foto’s Leon Botha

Okto is ’n nuwe padwavervaardiger wat nie dinge op die konvensionele manier doen nie. Hy pas hedendaagse tendense toe by die ontwerp en bou van sy waens, wat beteken dit is meer in pas met vandag se kampeerder. Veral met boumateriaal is dit die geval.

Die panele word onder meer van veselglas en aluminium gemaak, wat nie net sterk is nie, maar ook die einde van houtvrot beteken. Nog ’n pluspunt is die feit dat Okto-waens – wat die Cabana insluit – in ’n standaardmotorhuis pas en die woonwa se yskas met 12 V-kragtoevoer werk pleks van die gebruiklike 220 V.

Op ons reis deur die Bosveld het ons geleer al is die Cabana bedoel vir beter paaie, skrik hy glad nie vir ’n grondpad nie.

Stewige fondament

Die Cabana se onderstel – wat die koppelstuk, hoekstutte, remme en as insluit – word deur Al-Ko gebou. Die twee agterste hoekstutte sit gelyk met die romp, terwyl die voorste twee 26 cm weg van die romp se voorkant is. Jy druk die slinger deur ’n gat in die onderkant van die romp om die hoekstut by te kom.

Soos met die meeste boswoonwaens kan die Cabana se neuswiel verwyder word. Dit is iets wat ’n mens nie regtig op padwaens sien nie. Die bakwerk van padwaens is laer as dié van boswoonwaens. Dit beteken die opgetrekte neuswiel is gewoonlik die laagste punt op die wa, en as jy byvoorbeeld oor ’n skerp knikkie moet ry – soos by jou huis se oprit of ’n spoedwal in die pad – kan die wiel haak. Met die Cabana is dié kopseer dus uit die weg geruim.

Die Cabana se neuskas is enorm. Die hele deur lig boontoe op, heeltemal uit die pad – daar’s gasstutte wat help. Verder is die vloer van die neuskas so te sê gelyk met die deuropening, wat beteken jy kan maklik goed in- en uitpak. Die opening self is ook lekker groot.

Die Cabana is 2,36 m breed en die deur 1,67 m. Na binne is die kas 41 cm diep en die binnehoogte is 73 cm. Die gassilinder staan links in die kas, uit die pad, en die 25 l-waterkan regs. Die kas het boonop sy eie lig met ’n skakelaar.

Die noodwiel is nie soos gewoonlik in die middelste deel van die neuskas nie; die noodwielrak is deel van die onderstel en pas agter die regterwiel. Die enigste ander kas waartoe ’n mens van buite af toegang het, is skuins agter die regterwiel. Hierin is twee rakke, met die diepsiklusbattery onder. Dit is egter ver genoeg van die deur af sodat dit nie die pakplek belemmer nie. Dis net die plek vir jou gereedskapkas of van die kinders se speelgoed as jy dit uit die pad wil hou. 

Die sjef se plek

Die woonwadeur sit regs in die linkerpaneel met die buitekombuisgedeelte van die wiel af vorentoe.

Die ander twee deure is vir die kombuis self. Die een die naaste aan die instapdeur slaan na jou toe oop en word met twee paaltjies gestut. Dis ’n lekker ruim blad (915 x 815 mm), en op die rand is ’n rubberstrook om die kas stof- en waterdig te hou.

Gewoonlik veroorsaak dié soort seël opgaarplek vir krummels wanneer jy die blad afvee, maar nie hier nie. Die rubber is goed vas teen die blad en die ronding staan net sowat 2-3 mm uit.

Agter die blad in die romp is nie minder nie as sewe rakkies. Die 20 l-Defy-mikrogolfoond staan heel regs onder langs die blad met vyf van die ander rakkies oop – hier kan jy al jou kruideniersware pak. ’n Kragpunt met plek vir drie- en tweepuntsokke is in die rak langs die mikrogolf. Die borde, bekers en poedingbakkies pas in die boonste rak regs, in ’n uitgesnyde sponsvorm sodat dit heel bly terwyl jy sleep. Regs van die blad is twee USB-sokke as jy dalk jou foon wil laai.

Die Dometic-stoof-en-wasbakkombinasie word op ’n laai uit die voorste kas getrek. Die stoof en wasbak het elkeen sy eie glasblad wat platslaan sodat jy dit ook as ’n werk- of pakplek kan gebruik.

Die stoof is nie aan die gas gekoppel nie; jy moet die gassilinder neffens die laai neersit en dit koppel. Die stoofblad is ’n gerieflike 81 cm hoog (10 cm laer as die ander werkblad) en ook ’n gawe 60 cm breed. Die hele eenheid trek 129 cm uit die romp. As jy langs die blad staan, trek twee laaie by jou skoot uit. Die een is vir die eetgerei en die ander een is oop en jy kan byvoorbeeld van jou speserye hierin pak.

