In Februarie trek die meeste van die wabouers oudergewoonte saam om hulle nuutstes en bestes by die Buite-ekspo buite Malmesbury en die Kamp-en-bestemmingskou in Midrand ten toon te stel.

Conqueror se toekomsblik

Die boswoonwavervaardiger Conqueror het sy bestaande modelle met ’n hipermoderne reeks aangevul. Conqueror se boswaens word hoofsaaklik van staal gemaak, maar die romp van die nuwe UEV-reeks – dit staan vir Urban Escape Vehicle – word hoofsaaklik van ’n nuwerwetse materiaal gemaak wat in die lugvaart gebruik word.

’n Hele paar vervaardigers gebruik deesdae soortgelyke panele, maar dié wat Conqueror gebruik, is solied en sonder lae. En dié materiaal, sê Clive Cox, die man wat saam met sy span gestalte gegee het aan die UEV-reeks, maak die waens rondom 15% ligter. Die panele is 20 mm dik, en dit sluit die vloer in.

Conqueror het egter nie van sy kenmerkende rompvorm afgewyk nie en gebruik soortgelyke aluminiumhoekstroke om die panele te las. Danksy die nuwe materiaal beoog Conqueror nou ’n lewenslange verweringwaarborg op die romp, sê Philip de Vries, die besturende direkteur van Conqueror.

Met die UEV-reeks breek Conqueror ook effens weg van sy waens se robuuste voorkoms – ’n mens sien dit veral aan die binnekant. Dit voel of jy in ’n padwa staan. Pleks van die tradisionele seilflappies het die kaste soliede deure aan skarniere. Kasdeure op boswoonwaens is oor die algemeen nie prakties nie, bloot omdat dit nie hou as jy gereeld op slegte paaie ry nie. Maar dié kasdeure is in die deurrame versink, wat beteken dit sit stewig.

Conqueror verdien ook ’n pluimpie vir die binnebeligting. Ligstroke so breed soos jou hand strek al teen die dakrand af en sorg vir eweredige lig waarvan jy die helderheid boonop kan verstel – jy trek bloot jou vinger oor ’n raakoppervlak en die ligte doof stadig uit tot die verlangde sterkte.

Uitslaanbeddens op boswoonwaens is vandag omtrent standaard, maar Conqueror het met ’n nuwe plan vorendag gekom. Gewoonlik slaan ’n blad plat uit die paneel waaroor ’n tent dan gespan word, maar Conqueror gebruik nou soliede panele wat van dieselfde materiaal gemaak is as die romp. Dit beteken die uitslaangedeelte is 100% waterdig, en pleks van seil- en gaasvensters pas standaardvensters in die kante by die uitslaanbeddens.

Die numeriese waarde van die vier modelle – UEV13, 15, 17 en 25 – verwys na lengte van die wa (in voet). Buiten vir die UEV13, wat vir twee mense bedoel is, kan die res vier mense huisves. Die UEV25 is ook Conqueror se eerste dubbelas-produksiemodel wat met ’n buite- én binnekombuis toegerus is – en ’n volgrootte yskas, iets wat ’n mens nie in ’n boswoonwa verwag nie. Die eilanddubbelbed is in die voorkant van die binneruim, met ’n tweede een wat uit die regterpaneel platslaan.

Die UEV is ook vir Australië bestem.

Die syfers Die UEV is nog in die prototipe-stadium, en die syfers sal eersdaags bekend gemaak word.

Pryse: UEV13 R283 015; UEV15 R359 070; UEV17 R400 315; UEV25 R516 925

  • Conqueror voer nou ook drie boswa-modelle uit Australië in. Die Ezytrail- boswaens word plaaslik as die Patriot verkoop en ’n mens kan kies uit drie modelle. Hulle is toegerus met ’n vierplaatgasstoof en die verfafwerking buite is soos dié van ’n nuwe motor (jy kan kies uit sewe kleure). Die Patriot- waens kom bykans volledig toegerus met weeldes soos ’n televisie, gasstoof en tent met ’n storthokkie. Die jerrykanne, gassilinders, gasgeiser en ys- vrieskas is opsioneel.

Pryse: Patriot Front Fold en Back Fold R228 850; Patriot Dual Fold R320 850.

Kontak: conqueror.co.za


Veselglas laat Freeline dink...

Freeline Campers het sy eerste woonwa, die Maverick, gebou. Francois Kotzé, ’n mede-eienaar, verduidelik dit was ’n uitvloeisel van hulle veselglas-agtergrond.

Francois en sy pa, Hennie, bou onder meer bote en swembaddens en het ’n jaar gelede koppe bymekaar gesit en met ’n paar voorvereistes vir ’n woonwa vorendag gekom: Uiteraard moes dit van veselglas wees; dit moes sterk genoeg wees vir die grondpad; die bed moes koningingrootte wees; en die badkamer moes ten minste ’n stort en toilet hê.

Die Maverick met sy vaste dak bestaan van voor tot agter uit veselglas – insluitend die vloer. Die panele van die romp is 35 mm dik met ’n veselglaslaag binne en buite met hoëdigtheidskuimrubber in die middel. AL-KO het die onderstel ontwerp.

