Prins William is die beskermheer van dié toekennings wat vanjaar vir die eerste keer in Afrika gehou is. Lucky en sy span het sy senior offisier gearresteer nadat dié by stroping betrokke was.  

Van waar die liefde vir die buitelewe? Ek is in Suid-Afrika gebore, maar het in Mosambiek grootgeword, naby die dorpie Mapulanguene. Ek was veewagter vir my familie se beeste in die bos. Ek het my eie honde gehad, vir beskerming en om die beeste aan te keer. Ons het van die veld geleef – geboer en gejag.  

My oupa en pa was albei veldwagters en vandat ek 10 jaar oud was, het ek ook in die park grootgeword. Daai dae was die reëls nie so streng nie en ek het gewoonlik saam met my pa gegaan om te kyk wat hy by die werk doen.  

Ek wou die plek waar my oupa en pa grootgeword het, beskerm. Dis die diere wat my familie aan die lewe gehou het; daarom wil ek die diere beskerm sodat my kinders ook in die Krugerwildtuin kan werk.  

Bron: Tusk trust se Youtube-video

Wanneer het jy self by die wildtuin begin werk? In 1992, as ’n sekerheidsbeampte. Ná ’n jaar het ek die keuring vir veldwagters gedoen en deurgekom. Ek is toe opgelei en aangestel as veldwagter by die Punda Maria-deel. Ek het tot 1997 daar gewerk en is toe na Kingfisherspruit geskuif, waar ek sedertdien gebaseer is. Ek is bevorder tot veldwagter-korporaal in 2002 en tot veldwagter-sersant in 2016.  

Wat is die gunstelingdeel van jou werk? Om saam met my K9-hond, Ngwenya, te werk. Ek het saam met honde groot geword, en geniet dit om saam met hulle te werk. Ngwenya is opgelei om onwettige middele en vuurwapens op te spoor. Ons werk al sedert 2009, toe sy nog ’n klein hondjie was, saam en sy gaan oral saam met my op patrollie.  Sy het my al baiekeer gered deur my teen gevaarlike diere te waarsku.  
 

En die slegste deel? Konfliksituasies en wanneer kollegas nie hulle werk doen nie – dit is nie lekker om hulle te moet teregwys nie. Om te sien hoe kollegas voor die versoeking van renosterstroping swig, is ook sleg.  
 

Hoe het dit gevoel om die Tusk-toekenning te wen?Ek is baie dankbaar vir dié toekenning. Dit is goed vir my én vir die span om erkenning te kry. Die toekenning het my weer energie vir my werk gegee – ek voel soos ’n nuwe veldwagter! Dit maak nie saak hoe moeilik die werk word nie, ek sal toegewyd bly en nie korrup word nie.  

Om die toekenningsgeleentheid in Kaapstad by te woon, was ook ’n fantastiese ervaring. Dit was my eerste keer op ’n vliegtuig en ook die eerste keer wat ek so ’n mooi plek soos Kaapstad sien.  


Kyk hier na die video wat die Tusk-trust oor Lucky en sy werk gemaak het:

   

Hoekom is bewaring so belangrik? Dit sorg vir die natuur en gee aan die natuur en diere waarde. Dit skep werk vir mense wat in dié gebiede bly. Ons moet ook diere soos die renoster vir toekomstige generasies bewaar.  

Wat maak van iemand ’n goeie veldwagter? Jy moet jouself kan motiveer. Jy moet ’n hart vir die werk hê en toegewyd wees – dit begin alles by die huis. ’n Mens moet geduldig en vasberade wees, want daar is baie moeilike dele aan dié werk.  

Hoe help gewone Suid-Afrikaners in die stryd teen renosterstroping?  
Bewusmaking van renosterstroping moet nog verder versprei, want mense verstaan nie altyd wat die waarde van wilde diere is en wat dit tot hulle lewe bydra nie. As mense van jongs af opgevoed word hieroor, sal hulle dit ondersteun. Die hele land se ondersteuning is nodig om dié stryd te wen.  

As ek die Lotto wen… sorg ek heel eerste vir my vyf kinders. Ek sal seker maak hulle kry ’n goeie opvoeding, want dit sal hulle toekoms bepaal.  

Vir ’n ontspanne vakansie… Ek het nog nie baie gereis nie, maar om Kaapstad te sien was heerlik: Ek dink ek sal teruggaan om nog van die plek te sien.  Ek sal ook graag eendag oorsee wil reis, dalk na Engeland of Amerika.   

Bron: Tusk trust se Youtube-video