Om die luukse kombuis af te rond haak ’n dubbele droograk van vlekvrye staal op die punt van die werkblad in – iets wat jy nie sommer op enige woonwa sien nie. 

Tyd vir duik

Die woonwadeur maak na regs oop en het ’n klein drankkabinet aan die binnekant waarin vier bottels wyn regop kan staan.

Die trappie is ’n versonke deel binne die wa waarvan die oppervlak gelyk is met die onderste deel van die deurraam – en teen die agterkant is die naam “Okto” uitgesny wat verlig word as jy die ligte aanskakel – ’n goeie voorsmaak van die puik afwerking binne die Cabana.

Die skakelaars vir die ligte is in ’n paneel links van die deur. Hier is ook ’n klein deurtjie wat oopmaak in die buitekas met die borde en bekers. Soos jy inklim, is die eethoekie – wat ook as enkelbed kan platslaan – regs en die eilandbed (min of meer dubbelbedgrootte) links. Die bed se koppenent is teenaan die romp digby die disselboom.

Die matras is nie vierkantig nie en loop smaller na die voetenent toe. By die kop is die bed 136 cm breed en by die voetenent 103 cm. Dit beteken jy kan makliker verby die bed se hoek stap, maar jy moet nietemin dwars draai. Die bed is 187 cm lank. As jy van die deur af na die bed kyk, is dit nie 100% in die middel nie, maar effens na regs.

Links van die bed is daar dus heelwat meer ruimte: Langs die gangetjie is ’n kniehoogte kas – die blad is nie net welkome neersitplek nie, maar dit kan ook lig en het ’n klompie rakkies onder dit.

Twee groot oop laaie – waarin ’n groot verekussing elk kan pas – trek onder die blad uit. Die spieël is links bo die kas en jy kan dit swaai om jouself daarin te sien as jy op die bed sit. Hier is ook ’n bedkassie, terwyl die ander kant net ’n gangetjie het, sonder ’n kassie. Hier is darem ’n hoë hangkas vir klere op hangers.

Bo teen die dak en bo-oor die bed is nog drie kaste waarin jy klere of beddegoed kan pak. Albei slapers het ’n eie leesliggie en hier is ook ’n 220 V-prop en twee USB-punte. Die metaalknippe op die kaste is van hoë gehalte en so ook die kaste regoor mekaar in die middel van die wa. Dié teen die linkerpaneel is skouerhoog met drie deure en het meer as genoeg plek vir ’n maand se klere.

Langs die 12 V-Defy-yskas (met ’n inhoudsmaat van 192 l) is ’n klein werkblad met ’n gesigwasbak daarin. ’n Los deksel pas oor die wasbak wanneer jy dit nie gebruik nie.

’n Helder lig skyn op die blad, en die res van die ligte is weggesteek agter die bokante van die kaste vir sagter lig. Twee LED-stroke is ook dwars teen die opwipdak vasgesit. Weerskante van die bed is twee groot syvensters wat kan oopmaak – die kantgordyn en gordyn voor dit kom wel uit die oude doos; blindings sou beter by die moderne binnekant pas en is ook meer prakties. Dieselfde geld vir die venster in die voor- en agterpaneel.

As jy dié gordyne wegskuif, kan jy in die motor se truspieël deur die wa sien en weet wat agter jou aangaan. Dit is iets wat ’n mens nie meer te dikwels in vandag se woonwaens sien nie, want die agterste paneel is gewoonlik sonder ’n ruit.

Die tegniese goed

Lengte: 5,88 m

Breedte: 2,362 m

Hoogte: 2,02 m

Nokhoogte binne: 1,99 m

Netto gewig: 1 140 kg

Dravermoë: 360 kg

BVM: 1 500 kg

As: 1 500 kg

Wielgrootte: 195 R14C

Prys: R329 000 (sluit voltent in)

PLUS

  • Puik afwerking met die fokus op detail.   
  • Die neuskas is lekker groot en baie toeganklik.  
  • Die verwyderbare neuswiel is prakties.  
  • Die noodwielrak in die onderstel is ’n slim idee.  
  • Die 12 V-yskas is ’n wenner.  
  • Vir meer binnekaste kan ’n mens kwalik vra.

MINUS

  • Die regterslaper het nie ’n bedkassie nie.  
  • Die gordyne is oudmodies.

Ry & Sleep het die Okto Cabana by Loftus Caravan City geleen.

Ry & SleepAs jy so vinnig na die Cabana se sleutels kyk, lyk dit omtrent soos motorsleutels. Dis nie die klein tengerige woonwasleutels waaraan ’n mens gewoond is nie. Die slotte is dus lekker fris en al die kaste met slotte werk boonop met dieselfde sleutel.

Woonwatoets
Woonwatoets