeer Erik-hulle spesifiek vir dié doel ’n klein battery in die wa. Ewiks se skuiwers pas op die meeste nuwer waens op die mark, en ’n selfbou-eenheid is ook beskikbaar as jy dit self wil installeer.

Kontak  082 487 4950; sales@ewiks.co.za; ewiks.co.za


Plaaslike motorverkope daal

NAAMSA het die nuwevoertuigverkoopsyfers vir Desember 2018 bekend gestel en dit lyk nie bemoedigend nie. Die 39 984 eenhede wat van die hand gesit is, verteenwoordige ’n daling van 1,9% teenoor die syfer vir Desember 2017 (40 751).

Die jaarlikse totaal vir 2018 was ook swakker as in 2017, maar darem effens beter as in 2016. Die rekord vir nuwevoertuigverkope was in 2006, toe altesame 714 315 nuwe voertuie verkoop is.

Die ekonomie het in daardie jaar met 5,6% gegroei. Daarteenoor was daar in 2018 minder as 1% groei. Die goeie nuus is dat marknavorsers ’n effense ommekeer in die ekonomie vir 2019 verwag.

Daar word ook voorspel dat nuwevoertuigverkope teen Desember 2019 op sowat 558 000 sal staan.

Ander goeie nuus is dat Suid-Afrika se nuwemotoruitvoere jaar ná jaar besig is om toe te neem. Voertuiguitvoere dra tans 7,7% by tot ons Bruto Binnelandse Produk en 351 154 voertuie is in 2018 na ander lande verskeep.

In 2017 is 338 096 uitgevoer – dus ’n styging van 3,9%. 


Hyundai se sonkragdak

Hyundai en Kia het aangekondig hulle gaan voortaan sonkragpanele op sommige modelle aanbring. Die eerste geslag van dié panele gaan relatief standaard wees en op die dak van motors met hibriede aandrywingstelsels vasgebout wees.

’n Volgende geslag gaan half deursigtig wees en op hibriede én gewone motors met binnebrandenjins aangetref word.

Die derde geslag sonkragpanele gaan op die dak en enjinkap van alle Hyundai- en Kia-motors geïntegreer wees en ’n mens sal glo omtrent nie kan onderskei tussen die motor se bakwerk en die sonpaneel nie.

Die doel van die sonkragpanele is om die voertuig se battery te herlaai en ’n lading aan elektriese komponente te verskaf terwyl die voertuig afgeskakel staan. Dit is iets wat jare al deur die veldrygemeenskap gebruik word, maar Hyundai se mikpunt is om dit deel van hulle voertuie se struktuur en standaardtoerusting te maak.


Veldry-Lambo

Jy moet stapelgek wees om ’n Lamborghini Urus bos toe te neem, maar as jy die amptelike nuwe veldrypakket aanskaf, sal jy dit dalk oorweeg.

Dié pakket bestaan uit onderstelbeskerming, ’n staaluitlaatpypstelsel, skermplate op die buffers en ’n beter grondvryhoogte. Die bosbefoeterde Urus staan nou 248 mm bo die grond, 35 mm hoër as ’n standaard-Urus, en het ’n nader- en vertrekhoek van onderskeidelik 27,9º en 28,3º.

Daar is ook twee ekstra ritmodusse, “Terra” en “Sabbia” (Italiaans vir “grond” en “sand”), sodat die Urus by ruwe terrein kan aanpas. Die Urus word aangedryf deur ’n V8-dubbelturboenjin wat 850 Nm en 478 kW opwek. Sy topsnelheid is 305 km/h en hy versnel binne 3,6 s van 0-100 km/h.

Teoreties sal jy dus binne 1½ uur die 500 km tussen Maputo en Inhambane kan aflê. Met al die beeste en donkies langs die pad gaan die Urus se groot sierrooster dit egter ontgeld.