Die ys-vrieskas trek saam met die tweebrandergasstoof en dubbele wasbak uit die buitekas in die linkerpaneel. Elkeen staan op sy eie spoor, met die deuropening 140 x 65 cm. Aan die ander kant is ’n soortgelyke deur in die regterpaneel vir pakplek. Die Maverick kry nie ’n neuskas nie, maar die twee gasbottels staan in ’n kas op die A-raam.

Die bed sit dwars by die neus en die badkamer is teen die agterkant ingerig. Die syfers Tarragewig 950 kg; dravermoë 300 kg of meer; BVM 1 250-1 800 kg.

Prys: R320 000-R350 000.

Kontak: 078 099 4567  freelinecampers@gmail.com 


Echo se Kunene is hier

Echo4x4 is bekend vir sy veselglasboswoonwaens, maar volgens Willie Grobler, die eienaar, werk hy die afgelope twee jaar al aan sy nuutste model, die Kunene. Dié nuweling vervang die Kavango as die vervaardiger se vlagskipmodel en is ook vir die Australiese mark bestem.

Die Kunene spog met ’n hele klompie nuwighede. Waar die Kavango se bed agter van muur tot muur strek, kry die Kunene ’n bed met ’n gang langsaan. Die stortgedeelte is steeds buite die deur oorkant die deur waar jy inklim, maar Willie sê dis ’n unieke stort wat glad nie lyk soos dié wat in die Kavango is nie. (Dit was egter nog nie op die skou te sien nie.)

Buiten die bed agter, slaan een ook oor die A-raam oop. En onder die matras is ’n ekstra kas waar jy beddegoed kan pak.

Willie het die Kunene se vensters – van veiligheidsglas – spesiaal vir die wa laat maak. Hy sê dis die enigste boswoonwa van sy soort waarvan die hele venster kan oopmaak; gewoonlik skuif die een venster voor die ander een verby. Van die binnekaste het ’n hortjie- skuifdeur voor, en ’n groot skerm wat bo die venster opgerol is, kan laat sak word as jy privaatheid soek.

Echo se standaardwaens is beige en die Tec-reeks donkergrys, maar die Kunene laat ’n mens twee keer kyk, want hy is heelwat ligter – amper wit.

Vir jou Kunene kan jy een van drie soorte vering kies: Echo se eie onafhanklike vering, AL-KO se onafhanklike vering of bladvere.

Agterop die wa pas ’n fietsrak.

Saam met die Kunene het Willie-hulle ook ’n Legend-afwerking vir die Chobe-, Kavango- en Echo4-modelle aangekondig. Dit is ’n beperkte reeks met dieselfde liggrys kleur as die Kunene. Én dan het Echo sy heel kleinste waentjie gewys – die splinternuwe piepklein Space Bug-bagasiewaentjie is omtrent heeltemal van plastiek. Leeg weeg hy net oor die 130 kg. Hy het ’n BVM van 750 kg.

Die syfers: Kunene 6,015 (l) x 2 (b) x 2,225 m (h); tarragewig 1 280 kg; dravermoë 1 220 kg; BVM 2 500 kg.

Prys: Kunene R445 000; Chobe Legend R285 500; Kavango Legend R350 000; Echo4 Legend R160 000; Space Bug R13 500.

Kontak: 012 345 3333; echo4x4.co.zaechoacc@echo4x4.co.za


Destination gee sy Wonder nuwe lewe

Destination, wat bekend is vir sy swierige padwoonwaens, het sy Wonder-model se uitleg aangepas. Die eilandbed het voorheen in die lengte by die neus gesit, maar die eienaar, André van Helsdingen, sê die bed is dwars gedraai sodat die koppenent teen die linkerpaneel sit. Die uitglybuitekombuis trek dus nou van onder die bed uit, waar dit voorheen nader aan die stert was.

Teen ’n verdere R20 000 kan ’n mens die Wonder laat opgradeer tot ’n Wonder All Terrain-model. Die All Terrain het ’n versterkte onderstel met vering wat spesiaal aangepas is. André-hulle gebruik ’n Roadque-onderstel. Die Wonder het ook ’n dubbelas, wat beteken die All Terrain het ’n kronkelveer by elke wiel en agt skokbrekers – twee by elke wiel. Dié onderstel maak die tarragewig sowat 150 kg meer as die standaardwa s’n, en die BVM is rondom 2 400 kg.

Die syfers: 8 (l) x 2,44 (b) x 2,7 m (h); tarragewig ± 1 670 kg; dravermoë ± 330 kg; BVM 2 000 kg.

Prys: R510 000.

Kontak: 082 445 1543; sales@destinationcaravans.co.za; destinationcaravans.co.za


’n Vagabond vir grond en teer

Die eienaars van Midland Caravans het die teardrop-wavervaardiger Vagabond Caravans gekoop en stel nou twee modelle bekend. Die twee waens staan bekend as die Roamer en Drifter, en teen R98 950 is die padmodel R31 000 goedkoper as die grondpadmodel.

’n Teardrop-wa is eintlik maar ’n dubbelbed-op-wiele met ’n kombuis in die stert – en die Vagabond wyk nie veel van dié resep af nie, maar ’n mens sien nie aldag ’n hangkas in so ’n wa nie. Jy slaap met jou voete na die stert se kant toe, en dan is die twee groot kasdeure by jou kop.

