Dié sku diertjie is die soogdier waarmee daar die meeste in die wêreld handel gedryf word. In sy nuutste boek, Pangolins – Scales of Injustice, ondersoek die natuurskrywer Richard Peirce hoe ’n spesifieke ietermagog in Zimbabwe gestroop en oor die grens gesmokkel word, en hoekom daar so ’n groot mark vir wilde diere in China en Suidoos-Asië is.

Wat het jou belangstelling in die natuur geprikkel?

Ek vermoed ek het nooit die belangstellings van my kinderdae ontgroei nie. Soos baie seuns het ek van groot diere soos haaie, leeus, tiere, olifante en walvisse gehou. As volwassene het ek die voorreg gehad om na wilde plekke te reis en het baie van die spesies teëgekom wat my as kind geboei het.

Ek is byna so oud soos The Rolling Stones en met tyd kom wysheid: Ek het oor die afgelope vier dekades al meer bewus geraak van hoe baie spesies deur uitwissing in die gesig gestaar word.

Die mens is nie die enigste spesie met die reg om ’n goeie lewe op aarde te leef nie en ek verpes hoe die mensdom die planeet en diere vernietig. Die rol van natuurskrywer en -aktivis pas my goed.

Hoekom is jy so passievol oor die beskerming van ietermagogs?

Die ietermagog is die soogdier waarmee daar die meeste in die wêreld handel gedryf word. Toe ek dít uitvind, was ek woedend en het dadelik geweet dat hulle die onderwerp van my volgende boek moet wees.

Al my boeke gaan oor die ware verhale van regte diere. Ek leer ken die diere en sodoende neem die projek vir my ’n persoonlike dimensie aan. Ek het met baie mense onderhoude gevoer vir dié boek, en almal het my vertel hoe spesiaal ietermagogs is.

Daar is iets magies en byna raaiselagtig omtrent die ietermagog. Hulle oë veral is aangrypend. Hulle is kalm, wys, kwetsbaar én innemend. Ons moet alles in ons vermoë doen om hulle voortbestaan te verseker.

Hoe het jy die navorsing vir die boek aangepak?

Groot dele van my boeke is ’n kombinasie van feit en fiksie omdat ek my bronne se identiteit wil beskerm en nie die wet wil oortree nie. My navorsing is altyd noukeurig, en wanneer ek iets versin, is dit op feite gebaseer en word nagegaan deur die mense wat direk betrokke is.

Ek maak ’n klankopname van my waarnemings en onderhoude – dit verseker dat my inligting akkuraat is, en inspireer my wanneer ek kreatief moet raak.

Wat was die opwindendste deel van die boek?

Dis maklik: My eerste ontmoeting met ’n ietermagog.

En die grootste uitdaging?

Elkeen van my boeke bied dieselfde uitdaging: Ek wil graag die onderwerp tot sy reg laat kom. Ek is ’n storie-verteller en my werk het vier fases. Eers moet ek ’n dier of spesie identifiseer wat kan baat by bewusmaking oor ’n spesifieke faset van sy bestaan. Dan moet ek ’n storie soek wat lekker sal werk, dit navors en skryf.

Laastens hoop ek dat my boek, sy bekendstelling en my verskynings op radio- en televisie-programme my die geleentheid sal gee om die betrokke spesie onder mense se aandag te bring.

Wat is die interessantste feit wat jou navorsing opgelewer het?

Die ietermagog het soveel interessante eienskappe wat sy gedrag en fisiologie betref, maar die uitwerking wat hierdie diere op mense het, het vir my uitgestaan.

Soveel kulture oor die ganse Afrika het ’n unieke verhouding met die ietermagog. Izak Kruiper, ’n Khomani-San-leier van die Kalahari, het een van die voorwoordinskrywings vir my boek geskryf en dit was ’n belewenis om met hom oor hierdie diere te praat. Dis moeilik om presies te sê waarom, maar die ietermagog is ’n betowerende dier.

Hoekom word die ietermagog na lande soos China en Viëtnam gesmokkel?

Daar is ’n groot vraag na “ietermagogprodukte” in Suidoos-Asië. Oor die afgelope 30 jaar het die bevolkings van dié gebied toegeneem en mense het meer welvarend geword, wat gelei het tot ’n groeiende mark vir hoofsaaklik wilde diere uit Afrika.

Die ietermagog se leer, vleis en skubbe word gebruik; die leer is baie gesog in sommige lande in Oos-Asië. Ek is eenkeer van die vleis vir middagete in Ho Chi Minh-stad in Viëtnam aangebied.

Hulle skubbe word al honderde jare lank vir tradisionele Chinese medisyne gebruik om enigiets van borsvoedingsprobleme tot artritis te behandel. Tog lyk dit asof die vraag na ietermagog-produkte aan die afneem is. Nadat die Covid-19-pandemie uitgebreek het, het die Chinese regering ietermagogskubbe van sy amptelike lys van medisyne verwyder.

Is daar ’n verband tussen die ietermagog en die Covid-19-virus?

EARS-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, is die derde EARS-virus wat in hierdie eeu van diere na die mens versprei het. Die eerste virus, net bekend as EARS (ernstige akute respiratoriese sindroom), het in 2002 verskyn en hoofsaaklik mense in China en Suidoos-Asië aangetas, hoewel daar ook baie gevalle in Kanada aangemeld is.

Die tweede virus was MERS (Midde-Oosterse respiratoriese sindroom), wat in 2012 in Saudi-Arabië aangeteken is – albei dié virusse was meer dodelik as Covid-19.

Dit wil voorkom asof die eerste EARS-virus na die mens versprei het deur vlermuise via sivet-katte wat in China se kosmarkte verkoop word. MERS het moontlik van kamele af versprei, en vlermuise het moontlik Covid-19 na die mens oorgedra nadat hulle in kontak was met Maleisiese ietermagogs in ’n kosmark. Die meeste wetenskaplikes meen dat Maleisiese ietermagogs die moontlike draer van Covid-19 is.

Wat kan lesers uit jou boek leer?

Hulle sal insig kry tot die ietermagog en die verknorsing waarin dié dier homself bevind. Ek hoop ook die lesers sal help om druk op die regering van China en ander lande in Oos-Asië uit te oefen om die gebruik en handel van bedreigde spesies, veral ietermagogs, te keer.

Wat is jou volgende projek?

My dokumentêre fliek, Lions, Bones & Bullets, begin in middel Oktober wys. Die fliek ondersoek leeuplase in Suid-Afrika en die uitvoer van leeubeendere.

Pangolins – Scales of Injustice word uitgegee deur Struik Nature en kos R160. Dit is ook beskikbaar as ’n e-boek by takealot.com.