Die Antjie se padroete is na Antjie Stuurman genoem. Sy het in die 1930’s gewerk op dié plaas, wat sowat 45 km van Kareedouw geleë is en aan die Baviaanskloof grens. Antjie het elke dag sowat 10 km oor Blouberg gestap om by die Witteklip-opstal te gaan werk: Stappers volg haar roete werk toe op die eerste dag.

Die organiseerder, Herman Stoffberg, bestuur ’n konferensiesentrum op die plaas en sê hulle wou dié mooi hoekie van die land graag aan meer mense bekend stel.

Foto: Herman Stoffberg
Foto: Herman Stoffberg

Hoe ver stap ek? 12,5 km op dag 1, 12 km op dag 2, 10 km op dag 3.

Hoe fiks moet ek wees? Matige tot goeie fiksheid is nodig: Die roete klim redelik op dag 1 en 2. Stappers moet ook ouer as 12 wees.

Waar slaap ek? Die roete is in die vorm van ’n “8” uitgelê en jy slaap al twee aande op dieselfde plek: ’n basiese staphut met beddens en matrasse, ’n spoeltoilet, koue stort, ketel, braairooster en hout – als anders moet jy inpak! Onthou ’n koplig: Hier is g’n ligte of krag nie.

Herman-hulle het ook verblyf in ’n ou skoolgebou vir die aand voor julle begin stap: Dit kos R800 p.n. vir 8 mense. Koste R600 p.p. (as jy alles self dra) of R1 000 p.p. (slenterstap – jou bagasie word vir jou aangery tot by die hut.)

Waar begin die roete? By die Witteklip-konferensiesentrum – jy los jou voertuig hier. Die afdraai na die plaas is sowat 20 km oos van Kareedouw op die R62. Van die afdraai af is dit 25 km grondpad. Kry aanwysings wanneer jy bespreek.

Nog inligting en besprekings 082 741 2733; antjiesepad@gmail.com