Die Vagabond het ’n deur aan elke kant, en omdat die kombuis in die stert is, is die deel bo die bed nader aan die matras. Dis wel hoog genoeg sodat jou bene kan inpas, en die bed is 1,8 m lank. Die Vagabond het ’n klein neuskas waarin die diepsiklusbattery gehou word. Die twee afdakke – een aan elke kant – is aan ’n reling op die dak vas en hier is ook plek vir ’n daktent as jy slaapplek vir nog mense wil inrig.

Die kombuis is luuks vir dié grootte wa en toerusting soos die mikrogolfoond, tweeplaatgasstoof en yskas is standaard op albei die modelle.

Die hele waentjie word van veselglas gebou. Bryce Lund, ’n mede-eienaar van Midlands Caravans, sê daar is ’n groot leemte tussen tent- en woonwakampeerders, en dít is presies waar die Vagabond inpas.

Die Vagabond is ook lig genoeg vir mense met ’n ligtevoertuigrybewys.

Albei waens se BVM is op 750 kg vasgestel en kom sonder ’n remstelsel. Teen R15 000 kan jy jou Drifter opgradeer met ’n remstelsel wat die BVM dan tot 1 000 kg of 1 400 kg opstoot.

Die syfers: Roamer 4,3 (l) x 2,12 (b) x 1,9 m (h); Drifter 4,3 (l) x 2,12 (b) x 2,05 m (h); albei se tarragewig is 500 kg en BVM 750 kg.

Kontak: 074 601 0271; vagabondsa.co.za; bryce@vagabondsa.co.za


Travelstar gaan Boksburg toe

Die Knysna-gebaseerde ryhuisvervaardiger Travelstar het ’n tak in Boksburg geopen wat as Lifestyle Centre bekend staan.

Riguard de Beer sê buiten die nuwe ryhuise wat hulle verkoop, aanvaar hulle ook inruilings, en dit hoef nie noodwendig ’n ryhuis te wees nie – enigiets van motorfietse en woonwaens tot bote is welkom.

Adres: Noordrandweg 153, Boksburg.

Kontak: 011 894 5353; lifestylecentre.co.za


’n Reënbui oor die Evolution

Die padwavervaardiger Stealth het ’n unieke buitestort as bykomende opsie vir sy Evolution-model bekend gestel. Dit is ’n opslaanstort met twee vertrekke: Daar’s ’n droë hokkie waar jy inklim, en langsaan is die deel waar jy onder die water staan. Dit kos R18 500.

Die stort pas op bestaande modelle en word aan die agterkant van die wa vasgesit. Dit het ’n veselglasdak wat amper so lank is as wat die wa breed is – dit word met skarniere aan die wa vasgemaak. Soos jy die dak lig, sak die seilkante grond toe sodat jy twee hokkies het.

Die storthokkie het LED-ligte teen die dak en ’n PVC-vloer met ’n gaasrand rondom sodat die water kan dreineer. Stealth kyk ook na ’n afvoerstelsel om die water weg te lei.

’n Mens verwag die dak moet met hoekpale gestut word, maar hy het net een paal af grond toe in die middel.

Twee gasstutte trap ook teen die romp vas om die dak horisontaal te hou. Dit maak dus sonder sukkel oop.

Jy kan nou ook vir R8 400 lugreëling in die Evolution installeer wat in die kruideniersware kas links van die deur pas.

Die Evoltion XR6-533 is sy eerste model, wat nou uitgebrei word met die langer XR6-595. Hy is 62,4 cm langer en die tafel- en-bankie vir twee het nou plek vir vier. En pleks van ’n enkelbed slaan hier nou ’n dubbelbed op.

Die syfers: Stealth Evolution XR6-533 4,276 (l) x 2,4 (b) x 2,1 m (h); tarragewig 1 100 kg; dravermoë 400 kg; BVM 1 500 kg. Evolution XR6-594 5,9 (l) x 2,4 (b) x 2,1 m (h); tarragewig 1 200 kg; dravermoë 300 kg; BVM 1 500 kg

Prys: Evolution XR6-533 R285 000; Evolution XR6-594 R299 500

Kontak: 031 713 8900; admin@profibre.co.zastealthcaravans.co.za


’n Okapi in die Vrystaat

Die Vrystaatse woonwabouer Bennie Cilliers het pas sy eerste boswoonwa, die Nayela Okapi, ontwerp en gebou. En dié wa sorg sommer vir ’n hele paar nuwighede in die boswoonwawêreld.

Die hele romp bestaan uit veselglas en het ’n ingeboude aluminiumraamwerk. Die vorm tref dadelik die oog, veral die ronde voorkant.

Die Okapi het ’n dubbelas en Bennie, ’n argitek van Bethlehem, sê dit het groot voordele. Eerstens sorg dit vir ekstra veiligheid omdat jy met ’n dubbelas nie aan een band per kant uitgelewer is nie. Verder sleep ’n dubbelaswoonwa makliker. Wanneer ’n mens byvoorbeeld oor ’n spoedhobbel of slaggat ry, weet jy nie daarvan nie, want die gewig word tussen die vier wiele verplaas en nie na die sleepvoertuig nie.

Buiten dat die Okapi in jou standaardmotorhuis pas, slaan hy binne sekondes op. Die opwipdak lig met die druk van ’n knoppie – ná 22 s staan die dak 60 cm hoër, wat ’n plafonhoogte van 2,4 m gee.

