Faansie met ’n rooibekkwelea

Van waar die liefde vir die buitelewe, en vir voëls? My eerste herinneringe is van voëls; dit is dus van kindsbeen af. Deur al die tipiese seuntjiebelangstellings en fases waardeur ek gegaan het, is voëls die een ding waarby ek vasgehaak het. Ek was gelukkig om ’n klipgooi van die Moreletakloof-natuurreservaat in Pretoria af groot te word. Ek het elke moontlike kans gebruik om tyd daar deur te bring: Boomklim, stap op die paadjies, klippe omdraai en later ook skelmpies vry! Tussendeur was voëls maar altyd daar.

Wat behels jou werk? Dit is ’n uitdaging om ’n bestaan te maak as ’n professionele voëlkyker as jy nie ’n gids is of deur ’n bewarings- of akademiese instelling aangestel is nie. My ander groot passie is boeke; en ek kombineer voëls en boeke as my werk. Ek skryf, illustreer, redigeer, doen die uitlêwerk en grafika, verwerk foto’s en teken kaarte. Ek sien myself as ’n tussenganger tussen die ornitologiese wêreld en die publiek.

Ons is nuuskierig: Hoeveel kommentaar kry jy oor die feit dat jy – ’n professionele voëlkyker – ’n voëlnaam as van het? Baie mense vermoed ek gebruik dit as ’n verhoognaam of ’n bemarkingsfoefie, maar ek het die geboortesertifikaat om die waarheid te bewys. Miskien was dit altyd my voorland om met so ‘n van in voëls belang te stel! Hoe ook al, dit is vir my ’n voorreg om genoem te wees na die een van die indrukwekkendste spesies op ons planeet.

Wat is die beste deel van jou werk? Die gevoel wat ek kry as ek na voëls kyk – ek voel nietig en staan verwonder oor dié oeroue, diverse groep waarmee ons die planeet deel. Dis ’n voorreg om my passie ook my beroep te maak. Veldwerkdae is die lekkerste dae; dan maak ek klankopnames of video’s of samel data in vir bewaringsprojekte. Om onverwags iets besonders raak te loop is die oomblik waaroor elke voëlkyker droom. Net ’n week gelede het my paadjie in die Sederberg met dié van ’n gestreepte vleikuiken gekruis. Dit was maar net ’n paar sekondes, maar ek sal dié oomblik vir altyd onthou.

En die slegste deel? Mense neem aan ek bring elke dag heeldag in die veld deur, maar ongelukkig is ek die meeste van die tyd voor ’n rekenaar vasgeketting soos almal anders. Om op ’n Maandag e-posse te antwoord is die slegste! Ek is soms bekommerd oor die toekoms: Daar is soveel voëlspesies wat aan die kwyn is. Ek wonder of my seuns nog eendag hierdie voëls in die natuur sal kan sien. (Christian Regulus, 5, en Owen Callum, 2, is genoem na voëls se wetenskaplike name.)

Watter raad het jy vir mense wat graag beter voëlkykers wil word? Daar is ’n groeiende neiging vir mense om met kameras eerder as verkykers voëls te kyk, en dan die foto’s na kenners vir identifikasie te stuur. As jy voëlskyk regtig wil bemeester, is my raad om eerder self te probeer – selfs al sukkel jy en maak foute. Dit is juis hoe ’n mens die beste leer.

Pleks van ’n lang lys najaag, vat jou tyd en bestudeer ’n enkele spesie sodat jy dit werklik leer ken. Probeer om die verskillende ouderdomsgroepe van swartrugmeeue uit te ken. Of maak ’n studie van die gedrag van die lysters of janfrederike in jou tuin.

"Onthou: Dis baiekeer belangriker om na ’n voël se vorm, grootte en postuur te kyk as na sy verekleed – dis hoe die boffins so vinnig ’n skaars spesie uitken tussen ’n warboel waadvoëls."
Faansie Peacock

Onthou: Dis baiekeer belangriker om na ’n voël se vorm, grootte en postuur te kyk as na sy verekleed – dis hoe die boffins so vinnig ’n skaars spesie uitken tussen ’n warboel waadvoëls.

Het jy ’n gunstelingspesie? Ek het ongeveer 10 000! Elkeen is uniek en betowerend op sy eie manier. Ek stel belang in voëlkommunikasie, en families wat ingewikkelde sang en roepe het, interesseer my dus die meeste, ondanks hulle vaal voorkoms – veral lewerike en sangers.

Seevoëls het ook ’n spesiale plek in my hart. Ek vind roofvoëls baie frustrerend, en daarom ook baie fassinerend. Maar vir die storie oor my enkele gunstelingspesie, sal lesers die volgende paar uitgawes van Weg moet dophou!

Watter voëlspesie (wat jy nog nie self gesien het nie) sal jy die graagste wil “afmerk”? Behalwe vir ’n paar verdwaalde swerwers, is daar regtig net enkele spesies in Suider-Afrika wat my nog ontwyk: Die basrarietsanger is ’n skaars somerbesoeker aan die vloedvlaktes en rivierbos van Mosambiek, en is hoog op my lys. So ook die Caprivi se spitsstertglansspreeu, die Zambesi-vallei se njassaparkiet en die dunbekheuningvoël van Zimbabwe se miombo-landskappe.

Die Australiese malgas wat saam met duisende witmalgasse op Malgaseiland in Saldanhabaai broei, is ’n besonderse teer puntjie. Met ’n teleskoop kan ek die massas voëls van my stoep af sien rondmaal, maar om vir ’n enkele individu te soek in die chaos van die kolonie is ‘n ander storie. Ek sal binnekort ’n plan maak om ‘n paar dae op die eiland deur te bring, en hierdie hoofstuk afsluit.

Wêreldwyd is daar natuurlik baie ander voëls wat ek graag eendag wil gaan soek – met die Suid-Amerikaanse kolibries heel boaan die lysie!

Het jy ’n gunstelingplek om voëls te kyk? Nie juis nie. Ek gaan nie uit om te gaan voëlskyk en kom dan terug nie. Ek is altyd besig om voëls te kyk, waar ek my ook al bevind. Dit klink dalk vreemd, maar om die mossies in my buurt dop te hou gee my net soveel vreugde as om baardaasvoëls in Lesotho te soek. Maar as dit by adrenalienvlakke kom, is daar niks so opwindend soos ’n vleiland vol riethane, kwarteltjies en snippe nie!

"Dit klink dalk vreemd, maar om die mossies in my buurt dop te hou gee my net soveel vreugde as om baardaasvoëls in Lesotho te soek."
Faansie Peacock

As my skip inkom… haal ek die kinders vir ’n jaar uit die skool, en toer saam met hulle en my vrou, Ronél, al langs die 75° wes-lengtegraad.

Van die yslandskappe van Groenland en Kanada af sal ons die migrasie suidwaarts deur die VSA volg. Dan na ’n paar eilandbestemmings in die Karibiese See (insluitend Kuba, om die wêreld se kleinste voëlspesie te sien – die by-kolibrie word maar 5-6 cm lank!). En van daar af deur die planeet se voëlrykste lande soos Colombia en Peru, tot by Antarktika. Sjoe.

Faansie skryf van hierdie maand af vir Weg die rubriek “Vir die voëls”. Lees die Maart-rubriek hier.