Hoe het jy begin boer?

Ek het op ’n plaas naby Estcourt in KwaZulu-Natal grootgeword, maar ’n ander rigting as my ouers ingeslaan toe ek besluit het om bestuursrekeningkunde aan Universiteit van Stellenbosch te studeer.

In 2000 het ek Londen toe getrek en as aandelemakelaar by Goldman Sachs begin werk. Vier jaar lank was dit net stres, stres, stres... maar nadat ek The Omnivore’s Dilemma deur Michael Pollan gelees het, het ek ’n kopskuif gemaak. Die boek gaan oor die gevolge van ons koskeuses op die omgewing.

Ek het baie geleer van Joel Salatin, ’n boer van Polyface Farms in die VSA. Ek het besluit om ook volgens vernuwende beginsels te boer en kosproduksie tuis te verander.

Ek het in 2004 na Suid-Afrika teruggekeer en in 2008 op die Spier-wynlandgoed begin boer.

Wat is die beginsels van vernuwende landbou?

Die mensdom het ’n geweldig negatiewe invloed op ons planeet se eko-stelsels. Ons moet die natuur herstel, aanvul en herbou terwyl ons kos produseer.

Vernuwende landbouers produseer kos wat propvol voedingstowwe is en herstel die skade wat tradisionele grootskaalse landbou veroorsaak het.

Die belangrikste beginsel waarop vernuwende landbou gebou is, is om ’n klomp diere vir ’n kort tydjie op een klein stukkie grond te laat wei, en dan gereeld hulle kampe rond te skuif sodat die grond vir minstens ses weke kan rus.

Waarom hou jy nie van die woord “volhoubaar” nie?

Wat is daar om mee vol te hou? Waarom wil ons volhou met die huidige besoedelingsvlakke en toenemende kankersyfers, of dieselfde aantal mense wat sterf weens vetsug en hongersnood?

Daar is niks in vandag se wêreld wat volhoubaar is nie, en daarom het ons die woord op die plaas verbied. Die woord beteken niks vir my nie. Ons probeer liewer om alles te herstel; nie om dit te onderhou nie.

Hoe lyk ’n tipiese dag in jou lewe?

Elke dag is anders. Gewoonlik staan ek om 5 vm. op vir ’n bietjie dinktyd. Dan kyk ek na my e-posse en gee aandag aan my sosialemediarekeninge. Ek oefen jiu-jitsu en vat my kinders skool toe; dan is dit tyd om die plaas aan die gang te kry. Van daar af hardloop ek soos ’n dol hoender rond of neem mense op plaastoere. Ek probeer om ná 7.30 nm. na niks elektronies te kyk nie.

Beskou jy jou produkte as nis-items?

Op die oomblik, ja. Maar baie mense kyk die verskuilde koste van kosproduksie mis. Kospryse neem nie die verwoesting van ons omgewing in ag nie; dit sluit ook nie die onverantwoordelike gebruik van antibiotika en die mishandeling van diere in nie.

Ek dink verbruikers se mag lê in die keuses wat ons maak. As ons besluit om etiese boere nou te betaal, sal ons nie eendag ’n fortuin aan doktersrekeninge hoef te betaal nie.

Hoe kan gewone Suid-Afrikaners meer etiese keuses maak as dit kom by kos?

Mense moet besef dat kos jou óf kan genees óf siek maak.

Dan eers begin hulle vrae vra oor waar hulle kos vandaan kom en hoe dit geproduseer word.

Ondersteun gerus die klein ondernemings. Koop jou kos so na as moontlik aan die bron. Vermy suiker en hoogs verwerkte kos.

Wat wil jy nog doen?

Ek werk daaraan om ’n nuwe goedgekeurde uitvoerslaghuis oop te maak en om uitheemse plante op die plaas in biochar te omskep. Dié produk lyk baie soos steenkool, maar die doel is om die grond se vrugbaarheid te bevorder.

* Leer meer oor Angus se plaas en sy visie vir die toekoms by farmerangus.co.za