Die buitekombuis se kaste is meerdoelig, want alles in die kas wat jy van buite af kan bykom, kan jy ook in die binnekant raak vat. Die helfte van die bed trek soos ’n laai uit die romp en skep kitsruimte in die wa. Die badkamer, met sy praktiese uitleg, is aan die stertkant. Die stort, wasbak en die toilet is geensins ingedruk nie.

Die deur is ook heerlik breed en teen 646 mm is dit net-net smaller as ’n gewone deur in ’n huis. Die yskas staan langs die deur – Bennie het die yskasdeur verander sodat dit na die “verkeerde” kant toe oopmaak, wat beteken jy kan buite die wa staan en die yskasdeur oopmaak. (Terloops, Bennie het in 2011 die WegSleep Elegance-woonwa vir Jurgens ontwerp. – Red.)

Die syfers: 6,92 (l) x 1,998 (b) x 2,094 m (h); tarragewig 1 150 kg; dravermoë 600 kg; BVM 1 750 kg.

Prys: R359 000 (volledig toegerus, maar lugreëling uitgesluit).

Kontak: 058 863 2452 of 082 375 5690  info@nayela.co.za


Okto bou ’n korter wa

Okto het met ’n tweede model op die vloer gespog. Die Cabana is amper ’n meter korter as die vervaardiger se eerste padwa, die Villa, maar as jy hom so vinnig kyk, lyk hulle identies. Woody Loftus, een van die handelaars van Okto, sê een van die voordele van die Cabana is dat hy makliker in ’n motorhuis pas as die Villa se lang lyf. Die woonwaens is wel dieselfde toegerus. Die Cabana se mikrogolfoond is egter na buite geskuif en pas in die onderste hoek van die buitekas.

Omdat die Cabana korter is, weeg hy ook 100 kg minder. Sy brutovoertuigmassa is egter dieselfde as die Villa s’n, wat beteken jy kan 100 kg meer laai. Die Cabana is ook R20 000 goedkoper as die Villa.

Die syfers: 5,88 (l) x 2,362 (b) x 2,02 m (h); tarragewig 1 100 kg; dravermoë 400 kg; BVM 1 500 kg.

Prys: R319 500.

Kontak: 084 471 9674; info@okto.bz; oktocaravans.co.za


Die Geitjie kom weer

Bush Lapa se Geitjie is die eerste keer sedert 2012 terug en is gemik op kode B-slepers. Die eienaar, Jannie Oeschger, is bekend vir sy woonwapatente en ’n mens sien sy slim planne in die nuwe Geitjie.

Dit lyk soos ’n groot sleepwa waarvan die dak hoog genoeg lig sodat jy by die stert kan inklim en regop staan in die wa. Die dak lig binne oomblikke met ’n unieke hefboomaksie en gasstutte.  

Jannie het ook ’n variant op sy Ratel 4 uitgebring. Die standaardmodel het twee dubbelbeddens: een slaan oop oor die A-raam en die ander een uit die regterpaneel. Die nuwe Ratel 4i se regterbed sit nou binne en word ’n dubbelbed wat kan opslaan om ’n groot tafel en twee bankies te skep. Vier mense kan maklik hier langs die tafel inpas, en in die oopte waar die bed sou uitslaan, is ’n groot oop “venster” – jy voel sommer deel van die natuur as jy aan tafel sit.

Die syfers: Geitjie 3,895 (l) x 1,93 (b) x 2,55 m (h, met dak gelig) Ratel 4i 5,44 (l) x 1,98 (b) x 2,15 m (h).

Prys: Geitjie vanaf R141 450; Ratel 4i vanaf R405 375

Kontak: 021 224 0919; reception@bushlapa.com; bushlapa.com


Van bote na woonwaens

Motor King & Marine, wat al meer as 40 jaar in Pretoria sake doen, het nou sy besigheid uitgebrei en verkoop voortaan ’n nuwe reeks woonwaens wat hy Crown Caravans noem.

Jy kan kies tussen twee boswoonwamodelle: die Trax en die Venture. Die Trax is bedoel vir twee mense en die Venture het plek vir tot vier. Die Trax se deur sit in die regterpaneel, iets wat ’n mens nie sommer onder plaaslikgeboude woonwaens sien nie. Dis net voor die wiel, met die res van die paneel wat soos ’n laai uit die romp trek – saam met die ruimte in die wa vorm dit ’n dubbelbed. Die Venture het twee sulke beddens wat uit die regterpaneel trek. Dit is uniek in die land.

Aan die linkerkant is die deur en buitekombuis. Wanneer jy in die Venture klim, is die twee dubbelbeddens weerskante van die ingang. Die Deluxe-model van die Venture kry ’n buitestort en jy kry ekstra toerusting soos sonpanele, ’n geiser en kassettoilet. Buiten Loftus Caravans is Motor King & Marine nou ook as handelaar van die nuwe Checkmate-woonwareeks aangewys.

Die syfers: Crown Trax 4,3 (l) x 1,8 (b) x 2 m (h); tarragewig 880 kg; dravermoë 620 kg; BVM 1 500 kg Crown Venture 5 (l) x 1,9 (b) x 2 m (h); tarragewig 1 080 kg; dravermoë 520 kg; BVM 1 600 kg.

Prys: Crown Trax R189 000; Crown Venture R269 000; Crown Venture Delux R299 000.

Kontak: 012 335 2800; info@mkm.co.za; mkm.co.za 


Eersteklas, Maxmo!

