Jy is ’n geologiespreker op ’n ekspedisieskip.

Ja. Ek het in 2011 my honneursgraad in aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, maar wou nie dadelik begin werk nie. My droom was om ’n beroepsbranderplankryer te word! Ek is vier maande lank Hawaii toe om van die grootste golwe ter wêreld te ry.

Ek het my doelwitte bereik en massiewe golwe gery, maar roem en rykdom het my ongelukkig ontwyk.

Ek het teruggekeer huis toe. Ek was onseker oor my toekoms. ’n Familievriend het my van die ekspedisievaartbedryf vertel, maar dit het my nie juis geprikkel nie.

’n Rukkie later laat weet sy hulle soek dringend ’n geoloog, en uit desperaatheid stuur ek my CV. Hulle het my byna onmiddellik gebel. Ek het ’n naweek gehad om my voor te berei vir ’n Skype-onderhoud.

Drie weke later was ek op ’n vliegtuig op pad na die skip in Japan.  

Wat is ’n ekspedisievaart?

Baie reisigers het deesdae ’n behoefte om iets anders te doen as om die gewone plekke soos Parys of Rome te besoek. Hulle is lus vir avontuur en ’n unieke ervaring. Ekspedisieskepe kan net tussen 100 en 200 passasiers vervoer, en vaar na afgeleë bestemmings soos die Noordpool, Antarktika en die Galápagos-eilande.

Hierdie skepe is gewoonlik toegerus met Zodiacbote, ’n soort snelboot wat gaste na plekke vervoer waarby ’n groter skip nie kan uitkom nie.

Ek is ’n lid van die ekspedisiebemanning en neem onder meer gaste op stap- en duikuitstappies van die Zodiacs af, meestal om natuurlewe te sien.

Bemanningslede bied lesings in hulle onderskeie vakgebiede aan, soos mariene biologie, geskiedenis, ornitologie en plantkunde.  

Wanneer het jy begin foto’s neem? 

My beste vriend op universiteit het saam sy geologiegraad ook ’n fotografiediploma voltooi.

Hy het aangebied om foto’s te neem terwyl ek branderplank ry. Die fotonemery het lekker gelyk.

Op ekspedisies sien ek elke dag besonderse natuurlewe en landskappe. Dit sou ’n jammerte wees om nie dié ervarings te deel nie. Ek het my tegniek verfyn deur die beroepsfotograwe aan boord met vrae te peper.  

Waarheen het jy al oral gereis?

Ek het al ’n paar ongelooflike plekke gesien, van Alaska se deurgange tot die ongerepte Kamchatka-skiereiland aan die kus van Rusland.

Van my topbestemmings sluit die minder ontwikkelde weskus van Japan in; die Chileense fjords; Fidji (vir die branders); die afgeleë Tristan da Cunha-eiland; en die spierwit Antarktiese skiereiland wat jou telkens verstom.  

’n Oomblik wat vir jou uitstaan?

Die Yankicha-eiland, deel van die Kuril-eilandgroep in Rusland, is ’n vulkaan wat ineengestort en ’n massiewe krater gevorm het. Die krater is gevul met water. Jy kan dit slegs met ’n Zodiac bereik en die gety moet reg wees.

Die eiland word omring deur reusagtige kranse waarteen seevoëls hulle neste bou. Een van die minder bekende natuurwonders van die wêreld speel elke Julie hier af: Miljoene seespreeus (sea sparrows of auklets), ’n spesie wat net hier voorkom, kom broei. Ek het eenkeer die krater ingevaar; dit het gewemel van seespreeus. Ek het meer as ’n uur daar deurgebring. Ek was stoksielalleen op een van die mees ontoeganklike plekke ter wêreld.  

Wat het jou ervarings jou geleer?

Daar is nie ’n beter land as Suid-Afrika nie. Ons oseane se diversiteit is ongeëwenaar en jy hoef nie ver te reis om wilde diere te sien nie.  

Jou werk klink perfek... wat is die uitdagings?

Ek bring baie tyd in ongemaklike posisies op vliegtuie deur – ek is ses voet vier!

Ek het ook nie ’n “normale” lewe nie – dikwels verloop maande waarin ek nie my gesin sien of branderplank ry nie.

Dis nie altyd maklik om gaste se verwagtinge te bestuur nie. Daar is nie elke dag ’n epiese ontmoeting met wilde diere nie, en soms wil die weer net nie saamspeel nie.

Ek moes ook my vrees oorkom om met groot groepe mense te praat. En dis moeilik om mense begeester te kry oor geologie. Die walviskenners het dit veel makliker...

Wat is altyd in jou rugsak?

’n Sarong wat ek in Mosambiek gekoop het. Ek het die idee gekry in een van my gunstelingboeke, The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy deur Douglas Adams.

Adams skryf dat ’n handdoek die nuttigste ding is vir ’n ryloper wat tussen sterrestelsels reis. Amen! 

Volg James se avonture op Instagram by @jameslowe783 en sien sy portefeulje in Weg #187

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook