Wat is jou vroegste herinnering aan Herman Charles Bosman se werk? Ek het sy skryfwerk die eerste keer op skool ontdek. Ons Engelsonderwyser, David Brindley, het een van die Groot-Marico-stories voorgelees en ek het die boek by hom geleen. Ek onthou “In the Withaak’s Shade” (steeds my gunsteling), “A Bekkersdal Marathon” en “Willem Prinsloo’s Peach Brandy” uit daardie dae in die laat 1960’s. Ek het Bosman se skryfwerk verder verken op universiteit, veral die boek oor sy gevangeneskap, Cold Stone Jug.

Vertel ons van Cape Rebel en hoe weeklikse e-posse die inspirasie vir hierdie boek was. Ek het ’n idee gekry om elke week stories gratis per e-pos te deel met diegene wat daarin belang stel. Cape Rebel is nie ’n nuusbrief nie. Dis bloot ’n e-pos met ’n storie, gewoonlik ’n boekuittreksel, in Engels én Afrikaans.

Deesdae sluit dit ook in ’n podcast van die storie, gelees deur Archie Henderson, in Engels en Afrikaans. Elke e-pos het ’n skakel na ons webwerf, caperebel.com. Op dié webwerf kan jy boeke bestel wat ons sedert 1998 – ’n eeu nadat die Anglo-Boereoorlog begin het – uitgee. Dis nie ’n groot sukses wat verkope betref nie, maar ons geniet dit om stories te kies en deel. Ons het gereeld uittreksels uit stories van Herman Charles Bosman gedeel, en teen die begin van 2018 het ek besef ons het genoeg materiaal om ’n eklektiese versameling stories in ’n boek uit te gee.

In die boek skryf jy oor die “probleem” met baie van Bosman se stories? Bosman het gereeld ’n woord gebruik wat ras aandui, wat deesdae eenvoudig onaanvaarbaar is. Die feit dat hy dit dikwels met subtiele ironie gedoen het, om vooroordeel te ontbloot vir wat dit was, maak dit steeds nie vandag geldig nie. Indien dit nie weggelaat is nie, sou die waardering van een van Suid-Afrika se mees talentvolle skrywers uitgesluit wees van die hoofstroom en slegs beperk gewees het tot ’n klein groep aanhangers.

Ek is allesbehalwe ’n kampvegter vir politieke korrektheid, maar ek hoop dat die weglating van materiaal wat op rasgronde kan aanstoot gee, sal verseker dat oom Schalk Lourens lewendig bly in die bladsye van Volmaan oor die Marico. Soos oom Schalk self gesê het: ’n Belangrike deel van ’n storie is juis die deel wat jy nié insluit nie.

marico
Volmaak oor die Marico

Enige ander uitdagings toe jy die stories moes kies? Die moeilikste was om te besluit op die volgorde van die uittreksels, wat redelik onwillekeurig gekies is sonder ’n spesifieke tema in gedagte. Ek hoop die manier waarop dit gedoen is, sal lesers verras.

Wie dink jy sal die boek geniet? Ek dink die meeste Suid-Afrikaners en ander mense wat in die land of vertelkuns belang stel. Dalk sal diegene sonder ’n humorsin of dié wat nie die relevansie van ’n boeregemeenskap in ’n afgeleë hoek van die land snap nie, die goud in Bosman se stories mis lees. Maar selfs hulle sal glimlag en besef dat dié obskure gemeenskap eintlik die ganse mensdom verteenwoordig – want daarvan getuig die diep menslikheid in Bosman se stories. Die boek kyk ook wyer as Bosman se Marico-bydraes; hy het baie ander soort stories en artikels geskryf.

Wat het jy geleer toe jy Bosman se stories herbesoek het? Wanneer jy sy werk herlees – soos ek moes doen vir die weeklikse Cape Rebel-stories – word ’n mens opnuut bewus van sy ongelooflike insig, sy inherente Suid-Afrikaansheid en sy skeppende vermoë as skrywer. En om te dink hy is oorlede in die ouderdom van 46...

Wat maak Bosman se stories vandag steeds relevant? Die eintlike onderwerpe van Bosman se stories is die lewe, die menslike natuur en humor – goed wat nie regtig verander nie. In een van sy latere stories, “Marico Revisited,” skryf hy: “Ek was baie bly om dit te hoor, en verheug dat die enigste gedeeltes van my stories wat verouderd kon raak [beeste smokkel], dit genadiglik vrygespring het. Dis net dinge wat indirek met die ekonomie te doen het, wat kan verander. Iets wat ’n mens nie juis van droogtes en die menslike natuur kan sê nie.”

Die boek is in Engels en Afrikaans beskikbaar. Was dit ’n uitdaging om Bosman te vertaal? Ek dink alle vertalings is ’n uitdaging, en ek beskou dit as ’n proses met twee fases. Die eerste vertaling is noodwendig te letterlik. Hierna lê die uitdaging om die vertaling lewendig te maak in die ander taal sodat dit nie soos ’n vertaling lees nie. Die vertaler Hendrik Jansen het die voordeel dat hy grootgeword het in ’n omgewing wat soortgelyk was aan Bosman se Groot-Marico; dus was dit vir hom was dit ’n soort “tuiskoms”.

Met watter ander boekprojekte is jy tans besig? Ons wil graag vanjaar Deneys Reitz se derde boek, No Outspan, uitgee. Reitz was ’n puik storieverteller, heeltemal anders as Bosman. No Outspan, wat reeds beskikbaar is as deel van die trilogie Adrift on the Open Veld (ook deur ons uitgegee) is vol wonderlike Suid-Afrikaanse stories. Dit sal vanjaar die eerste keer in Afrikaans beskikbaar wees as Geen Uitspan. Hendrik Jansen sal die vertaling doen.

* Volmaan oor die Marico word uitgegee deur The House of Emslie en versprei deur Flyleaf. Ook in Engels beskikbaar as Marico Moon. In boekwinkels teen R275 of kan bestel word by orders@flyleaf.co.za of 071 896 0881. Gaan na caperebel.com om weeklikse stories per e-pos te ontvang.