Maxmo bou vier ryhuismodelle waarvan sy nuwe Tourer die spogmodel is. Die Tourer is enig in sy soort – Leon Ras van Maxmo verduidelik die binneruim van die Fiat Ducato is ontwerp soos ’n eersteklasvliegtuigkajuit.

Die dubbelbed sit in die agterkant van die Ducato en slaan met die druk van ’n knoppie op tot ’n rusbank. Dit laat ’n oop ruimte in die middel van die ryhuis. Die kombuis slaan ook met die druk van ’n knoppie uit van onder die bed. Die blad, met onder meer ’n induksieplaat daarin, skuif na die middelste gedeelte, en wanneer jy die volgende knoppie druk, lig die werkblad heuphoogte.

Dieselfde geld vir die keramiektoilet wat onder die ander helfte van die bed inpas. Druk die knoppie en die toilet skuif onder die bank uit. Selfs die blindings voor die vensters werk met die druk van ’n knoppie.

Wanneer ’n mens die bed weer wil platslaan, is dit nie eens nodig om die beddegoed gelyk te trek nie, want rekbandjies op die hoek trek die beddegoed reg.

Die Ducato het ’n glydeur aan elke kant en twee swaaideure by die stert. Dis ook die laairuim, waar ’n hele paar kratte en kampstoele kan inpas.

Die syfers: 6,4 (l) x 2,1 (b) x 2,7 m (h); tarragewig onder 3 500 kg; BVM 4 200 kg.

Prys: R1 280 000.

Kontak: 082 899 9999; leon@maxmo.lifemaxmo.life 


Discoverer stryk die plooie uit

Motorhome-World se Discoverer 4 is al 18 jaar op ons paaie, en die vierde geslag van dié model is nou op die vertoonvloer.

Die Discoverer 4 se uitleg bly onveranderd, maar die hele voorkoms is verfris. Die tafelblaaie word onder meer ingevoer en die kaste het meer rondings. Selfs die kasdeurtjies maak spoggerig toe met ’n stadige aksie.

Die romp wat oor die kajuit steek, is nou meer hoekig en die hele stert is oorgedoen, ook die remlig digby die dak.

’n Mens kan kies tussen ’n Iveco-onderstel met ’n hand- of outomatiese ratkas óf ’n Mercedes-Benz Sprinter met ’n handratkas. Toerusting soos lugreëling agter, ’n 80 l-ys-vrieskas, 19 l-mikrogolfoond, 60 l-watertenk en volledige badkamer is standaard.

Die syfers: 6,7 (l) x 2,2 (b) x 2,85 m (h); BVM 3 600 kg.

Prys: Afhangend van die model R1 196 000-R1 242 000.

Kontak: 021 577 3863; info@motorhome-world.commotorhome-world.com


Cruiservan nóg luukser

Imagine se vlagskipwa, die Cruiservan, wat twee jaar gelede sy buiging gemaak het, spog nou net soos sy twee kleinboeties, die Trailvan en Comfortvan, met ’n meer unieke ontwerp.

Die hele dak lyk soos die romp van ’n boot en word met ’n elektriesbeheerde skroefstelsel gelig. Die vorige model se noodwiele het oop weerskante van die neus gesit, maar nou word dit met ’n deur toegemaak. Dié ruimte is boonop groot genoeg vir die buite-eenheid van ’n lugreëlingseenheid as jy nie ’n tweede noodwiel nodig het nie. Net soos die ander modelle sit die kombuis in die linkerpaneel. Die kombuisdeur van die vorige Cruiser het platgeslaan, maar dit is verander en maak nou soos die ander boontoe oop en vorm ’n dak bo die kombuis.

Die Cruiservan se badkamer is in die agterkant. In die plek van die klein keramiektoilet is daar nou ’n spoeltoilet van Dometic. Teen die regterpaneel is plek vir twee 2 m lange enkelbeddens, en die binneligte se helderheid kan nou verstel word.

Die syfers: 6,4 (l) x 1,95 (b) x 2,1 m (h); tarra 1 150 kg; dravermoë 600 kg; BVM 1 750 kg.

Prys: Vanaf R388 700.

Kontak: 012 349 2636 of 082 411 1266 ; gideon@imagine-trailvan.co.za; imagine-trailvan.co.za 


Hoefer wys sy ligte grootmeneer

Met ’n lengte van 7,5 m en ’n tarragewig van minder as 1 300 kg is Hoefer se Azzero All Terrain-woonwa die ligste wa van sy grootte op ons paaie. Die Amerikaner Charles Hoefer se aanleg is in Swaziland, en dis die eerste woonwa wat hy na Suid-Afrika uitvoer.

Die panele bestaan uit veselglasbuitelae met ’n isolasiemateriaal binne. Die panele word van aaneenlopende stroke veselglas gemaak, en volgens Charles is dit tot 10 keer sterker as gelapte panele. Die onderstel is van vliegtuigaluminium gebou en die dubbelas van die Azzero is spesiaal deur AL-KO ontwerp.

