Sy nuutste boek, Witboy in Berlyn, (die tweede Witboy-boek ná Witboy inAfrika) bied ’n roerende en dikwels verrassende blik op sy nuwe avontuur in dieEerste Wêreld, waarin hy ook sy Afrika-wortels bevestig. Hy vertel meer. 

Hierdie is jou tweede Witboy-boek. Waar kom die naam Witboy vandaan?

Witboy is geskep in ’n stadium toe ek deur Afrika gereis het en die enigste wit ou in elke omtrek was.

Dit was ’n reaksie teen al die verskillende name wat wit mense in Afrika genoem word: oyibo, umlungu, mzungu. Daarna het dit ontwikkel in ’n tegniek waar die karakter bereid was om goed te sê of doen wat die skrywer nie noodwendig sou nie. ’n Soort: “Witboy is Deon Maas, maar Deon Maas is nie Witboy nie.”

Hoe verskil die ervaring van Berlyn as ’n inwoner teenoor Berlyn as toeris?

As Suid-Afrikaners weet ons dis ver vlieg en baie geld as jy iewers in Europa wil toer. Dus is ons geneig om soveel as moontlik in ’n kort tyd in te pas. Dit gee ons ’n wanindruk, soos ’n vakansie by die see. Jy kan nie rêrig sê jy’s lief vir ’n stad as jy nog nie daar gebly het nie.

Wat maak Berlyn vir jou anders as enige van die ander groot wêreldstede? 

Daar is ’n Berlyn vir almal. Die stad het ’n karakter wat volrond en goed ontwikkel is. Jy kan enigiets hier kry wat jy wil doen, dit maak nie saak hoe rein of pervers jou drange is nie. As jy nie self ’n partytjie in Berlyn kan ontdek nie, behoort jy nie in Berlyn te wees nie.

Ek weet nie in watse stad ’n mens kan gaan bly nadat jy in Berlyn gebly het nie. Berlyn verteenwoordig die maksimum geestelike ontwikkeling wat ’n stad kan hê. Die vryheid van beweging, die vryheid van denke, die vryheid van inmenging, die vryheid van misdaad. Die vryheid.

Ek weet nie in watse stad ’n mens kan gaan bly nadat jy in Berlyn gebly het nie.

Jy skryf oor die Berlyn-state of mind. Vertel meer.

Mense is geneig om stede te sien as geboue met inwoners. Stede is meer as dit. Stede verteenwoordig ’n sekere manier van denke, ’n karakter wat gebou is deur hoe die mense in daardie stad oorspronklik gedink het en dit dan geïnstitusionaliseer het. Jy is óf ’n Berlyner as gevolg van hoe jy dink óf jy is nie. Jy hoef nie in Berlyn te bly om ’n Berlyner te wees nie.  

Wie dink jy sal die boek geniet?

Witboy in Berlyn is die naaste wat ek nog aan die hoofstroom gekom het sonder om my eie identiteit te verloën. Ek dink die boek sal ’n aanslag vind by ’n groter gehoor as voorheen. Jy moet steeds effe slimmer wees as die deursnee-mens om alles te verstaan, maar ek het nog nooit my lesers se intelligensie bevraagteken nie.

Jy stel belang in popkultuur, boeke en musiek. Wat was van jou lekkerste ontdekkings tot dusver in Berlyn?

Daar is ’n nuwe ervaring om elke hoek en draai – enige tyd van die dag of nag. Partymaal is dit ’n kroeg met karakters waarvan jy voorheen nog net in boeke gelees het; partymaal is dit ’n boekwinkel soos Dussman – vyf verdiepings gepak met die drome van elke popkultuurliefhebber.

Ek het ’n nuwe lewe begin op ’n ouderdom waar my tydgenote aftree. Elke dag is soos ’n nuwe bladsy in ’n nuwe boek.

Kyk jy nou anders na Suid-Afrika?

Wat jy agterlaat, sal altyd ’n sekere heimwee in jou hart los. Jy kan dit nooit terugkry nie. Selfs al gaan jy terug, is jou heimwee vir dit wat jy agtergelaat het, nie wat dit nou is nie. As jy die besluit neem om te waai ontwortel jy jouself heeltemal. Niks is ooit weer dieselfde nie. Mense verander, vriendskappe verander. Afstand gee perspektief.

Wat jy agterlaat, sal altyd ’n sekere heimwee in jou hart los. Jy kan dit nooit terugkry nie.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika (en Afrika)?

Daar is ’n ritme in die chaos van Afrika wat jou ’n vryheid gee waarteen daar lankal wette in Europa gemaak is.

Ek mis die hustle, die knoppies wat jy kan druk om dinge te aktiveer.  

Hoe gaan dit met julle vier honde wat saam na Berlyn verhuis het?

Otto is net voor Kersfees dood aan kanker. Dit was die eerste keer wat ons met die dood te doen gekry het terwyl ons in die verte is. Sy dood het ons harder geruk as wat ons gedink het. Die ander drie honde geniet die nuwe avontuur. Hulle rol in die sneeu, blaf vir mense op fietse en knor so nou en dan vir ’n arrogante Duitser. Ek sou egter nie sommer die trek saam met vier honde van ’n groot erf in Johannesburg na ’n woonstel in Berlyn maklik aanbeveel nie.

Sien jy ’n lang toekoms in Duitsland vir jou en Veda?

Ons bly in Berlyn, nie in Duitsland nie. Daar is ’n groot verskil. Die Duitse platteland is net so ’n groot skok as die Suid-Afrikaanse een. Daar is minder armoede, maar dieselfde arrogansie, paternalisme en rassisme. Duitsland, of Europa, is nie ’n utopie nie. Ons is hier omdat Veda ’n aanbod gekry het om haar loopbaan ’n hupstoot te gee.

Elke nuwe plek gee vir my ’n nuwe boek, wie weet dus waar ons gaan eindig. Portugal is korrup genoeg vir ons om dit maklik te verstaan, drank is goedkoop in Estland en die suide van Frankryk het baie nudistestrande. Of wie weet, dalk trek ons weer terug Suid-Afrika toe. Ek is ’n Suid-Afrikaner en sien geen rede hoekom ek ’n burger van ’n ander land wil wees nie.

Watter ander projekte lê tans op jou tafel?

Ek moet vandag nog met die honde gaan stap, en Woensdag is dit tyd vir kruideniersware koop. Ek werk ook aan ’n nuwe boek.

Witboy in Berlyn word uitgegee deur Jonathan Ball en kos R260 in boekwinkels. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Witboy in Berlin.