Waar het jou belangstelling in reis en skryf begin?

My ma is ’n Frans-onderwyseres wat elke jaar haar geld spaar om ’n tydjie in Frankryk deur te bring. Ons doen dit dus al van kleins af. Maar ek is nie ’n natuurlike reisiger nie; ek is nie nomadies genoeg nie. Wanneer ek reis, hou ek daarvan om terug te gaan na dieselfde stede om hulle opnuut in meer diepte te ervaar. Dis dalk daardie selfde impuls wat my van kleins af laat skryf (en lees) – die tydsame ontdekking en vaslegging van ander wêrelde, ervarings en idees.

Waarom het jy spesifiek op Nederland besluit vir jou nagraadse studies?

Die sterk bande tussen Nederlandse en Suid-Afrikaanse universiteite het dit makliker gemaak om ’n beurs in Nederland te kry. Maar ek dink daar was ook ’n verwagting by my dat die aanpassing in Nederland makliker sal wees – as wit Afrikaner het ek op ’n vlak aangeneem dat my wortels in die Lae Lande lê en dat ek dadelik sal tuis wees in die taal en kultuur.

Het jy dit as ’n soort “tuiskoms” ervaar?

Ek was dadelik verlief op Nederland en bekoor deur die ordelikheid en skoonheid van die stad en die verskeidenheid in kuns en kultuur. Maar dit was nie die tuiskoms wat ek verwag het nie. Ek het vinnig agtergekom dat die kleur van my vel en die taal wat ek praat, geensins van my ’n Nederlander maak nie. Ek moes baie hard werk om die Nederlandse taal onder die knie te kry en stadig maar seker ’n bietjie meer tuis in die kultuur te voel.

Jy skryf dat “jou geskiedenis wegval” wanneer jy in ’n ander land woon. Verduidelik meer. 

In ’n mens se eie land kén mense jou en is jou identiteit gevorm en gevestig in verhouding tot ’n klomp ander mense, rolle, dinge en plekke. Dan gaan woon ’n mens in ’n ander land en skielik is al daardie verhoudinge wat jou maak wie jy is, nie meer daar nie. Jy begin jouself van voor af vra wie jy is, wie jy wil wees, hoe jy wil leef.

Vir my was hierdie vryheid opwindend. Maar met tyd het ek dit ook begin mis om werklik geken te wees, die geborgenheid wat lewenslange vriendskappe, familie- en gemeenskapsbande bied.

Wanneer het jy besluit om ’n boek oor jou ervaringe in Nederland te skryf?

Uiteindelik het ek besluit om terug te trek Suid-Afrika toe. In Suid-Afrika kon mense nie verstaan hoekom op aarde ek dit sou doen nie. Hier het baie mense die idee dat ’n mens so gou as moontlik hier moet wegkom en dat ’n lewe in Europa perfek is. Ek het die boek geskryf om sin te maak van my besluit om terug te kom (vir myself en vir ander).

Wie dink jy sal die boek geniet?

Die boek is baie dinge in een: ’n reisverhaal; ’n liefdesverhaal; ’n nadenking oor Suid-Afrika, Afrikaner-identiteit, wit voorreg en wit skuldgevoel. Dis ’n boek wat probeer sin maak van witwees en Afrikaanswees in vandag se Suid-Afrika en in die wêreld. Dis ’n boek wat vrae vra oor die liefde. ’n Boek wat ’n storie vertel. Mense wat in enige van daardie dinge belang stel, vind gewoonlik betekenis of genot in die boek.

Daar is ’n sêding: “The Afrikaners are too polite to be honest. The Dutch are too honest to be polite.” Stem jy saam?

Dis veralgemenings, maar ek dink die stellings vang wel ’n waarheid vas. As ’n mens gewoond raak aan die Nederlanders se manier van reguit praat, is dit verfrissend. Jy hoef selde te wonder waar jy met iemand staan. Maar ek dink ook daar is waarde aan die Suid-Afrikaanse manier om gaaf te wees en ander se gevoelens in ag te neem.

Hoe het jy ander Suid-Afrikaners in die vreemde ervaar? 

Daar is verskillende soorte Suid-Afrikaners in Nederland. Baie van hulle verkies om hulle by ander Suid-Afrikaners te skaar. Hulle braai oor naweke, drink brandewyn, kyk regstreeks rugbywedstryde, leer nooit Nederlands nie. Húlle gaan soek ’n mens op as jy op ’n Saterdag heimwee het en ’n slag weer om ’n braaivleisvuur wil sit. Maar daar is ook Suid-Afrikaners wat baie hard werk om heeltemal te integreer in die Nederlandse lewe en hulle Suid-Afrikaansheid af te skud. Sommige probeer hard, maar hunker altyd terug...  

Wat is jou gunsteling- Nederlandse woord (of gesegde) en hoekom?

’n Mens kan sê dat iemand ’n mooi “uitstraling” het, dan verwys jy na die manier hoe hulle innerlike op ’n mooi manier na buite straal.

As iemand 24 uur in Amsterdam vertoef, watter drie plekke móét hy of sy besoek?

My gunsteling-kunsmuseum is die Stedelijk Museum. Dis minder besig as die ander en hulle het dikwels fassinerende uitstallings van kontemporêre kuns. My gunstelingkroeë is Festina Lente (’n klassieke “bruin bar,” die Nederlandse antwoord op ’n Engelse pub) en Bar Bukowski. Sweedse koffie by Skandinawiese ambassade. Fliek by Kriterion (die kunsteater van die Universiteit van Amsterdam), of by die indrukwekkende EYE-fliekmuseum in die noorde van Amsterdam. Vegetariese Israeliese cuisine by ManaMana. Vintage klere en organiese kos by die Noordermarkt in die Jordaanbuurt op Saterdagoggende. Appeltaart by Winkel43. Die lys is nimmereindigend!

Watter reis- en skryfprojekte lê vir jou voor?

Ek wil vir ’n navorsingsbesoek dalk ’n paar maande in Berlyn woon, of in Kalifornië. Ek hoop ook om binnekort ’n nuwe kreatiewe projek aan te pak en nog ’n boek te skryf.

In my vel – ’n Reis word uitgegee deur Tafelberg en kos R250 in boekwinkels