Die Azzero het ’n buitekombuis, en die yskas regs van die deur sien ’n mens nie aldag op woonwaens nie. Dis ’n gewone yskas wat omtrent halflyf hoog staan. Die tweebrandergasstoof met die wasbak trek links van die deur uit die romp, en ’n mikrogolfoond sit in die kas direk bo dit. Die Azzero se sitkamer is voor by die neus en die banke slaan plat om ’n dubbelbed te vorm. Die volgrootte yskas staan ook voor jou, teenaan die oorkantse muur, met die badkamer in die middelste gedeelte. Jy moet deur die badkamer na die slaapkamer toe stap. Soos jy na agter kyk, sit ’n wasbak links in sy eie hokkie en ’n spieël voor teen die muur, met die storthokkie langs dit. Dit toilet is regs van die gang, teen die ander paneel.

Die eilandbed sit dwars agterin die wa met die koppenent teenaan die regterpaneel. Opsionele ekstras sluit in twee LED-buiteligte R3 290, ’n AL-KO- swaaiwerende koppelstuk R14 985 en AL-KO se elektroniese swaaibeheer R19 980.

Prys: All Terrain R589 500; AT-X R613 500; AT-XL R637 500

Die syfers vir die All Terrain 7,5 (l) x 2,34 (b) x 2,75 m (h); tarragewig ± 1 235 kg; dravermoë ± 275 kg; BVM 1 510 kg; 1,8 t-as.

Kontak: 013 697 5121; michael@gcgypsey.co.za; gccaravans.co.za


Vir kamp én tuinvullis

Die Tonga is ’n nuwe klein woonwa wat amper lyk of hy in ’n toekomsfiksiefliek ’n rol kan kry.

Die Tonga het in sy visier die mark vir slepers met ’n ligtevoertuigrybewys (kode B), want sy BVM is op 750 kg vasgestel en leeg weeg hy net 380 kg. Eintlik is die Tonga ’n dubbelbed-op-wiele wat op paartjies gemik is. Hy word van veselglas gebou – ’n verskeidenheid soortgelyke woonwaens is op die mark, maar die Tonga kom met drie nuwighede.

Eerstens is die hele stert ’n deur wat na bo oopswaai sodat jy kan inklim, maar aan die teenoorgestelde kant is ’n laai wat uit die binnekant oor die A-raam trek. Dis ’n toe kas met twee rakkies en ’n deurtjie elk aan die kante. Die deurtjies slaan plat sodat ’n mens by die rakke kan uitkom, maar dit vorm ook ’n blad waarop ’n gasstoof byvoorbeeld kan staan. Die binneste deel van die rak (dus aan die binnekant die wa) het ook twee oop rakke wat as pakplek by die koppenent van die bed dien.

Tweedens span die Tonga se tent oor die hele wa en ’n mens kan JP van Zyl – wat die Tonga saam met sy pa, Etienne, ontwerp het – ekstra punte hiervoor gee. Die tent vou oop uit ’n rak bo die linkerkant van die wa en span diékant soos die vlerk-afdakke wat ’n mens deesdae sien. Maar JP-hulle gebruik geboë aluminiumpale op die rand van die dak om die kante van die tent oor die wa te span. Dit lyk soos ’n valskerm, maar die ontwerp is sodanig dat die wind hom nie sommer sal skep nie.

Laastens kan jy die boonste deel van die Tonga afhaal as jy byvoorbeeld die onderkant as ’n sleepwa wil gebruik.

Die syfers: 4,13 (l) x 1,94 (b) x 2,03 m (h); tarragewig 380 kg; dravermoë 370 kg; BVM 750 kg; 1,5 t-as.

Prys: Vanaf R105 000.

Kontak: 021 945 2142 of 074 893 0748; admin@biprojects.net; biprojects.net


Gray wys sy kleure

’n Swierige nuwe dubbelaswoonwa, die Gray, is deur Fred Oosthuizen van Custom Campers in Meyerton bekend gestel. Dié wa is nie net vir teerpaaie bedoel nie, maar ook gerat vir grondpad.

Omdat die romp ’n kromming maak tot op die A-raam, lyk die Gray heeltemal anders as ander padwaens. Die prototipe se neuspaneel is een stuk, maar Fred sê hier kom ’n neuskas, en die wa kry ook in die stert ’n kas. Die neus, dak en stert is een aaneenlopende strook. Die kromming is ’n deurlopende tema en ’n mens sien dit ook in die uittrekgedeelte van die buitekombuis. Die gesig van die laai op die kant is nie reguit nie, maar loop met ’n boog. Die wasbak en induksieplaat is in die blad versink.

Ook die deure van die kaste in die wa is gerond. Saam met al die ander luukshede en detail voel dit omtrent soos ’n vyfsterhotelkamer. Die deur is regs agter, met die sitkamer ook in dié deel wanneer jy inklim. Agter teen die muur hang ’n geraamde spieël met ’n fyn patroon op, en weerskante hiervan, in die hoeke, is ’n oop drankkabinet en pakplek vir glase. Die banke slaan plat vir ’n dubbelbed as jy nog slaapplek in die Gray nodig kry.

Die volgrootte yskas (270 l) staan links en is roomkleurig soos die res van die binneafwerking. Dieselfde gelde vir die mikrogolfoond ’n entjie verder. Hier staan selfs ’n skottelgoedwasmasjien. Die eilandbed is koningingrootte en sit aan die neuskant.

Die syfers: 7,3 (l) x 2,43 (b) x 2,6 m (h); tarragewig 1 620 kg; dravermoë 880 kg; BVM 2 500 kg.

Prys: R595 000.

