Okto het as padwabouer met twee modelle begin: die Villa en Cabana, onderskeidelik vir vier en drie mense, waarna sy eerste grondpadwa, die Cabana Gravellor, vroeër vanjaar verskyn het.

Op sy beurt het die Villa En-Suite ’n ingeboude badkamer gekry. Die volgende logiese stap was die Gravellor-weergawe. Die uitleg van die En-Suite is dieselfde as dié van die oorspronklike model, maar hy is aangepas vir strawwer padtoestande.

Die Gravellor se versterkings begin by die Al-Ko-onderstel. Dié word spesiaal in Duitsland vervaardig en sluit ’n stewiger as in. Die En-Suite Gravellor kry ’n 1,8 t-as, anders as die gewone 1,5 t- weergawe. Die 14”-wiele maak plek vir 15”-tekkies, en ’n bosbreker loop op die onderste hoek om die wa.

Die glasveseldeksel oor die A-raam word met ’n plat staalrak vervang en jy het nou pakplek vir ’n sakkie braaihout.

Die kasdeure se skarniere word nóg stewiger vasgesit vir die stampe en stote op ’n grondpad. Die Gravellor is 170 kg swaarder as die standaard Villa En-Suite.

Sy tarragewig is 1 370 kg en brutovoertuigmassa (BVM) 1 700 kg. Die lengte en breedte van die woonwa bly identies, maar die Gravellor is 11 cm hoër. Omdat die badkamer in die stert is, moes twee slaapplekke in die slag bly.

Die En-Suite Gravellor kan dus net twee mense huisves pleks van vier – op die eilandbed digby die neus. Dié Gravellor-model word toegerus met onder meer ’n 192 l-Defy-yskas (12 V), Dometic-tweeplaatgasstoof, mikrogolfoond, wasbak en handewasbak, 220 V-gas-elektriese geiser en kassettoilet.

Dan is daar ook ’n ingeboude 75 l-watertenk met ’n inhoudsmeter, gassilinder, 105 Ah-battery (saam met ’n Victron-slimlaaistelsel wat jy met jou selfoon kan beheer), afstandbeheerde ligte en ’n drukwaaier om die stof op grondpaaie uit die wa te hou.

Jy kry boonop ’n voltent en neusbeskermingseil.

Die Villa én Cabana het ’n opwipdak, en die Chateau – Okto se dubbelas-vlagskip – ’n vaste dak. Die Chateau kry wel nie ’n Gravellor-weergawe nie, maar ’n kleiner enkelas, ook met ’n vaste dak, en word in die vooruitsig gestel.

Die syfers: 6,85 (l) x 2,362 (b) x 2,13 m (h); tarragewig 1 370 kg; dravermoë 330 kg; BVM 1 700 kg

Prys: R447 500

Kontak: Die Okto-waens is beskikbaar by Loftus Caravan City in Randburg ( 011 792 1456) en Cara-Camp Caravan & Outdoor Centre op Somerset-Wes ( 021 852 8215); oktocaravans.co.za; info@oktocaravans.co.za

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook