Daar gaan drie weergawes wees: ’n langbak-enkelkajuit vir die kommersiële mark, ’n dubbelkajuit vir die leefstylmark en ’n dubbelkajuit-veldryweergawe (foto’s bo) vir die avontuurlustiges.

Geen afmetings of kragsyfers is nog bekend gemaak nie, maar Jiaming Zhang, GWM se hoof van bakkieplatforms, bevestig dat die nuwe bakkie aanvanklik deur ’n 2 l-viersilinder-turbopetrol aangedryf sal word.

Die enjin gaan verskeie krag- en wringkragsyfers hê afhangend van die weergawe waarin hy gebruik word. ’n Sterker turbodiesel is ook op pad, sê Zhang. Die turbopetrolenjin is gekoppel aan ’n 8 spoed- outomatiese dubbelkoppelaarratkas (DCT) deur die Duitse ratkasvervaardiger ZF, en die vlagskip-dubbelkajuitmodel én die veldryweergawe gaan vierwielaandrywing met drie ewenaarslotte (voor, middel en agter) kry.

Die bakkie gaan ’n volle een ton kan dra en ’n maksimumsleepgewig van 3 500 kg hê. Die nuweling gaan nie die bestaande onderstel uit die huidige GWM Steed of enige Haval-produk gebruik nie, maar kry eerder ’n veelsydige nuwe onderstel (die P71) wat met ander GWM-voertuie gedeel sal word, waaronder die tweede geslag Haval H9 wat nog in sy ontwerpstadium is.

GWM-bakkie
GWM-bakkie
GWM-bakkie
GWM-bakkie

Die bakkie kry onafhanklike voorvering en meerskakel-kronkelvere agter, nes die Nissan Navara (en die Mercsedes-Benz X-klas). Die kommersiële weergawe kry wel bladvere agterlangs.

Die stilering herinner aan dié van die Ranger, Hilux en Navara. Dis doelbewus, want GWM het juis daardie bakkies in sy visier.

Wat tegnologie betref, beoog GWM om sy bakkie toe te rus met moderne katoeters soos kunsmatige intelligensie wat aan die internet gekoppel is, outomatiese parkering en aanpasbare kruisspoedbeheer. Die nuweling gaan in die splinternuwe Chongqing-aanleg in die Yongchuan-distrik van China gebou word, en die eerste besending sal na Rusland, Chili, Australië en Suid-Afrika verskeep word.

* Pryse is nog nie bekend nie.


Lees al die nuusbrokkies wat in ons Junie-uitgawe verskyn hier.