Kontak: 016 362 0189 of 084 470 0802


Lite kry ’n tafel

Armadillo se nuutste wa, die Lite, wat nog net ’n prototipe was, is nou nog ’n tree nader daaraan om ’n produksiemodel te word. Fanie Botha, die eienaar, sê hy moet nog een of twee klein sakies uitpluis, onder meer die gewig van die dak.

Die Lite laat ’n mens dink aan die outydse opslaanwoonwaens waar die platgeslaande wa laer as die dak van die sleepvoertuig is.

Die Lite het ’n dubbelbed binne wat in die breedte dubbeld vou sodat ’n mens op die twee bankies kan sit. Fanie sê hulle gaan ook ’n tafelblad inbou wat van die opgeslaande bed se kant af tussen die twee bankies oorslaan.

Die syfers: 4,4 (l) x 1,8 (b) x 1,55 m (h); tarragewig 860 kg; BVM 1,6-1,8 t (die BVM en tarragewig is nog net voorlopig).

Prys: Die beoogde prys behoort R170 000-R190 000 te wees.

Kontak: 021 981 5999 of 082 898 4339; info@ekoveld gear.co.za; ekoveldgear.co.za 


Stelte vir die abbawa

’n Mens kry twee soorte abbawaens: ’n eenheid wat op jou bakkie vasgebout word en wat in wese jou ryding in ’n klein ryhuis verander, en dan dié wat op jou bakkie pas, maar ook pote het sodat jy die eenheid in die kampplek kan afhaal. André van der Merwe se nuwe Obiqua Camper val in laasgenoemde kategorie.

Wat die Obiqua verder van ander abbawaens onderskei, is die twee dubbelbeddens wat uit die eenheid oopslaan. As jy dus van agter af met die leer inklim, slaan een dubbelbed links van die gangetjie plat (weg van jou) en die ander een regs. ’n Tent span oor albei beddens om een vertrek te vorm.

Al die panele bestaan uit ’n dubbele laag veselglas met ’n vuurwerende binneste vir isolering. André sê die toegeruste Obiqua weeg 450 kg, wat die die ys-vrieskas, battery, gasbottel en watertenk insluit. Die Obiqua pas op enkel- én dubbelkajuitbakkies. As die abbawa toegeslaan staan, gereed om te ry, is hy sowat 25 cm hoër as die bakkie se dak. Dit beteken dus die bakkie met die Obiqua pas steeds in ’n standaardmotorhuis, én die windweerstand is binne perke.

Prys: Afhangend van die model en toerusting R158 125-R224 250. Dit sluit nie die kombuistent (R3 500), badkamertent (R3 500), die verlengde dak met 3 sypanele (R8 000) en spesiale kleur (R3 500) in nie.

Kontak: 083 275 7016; info@obiquacampers.co.za; obiquacampers.co.za 


Enkulu 2 nou mét rondings

Die Kaapse boswavervaardiger Infanta Trailers het nog ’n klomp veranderinge aan sy Enkulu 2-model aangebring.

Dié boswoonwa het nou meer geronde hoeke, waarvoor die bestuurder, Jurie Swart, spesiaal aluminiumstroke laat invoer. Buiten die Enkulu 2 se bykomende standaardtrappie is hy ook effens langer sodat ’n enkelbed agterin die wa kan pas. Soos die vorige model lig die dak steeds elektries, maar nou aan die linkerkant en nie meer aan die stertkant nie.

Die buitestort werk ook makliker en sit buite naby die stert in die regterpaneel. ’n Plat klap slaan boontoe op en vorm die stort se dakkie, en die seilkante hang dan af grond toe om dinge privaat te hou.

Die syfers 5,5 (l) x 2,05 (b) x 2,2 m (h); tarragewig 920 kg; dravermoë 680 kg; BVM 1 600 kg.

Prys: Vanaf R340 000, en volledig toererus rondom R450 000.

Kontak: 028 512 3663; info@infanta trailers.co.za; infantatrailers.co.za


Safari Weekender kry ’n boetie

Bushwakka het ’n variant van sy kleinste wa, die Safari Weekender, gebou wat hy die Tourer noem. Die Tourer en Weekender se romp is soortgelyk, maar die slaapplek vir die Tourer is verander. Die Weekender het ’n tipiese daktent bo-op wat na die regterkant oopslaan. Die tent se hele dak is hieraan vas en vorm ook ’n vertrek regs van die wa. Dit is uiteraard ook van waar ’n mens op die Weekender se bed klim. Die Tourer kry nie ’n daktent nie – in die plek hiervan pas ’n hardedaktent (ook bo-op die wa). Jy slaap dus steeds op die wa, maar die boonste deel van die tentkas lig parallel om die dak bo jou bed te vorm. Die tent se leer is oor die A-raam – iets wat ’n mens nie aldag sien nie. Bushwakka gebruik ook die vlerksoort afdakke wat oor die regterkant oopvou tot oor die kombuis by die stert.

Die syfers 3,449 (l) x 1,7 (b) x 1,611 m (h); tarragewig 800 kg; dravermoë 700 kg; BVM 1 500 kg.

Prys: R225 650 (standaardmodel).

Kontak: 023 342 3438 of 082 773 7544; sales@bushwakka.co.za; bushwakka.co.za


Twee leeus vir Jaguar

Jaguar 4x4 Trailers het twee nuwe boswoonwamodelle bekend gestel: die Inkwe 4 en die Kovu 4.

