Van waar die liefde vir reis en die buitelewe?

Ek het in Krugersdorp grootgeword. Op skool was ek bevoorreg om gereeld gimnastiekkampe landwyd by te woon en ook oorsee te toer. Dié kampe op plekke soos Die Oog in Mookgophong en Rustenburgkloof het my lief gemaak vir die natuur.

Ek het die wêreld gesien en kon sonder moeite oral gaan waar ek wou. Ons gesin het elke jaar in die KwaZulu-Natalse Suidkus vakansie gehou, by blekke soos Hibberdene, Umtentweni en Shelly Beach. Dit het egter alles in 1982 verander toe ek in ’n gimnastiekongeluk beseer is en ’n kwadrupleeg geword het.

Wat het gebeur?

Ek het op my nek geval in ’n tuimelkompetisie, my sesde en sewende nekwerwel gebreek en die senuwee ernstig beskadig. Ek was ses maande lank in die destydse H.F. Verwoerd-hospitaal vir rehabilitasie.

Vandag bestuur ek ’n motor. Ek het ook al ’n woonwa gehad wat ek toeganklik gemaak het vir ’n rolstoel.

Hoe gou ná jou ongeluk het jy weer begin reis?

My begeerte om te kamp en te toer het nie verdwyn nie, maar ek het gou agtergekom dit sou nou heelwat moeiliker wees. In die tagtigerjare was plekke ontoeganklik vir mense in rolstoele; lugdienste wou my nie sonder ’n helper op vlugte toelaat nie; en advertensies vir gastehuise het verkeerdelik gesê plekke is toeganklik.

My oom het vir die destydse Nasionale Parkeraad gewerk en ek het onmiddellik ná my rehabilitasie gereeld vir hulle in die Bergkwagga- nasionale park gaan kuier.

Daar het ons baie idees uitgeruil om die nasionale parke meer toeganklik te maak vir rolstoelgebruikers.

My begeerte om te kamp en te toer het nie verdwyn nie, maar ek het gou agtergekom dit sou nou heelwat moeiliker wees.

Ek het in 2001 saam met die SA rolstoelrugbyspan na Nieu-Seeland en Australië getoer en is ook in 1990 as afrigter saam met die Nasionale Tuimelspan na kompetisies in Duitsland en Rusland.

Hoe was jou ervaring in die buiteland?

Oorsese bestemmings was baie meer toeganklik. Daar was altyd hulp om uit busse en taxi’s te kom. Ek het ook in 2011 ’n robotics-span van ons skool na Frankryk en Nederland geneem.

Om die toer self te beplan met rolstoeltoeganklikheid in gedagte was eenvoudig, sonder probleme. Met die verloop van tyd word al meer inligting aanlyn en in internasionale tydskrifte soos Access Travel Australia en Disability Travel in Greece beskikbaar.

Wat is die grootste uitdaging wanneer jy plaaslik reis?

Hier is ’n groot leemte in Suid-Afrika as dit kom by inligting oor die toeganklikheid van plekke (bestemmings en blyplekke). Reistydskrifte en -webblaaie behoort eintlik sulke inligting in te sluit wanneer hulle oor plekke skryf.

Hier is ’n groot leemte in Suid-Afrika as dit kom by inligting oor die toeganklikheid van plekke...

Party plekke sê hulle is rolstoeltoeganklik en as jy daar kom, is daar ’n trappie by die ontvangskantoor of by die kleedkamers. En sekere lugdienste laat my steeds nie sonder ’n helper toe nie.

Die webblad rollingsa.co.za het ’n lys met rolstoelvriendelike blyplekke in Suid-Afrika, maar dis ’n skande dat daar slegs 15 plekke op dié lys is.

Waarna kyk jy as jy ’n blyplek kies?

Mense met gestremdhede weet plekke soos ’n woonwapark kan nie die hele kampterrein toeganklik maak nie. Maar hulle kan gerus een staanplek naby die ablusiegeriewe en ontvangskantoor so toeganklik as moontlik maak.

Die ablusiegeriewe moet onder meer ’n oprit na die gebou hê, asook deure wat breed genoeg is, handrelings in die badkamer en ’n wasbak op rolstoelhoogte. Die eienaar moet bloot ’n rolstoel leen, daarin klim en kyk of hy self by die plekke in sy kampterrein kan uitkom.

Gastehuise behoort ’n rolstoeltoeganklike ingang by die ontvangskantoor te hê en een slaapkamer met ’n badkamer waarin ’n rolstoel kan pas. Ek en my vriendin, Ronel Cronje, het verlede jaar op Port Alfred gaan kamp.

Die ablusiegeriewe het ’n oprit vir ’n rolstoel gehad met ’n rolstoelteken teen die muur. Maar twee meter verder was daar ’n trappie by die deur. As dit nie vir daai trappie was nie, sou ek sonder hulp kon stort.

Hoe is die rolstoeltoegang in Suid-Afrika in die algemeen?

Plekke het die afgelope 36 jaar baie verbeter. Al ons nasionale parke en die ATKV-oorde is toeganklik vir rolstoele. Loftus Karavane in Randburg ombou woonwaens vir mense in rolstoele.

Sommige blyplekke soos Helena’s Overnight-gastehuis in Bloemfontein en die Weesgerus-vakansieoord in Modimolle is ook baie goed.

Die webblad lekkeslaap.co.za is verreweg die beste inligtingsbron vir rolstoelvriendelike blyplekke. Tog het ek al by van hulle blyplekke ook probleme ondervind.

Wat is die één ding wat jy wens mense verstaan oor mense met gestremdhede?

Mense met gestremdhede is gewone mense wat ook hou van reis en kamp. Om ’n plek rolstoeltoeganklik te maak is eenvoudig en kos nie baie nie.

Wat is jou gunstelingbestemming in Suid-Afrika, en hoekom?

Enige plek waar ek my stokperdjie as fotograaf kan uitleef wat so toeganklik as moontlik is – ek is mal oor plekke soos die Ratlhogo-skuiling in Pilanesberg en die Addo-olifant- nasionale park.

As my skip inkom… sal ek beslis meer in ons land wil toer en klein plekke in die Karoo soos die koppies Teebus and Koffiebus langs die R56 wil besoek. Ek wil ook graag Botswana en Namibië sien.

Jou droombestemming?

Ek beplan juis ’n lekker toer vir my sestigste verjaardag volgende jaar, maar besluit nog of dit oorsee of plaaslik gaan wees. Dalk Rio de Janeiro, Viëtnam of Kroasië. Of dalk kry ek ’n toeganklike wildreservaat in Suid-Afrika.

Omdat ek ’n kranige fotograaf is, sal die Zimanga- private wildreservaat met sy spesiale fotografieskuilings in KwaZulu-Natal ’n droombestemming wees.