Hoekom wou jy riviere bestudeer?

Ek het in 1971 aan die Universiteit van Kaapstad begin studeer. Ek was ouer as die meeste ander studente en het nie eens matriek gehad nie. Ek het ’n B.Sc.-graad in dier- en plantkunde verwerf.

Daai tyd het almal doktorsgrade in mariene biologie gedoen. Ek het besluit om stroomop te wees en ’n Ph.D in varswaterekologie aangepak. Ek was nie seker of ek en my man altyd naby die see sou bly nie; dus het ek waterdiere en -plante in die Eersterivier op Stellenbosch bestudeer.

Ek het binne agt jaar twee kinders gehad én ’n Ph.D. voltooi!

Ek het besluit om stroomop te wees en ’n Ph.D in varswaterekologie aangepak...

Hoekom het jy navorsing gekies?

Ek wou nie ’n dosent wees nie; dus het ek aansoek gedoen om befondsing vir die paar uur wat ek per dag kon werk. Toe my kinders hoërskool toe is, het ek voltyds navorsing begin doen. Dit hou jou op jou tone as jy die heeltyd befondsing soek – jy moet sorg dat jou projek relevant is vir Suid-Afrika.

Wie het eerste in jou navorsing belang gestel?

Die Waternavorsingsraad ondersteun my werk sedert die 1980’s. Hulle was bekommerd oor die kwynende gesondheid van Suid-Afrika se riviere. Ons het geweet ander lande maak planne om te verseker dat hulle riviere lewenskragtig bly.

Hulle het gevra dat ek dié veld ondersoek en ’n verslag skryf oor wat in Suid-Afrika moet gebeur. Dit was onbekende terrein – vir my en vir Suid-Afrika.

Wat was jou eerste internasionale projek?

Die Wêreldbank het my aangestel as leier van ’n span om die impak van die Lesotho-Hoogland-waterprojek te ondersoek.

Katse, die eerste dam, is in 1996 voltooi, maar net ’n dun straaltjie water is deurgelaat – dis wêreldwyd veroordeel.

Ons moes vasstel hoeveel water oor die Katsedamwal – en die ander damme wat sou volg – moes vloei sodat daar genoeg water laer af in die rivier sou wees.

Ons het saam met ’n Australiese ingenieurs-maatskappy aansoek gedoen om die kontrak. Een van die voorwaardes was dat ’n ekoloog die projek moes lei – iets wat voorheen ongehoord was!

Jy was ’n raadgewer vir die Pakistanse regering?

Ja! Een aand lui my foon en ’n stem vra: “Dr. King? Dis die regering van Pakistan. Ons het ’n grensgeskil met Indië. Kan jy help?”

Pakistanse wetenskaplikes het ’n verslag saamgestel oor die impak van ’n dam wat Indië stroomop van die Kasjmirstreek wou bou.

Hulle wou hê ek moet dié verslag nagaan. Almal weet dit sou ’n ekologiese ramp wees indien water nie deurgelaat word na Pakistan nie. Ons model kon dié vertraging van vloedwaters en ander gevolge verduidelik.

Ek was ’n spesialisgetuie vir Pakistan by die Permanente Hof vir Arbitrasie in Den Haag.

Dr. King in Pakistan.

Wat was die uitslag?

Ingevolge die Indus-waterverdrag mag Indië ’n dam bou, maar water moet deurvloei na Pakistan. Indië kon nie die volle vloei tydens die droëseisoen verlê soos beplan nie.

Die regters het gevra ons moet uitwerk hoe sensitief die rivierstelsel is vir verandering in vloei sodat hulle kon bepaal hoeveel water oor die damwal moet vloei. Ek het nog nooit gehoor dat ’n hof so ’n vraag vra nie – en ons model kon dit beantwoord!

Hoekom is jou model belangrik?

Voor dié model het regerings en befondsers meestal besluite oor dam- en waterontwikkeling geneem op grond van winste.

Sulke ontwikkelings het baie voordele, soos hidroëlektrisiteit en voedselsekerheid, maar daar is ook koste aan verbonde: Soos siektes wat deur water versprei word, ’n afname in watergehalte en erge vloede en droogtes.

Die model kan dié ekologiese en sosiale koste van verswakte riviere beskryf. Ons werk om dié inligting deel te maak van die eerste fase van besluitneming in plaas van dat dit ’n vertraagde reaksie is op ’n besluit.

Dit klink nie juis asof jy afskaal nie?

Ek het al ’n paar keer probeer aftree! Ek het in 2008 afgetree by die Universiteit van Kaapstad, en toe weer in Februarie vanjaar ná ’n laaste werkuitstappie na die Okavango.

Ek het 1 Maart tuis gekom en gedink: “Dis dit, ek’s klaar.” Maar toe op 2 Maart bel Stockholm.Ek was dus net 12 uur afgetree. Die mense van Stockholm het ’n strawwe skedule opgestel!

Wat beteken die prys vir jou?

Dis wonderlik en verfrissend, maar weet jy, ek’s deel van ’n opwelling van mense wat sáám hierdie werk verrig. Namate die bekommernis oor ons planeet toeneem, moet waterkenners saamstaan. Die prys gee my moed om aan te hou probeer. Ek het onlangs vir jong wetenskaplikes gesê: “Wil jy gestimuleer, opgewonde, moeg, bang en op geskreeu wees deur mense wat nie dinge wil verander nie? Kom werk by ons.” En hulle kom, hoor. Hulle wil deel wees van die verandering.

Wat is jou gunstelingriviere?

Die Mekong in Suidoos-Asië het ’n klomp aangenome kinders vir my gegee: agt Kambodjaanse seuns, twee Thaise dogters en twee seuns van Laos.

Die Okavango het gesorg vir wonderlike kollegas van Angola, Namibië en Botswana. En laastens die riviere op Tafelberg; my tuiste, waar ek met my hond gaan stap en vrede kry.

Dr. King beplan om ’n groot deel van die prysgeld te bestee op ’n ikoniese rivier in Suider-Afrika. Sy is reeds in gesprek met dié land se waterbestuurders en akademici.