Dié waens se uitleg is dieselfde, maar die boumateriale verskil, en teen 4 m is die Kovu se romp 50 cm langer as die Inkwe. Die Kovu het dus ’n bietjie meer ruimte in die kombuis. (Die ys-vrieskas en gasstoof op die glyraam is wel dieselfde.)

By albei waens klim ’n mens by die stert in. Een dubbelbed slaan dan regs uit die paneel en die dubbelbed voor jou slaan oop oor die A-raam. Die Inkwe se hele opwipdak lig horisontaal met die romp en die wa word hoofsaaklik van aluminium gebou. Die Kovu se beddens slaan dieselfde uit, maar waar ’n mens op die voorste bed klim, moet jy deur ’n opening klouter, want hier is ’n dwarsbalk. Dié opwipdak lig net aan die linkerkant en word van vlekvrye staal gebou. Die Kovu se hoeke is ook gerond, wat dit meer sigbaar van die Inkwe onderskei.

Die eienaar, Jacques Serfontein, doen besigheid uit die Kaap en het nou sy eerste agent in Pretoria aangestel. Kerneels Louwrens van Corcis Outdoor Rentals sal na Jaguar se belange in Gauteng omsien. 082 997 4179; outdoorrentals.co.za

Die syfers: Inkwe 3,5 (l) x 1,85 (b) x 2,03 m (h); tarragewig 800 kg; dravermoë 800 kg; BVM 1 600 kg Kovu 4 (l) x 1,85 (b) x 2,03 m (h); tarragewig 900 kg; dravermoë 700 kg; BVM 1 600 kg.

Prys: Inkwe R195 000; Kovu R250 000.

Kontak: 073 333 5554; jacques@jaguartrailers.co.za; jaguar4x4trailers.co.za


Invader wys sy kleinste

Die opslaanboswabouer Invader het ’n intreemodel bekend gestel wat spesifiek op ligtevoertuigslepers gemik is.

Anders as met sy twee bestaande modelle, die Duo en Quattro, neig die uitleg van die Cheeky met sy daktente meer na die sleepwamark. By die Duo én Quattro klim ’n mens in die wa voor jy op die bed kan klim, maar die Cheeky se bed is bo-op en jy moet met ’n leertjie van agter af inklim.

Al is die bed nou bo-op die wa, lig die dak net soos die ander modelle met ’n lugstelsel.

Die Cheeky is bedoel vir twee mense en is beskikbaar in drie variante waarvan almal met ’n battery, batterylaaier en kompressor toegerus is. Die Cheeky Lite is die basismodel, die groter model se watertenk is ingesluit, en die topmodel is volledig toegerus met onder meer ’n geiser, sonpaneelreguleerder, breekwarelaaie, ’n kombuiseenheid met ’n stoof, en ’n opwasplek.

Die syfers: 3,5 (l) x 1,6 (b) x 1,8 m (h) Cheeky Lite Tarragewig 480 kg; dravermoë 270 kg; BVM 750 kg Cheeky Tarragewig 550 kg; dravermoë 650 kg; BVM 1 200 kg

Prys: Cheeky Lite R120 000; Cheeky R135 000 (volledig toegerus R180 000)

Kontak: 074 866 0437; sales@invader.co.za; invader.co.za


Land Rover vier fees

Land Rover is wêreldwyd sinoniem met veldry-avonture, en onder al die Land Rovers wat tot op hede vervaardig is, geniet die klassieke ouer geslag – die Series 1, 2 en 3 – sekerlik die meeste aansien.

Die Land Rover Classic-juigkommando (want hulle is veel meer as blote aanhangers...) bied van 5-7 April vanjaar die Land Rover Series-fees aan by die Rust de Winter All-Wheel Drive Club se 4x4-hindernisbaan in Limpopo. Hierdie byeenkoms, wat die oorspronklike Land Rover Series-voertuie vier, word deur LRclassic.com aangebied en deur Leimer’s Land Rover geborg.

Eienaars kamp die naweek langs hulle rygoed op die klub se gronde en moet vir hulle eie kamptoerusting sorg. Die eienaars gaan aan ’n verskeidenheid aktiwiteite deelneem wat ontwerp is om die vermoëns van mens en masjien op die proef te stel.

Die aktiwiteite sluit in ’n maklike 4x4-uitdaging vir ouer Land Rovers met bladvere, vermaaklike kompetisies vir passasiers en slingerdraai-uitdagings waarin bestuurders hulle Land Rovers se enjins met die hand aan die gang moet swaai. Daar sal ook radiobeheerde 4x4-modelle, voertuiguitstallings, onderdeel- en toebehore-stalletjies en ’n prysuitdeling wees.

Dagbesoekers is welkom, uiteraard ook eienaars van nuwer Land Rovers, en daar is braaigeriewe waar jy jou eie wors en vleis kan gaarmaak, maar daar is ook kosstalletjies en ’n biertent as jy nie jou eie proviand wil bring nie. Die jongspan gaan in die swembad en speelplek kan baljaar.

Indien jy ’n eienaar van ’n Series 1 tot 3 Land Rover is en aan die aktiwiteite wil deelneem, sal jy gou moet spring om in te skryf.

Kontak: 083 305 8083 (Johan Kriek); johann@lrclassic.com; lrclassic.com

Prys: R500 per deelnemende voertuig en R60 per dagbesoekervoertuig (ongeag die aantal insittendes)