Wat is dit? Dié app vir ’n slimfoon of tablet help jou met onder meer die uitken van spesies, om te sien watter bome in ’n streek voorkom en of dit giftig is.

Maar ek hét ’n boomboek... Met die app is dit makliker om ’n spesifieke spesie op te spoor. Jy begin met die hele lys van spesies en soos jy eienskappe insleutel (soos hoogte, vorm, blare, dorings, ensovoorts), word die lys verfyn. Jy kan ook – soos in ’n boek – in die lys soek volgens ’n boom se wetenskaplike of noemnaam. As jy dan op ’n spesifieke boom klik, gee dit ’n beskrywing van onder meer die boom se sleuteleienskappe, habitat, bewaringstatus, waarvoor die boom gebruik kan word en of/hoe jy dit in jou tuin kan plant.

Wat is nog koel? Jy kan jou soektog verfyn op grond van waar jy is – die app gebruik jou slimfoon se GPS-funksie – sodat jy net bome sien wat in dié gebied voorkom.

Sluit dit indringerspesies in? Ja, op die oomblik bevat die app 979 inheemse en 135 indringerspesies.

Het die app illustrasies? Ja, die kunstenaar Joan van Gogh het meer as 1 100 skilderye gemaak (soos die een regs bo), en Penny Moraites net soveel gedetailleerde takkie- en blaarsketse.

Gee die app Afrikaanse name? Ja, die app gee waar beskikbaar name in al 11 landstale. Jy kan ook jou voorkeurtaal as Afrikaans stel, dan sien jy eerste die Afrikaanse naam as jy deur die lys soek.

Het ek Wi-Fi nodig? Net om dit af te laai. As dit eers op jou foon of tablet “lê”, kan jy dit sonder ’n internetverbinding gebruik.

Prys R500 in die App Store en Google Play.

Nog inligting thetreeapp.co.za

V&A: Val Thomas

Ons gesels met die stigter van TheTreeApp.

1. Waar kom die idee vir die app vandaan?

Ek en my man, Peter, het 30 jaar gelede ’n uitgewersmaatskappy (vandag Jacana Media) gestig. In daardie tyd het ek en ’n kollega, dr. Rina Grant, ’n reeks met vyf boeke, Sappi Tree Spotting, geskryf. Tog het ek steeds gevoel daar is nóg massas inligting wat nie beskikbaar is vir gewone mense nie. Die botaniese taal is nie aldag maklik om te verstaan nie en boonop het Suid-Afrika verskeie verskillende habitatte en inheemse spesies. Om dit nog moeiliker te maak lyk van hierdie spesies heeltemal anders in die verskillende habitats! Ek het ’n dekade lank gedroom van ’n elektroniese “program” wat die inligting kon filter vir enigiemand wat lief is vir bome.

2. Is dit gegrond op bestaande boomgidse?

Ja en nee. Alle boomdata (soos blaarvorm, kleur van blomme, spesiename, hoogte van bome) verskyn tot ’n mate in verskillende publikasies. Dié kerndata sal dus dieselfde wees, dit maak nie saak waar jy jou inligting kry nie. Maar ons het dié basiese inligting bymekaargemaak en gerangskik, en in ’n nuwe styl aangebied – ’n nuwe “taal” wat ons sommer plein plantengels noem.

3. Wat was die grootste uitdaging met die ontwikkeling van die app?

Dit het ses jaar geneem en elke deel het sy eie uitdagings gehad. Ons moes seker maak ons het al die inligting oor elke boom. Dit was ook moeilik om identifikasiebeskrywings te kry wat nie dubbelsinnig klink nie. Mense is subjektief in hoe hulle kleure en teksture raaksien en beskryf.

4. Wat is jou gunstelingfunksie op die app?

Om ’n soektog te doen op grond van waar jy is. Dis bevredigend om te sien hoe die 1 114 boomspesies verminder tot net dié wat binne ’n 12,5 km-radius van jou voorkom. As ’n mens dit met ’n boek (of met ’n klomp boeke!) sou wou doen, sou dit maande neem! Ek hou ook daarvan om te kyk hoeveel van dié bome inheems is. Om in Suid-Afrika te reis kry nuwe betekenis!