Van waar die liefde vir die natuur en bewaring?

Dis van kleins af reeds daar: Ek is nog altyd lief vir diere, dié wat reg oor die wêreld voorkom, maar veral ons eie vasteland s’n. Ons is bevoorreg om van die wêreld se ongelooflikste diere hier in Suid-Afrika te hê, en dis hartseer dat diere soos renosters in sulke groot moeilikheid is. Dis ook nie net renosters nie! Ons olifante, leeus, ietermago’s, wildehonde, jagluiperds en kameelperde se getalle neem ook af.

Hoekom wou jy geld insamel vir renosterrehabilitasie en -bewaring?

Ek het in 2015 gehoor van Osita, ’n babarenostertjie wat wees gelaat is by die Aquila- private wildreservaat.

Ek het geweet hy sal sonder hulp vrek en het die storie op sosiale media dopgehou. Hy het so koud en alleen gelyk! Ek het met my eie sakgeld begin en ook by familie en vriende geld ingesamel vir sy versorging en uiteindelik ’n Facebook-blad gestig.

Deur my reis met Osita en die toegewyde span by Aquila het ek soveel meer oor die stroperkrisis geleer en my droom om net een renoster te help het gegroei tot ’n groter doelwit: om al ons renosters te red.

Hoe het dit gevoel om die Eco-Hero-jeugtoekenning te wen?

Dit was ’n groot eer. Daar is wonderlike kinders wêreldwyd wat goeie werk vir ons planeet doen. Die toekenning gee my die kans om my boodskap na meer mense – en veral kinders – wêreldwyd te versprei.

Mense moet weet dat ons tyd om ’n verskil te maak al minder word: Kinders is die toekoms van ons planeet en ons moet nóú opstaan en ’n verskil maak.

Ek hoop die toekenning sal meer kinders inspireer om dit te doen.

Het jy enige ander projekte waaraan jy werk?

Ek sal aanhou doen wat ek doen: Om geld in te samel vir mense wat ’n verskil maak en volstoom werk om renosters te beskerm.

Geld is egter nie genoeg nie: Ek wil aanhou om kinders hier en in plekke soos Viëtnam en China (waar daar ’n groot vraag na renosterhoring is) op te voed oor renosterbewaring.

Ek het ’n renosterstorieboek vir kinders, The Last One, geskryf en is op soek na ’n goeie illustreerder en uitgewersmaatskappy om te help om dit uit te gee. Ek wil dit graag by skole in Suid-Afrika en Asië versprei om te help met bewusmaking.

Hoe gaan jy die prysgeld spandeer?

Ek is nog nie heeltemal seker nie, maar ek sal dalk daarvan moet gebruik om die storieboek gepubliseer te kry – hoe gouer, hoe beter. Anders sal ek die geld skenk.

Hoe kan mense betrokke raak?

Elke bietjie help. Deel van my plasings op sosiale media – of dié van ander bewaringsorganisasies en help met bewusmaking. Jy kan my nooi om by jou skool of met jou kollegas te kom praat.

Reël ’n geleentheid om geld in te samel – van die kinders wat ek al by praatjies ontmoet het, het byvoorbeeld verjaardagpartytjies met ’n renostertema gehou.

Of maak ’n skenking aan mense wat reeds ’n verskil maak, soos die ouens by Saving Private Rhino (savingprivaterhino.org) en Saving the Survivors (savingthesurvivors.org).

Wat is jou raad aan kinders wat ook wil help, maar nie weet waar om te begin nie?

Glo in jouself en jou vermoë om ’n verskil te maak. Ek het geleer dat enigiets moontlik is, selfs al is jy jonk. My reis het begin toe ek agt jaar oud was, en ek is trots op wat ek al reggekry het.

As my skip inkom... Sal ek my eie nieregeringsorganisasie begin. Ek sal my leër van renostervegters na Asië vat en na van die grootste stede tot die kleinste dorpies reis om die mense daar te leer oor ons spesiale diere. Ek wil ’n nuwe geslag kweek wat nee sê vir renosterhoring, olifanttande, leeubene, en ietermago-skubbe!

Maar laat ek eerlik wees: Ek sal ’n deel van die geld ook wil gebruik om ’n mooi stukkie Afrika te besit – my eie bosreservaat met die beste sekuriteit en gesonde wildbevolkings.

Vir ’n ontspannende vakansie, gaan ek en my gesin bos toe. Ons hou daarvan om diere te soek en my ma hou veral daarvan as ons kan wegkom van selfone en tablette!

Ek sal graag weer wil Krugerwildtuin toe gaan: Ons was al een keer daar, maar net vir ’n paar dae – ek het gehuil toe ons moes ry!

My droomvakansie is om saam met my gesin in ’n groot lorrie van Kenia af tot in Kaapstad te ry. Ons sal deur al die groot wildreservate en -parke langs die pad ry – dink net wat ons alles te siene sal kry!

Volg Hunter se Facebook-bladsy

Gaan na actionfornature.org om oor die ander Eco-Hero-wenners te lees.