Erik Holm


Erik Holm is ’n emeritus-professor en voormalige hoof van entomologie aan die Universiteit van Pretoria. Met sy nuwe veldgids Insektopedie – Die geheime wêreld van Suider-Afrikaanse insekte wil hy egter nie (net) wetenskaplike inligting gee nie, maar eerder ’n leesboek met interessante feite oor dié geheime wêreld. 


Waar kom jou belangstelling in insekte vandaan? Ek het in die Magaliesberg grootgeword en insekte was van kleins af my stokperdjie. Ek het toe later onder die bekende entomoloog dr. Charles Koch by die destydse Transvaal-museum vakansiewerk gedoen en by hom aangesluit in die Namibwoestyn. Ek het vier jaar in die Namib gewerk en navorsing oor woestynekologie gedoen en later by Tukkies ekologie en entomologie gaan studeer. Ek het eers by die destydse Nasionale Versameling van Insekte gewerk (dis deesdae die Biosystematic Institute), voor ek terug is na die universiteit toe waar ek klasgegee het en later hoof van die entomologiedepartement was.


Waar begin ’n mens met die navorsing vir so ’n boek? Die boek is eintlik ’n soort optekening van ’n leeftyd se ervaring. Dis nie iets wat jy gaan navors op die internet nie, maar eerder goed wat ek in die 50 jaar wat ek al met insekte besig is, beleef het. Dit gaan nie bloot oor die fisiologie van insekte nie, maar eerder oor wat interessant is aan hulle. Ek het dit in ’n storieverteltrant geskryf. Van die mense sê hulle lees dit as bedside reading. Dis dus nie ’n handboek nie, maar ’n leesboek.


Wie sal van die boek hou? Dis vir natuurliefhebbers in die ware sin van die woord – vir almal wat nog verbasing kan beleef, in hierdie tyd waar min mense dit kan beleef. Ek bied ook gereeld opleiding aan vir natuurgidse wat werk met eko-toerisme. Die boek is ideaal vir sulke mense ook: Jy pak die boekie in en as jy ’n naaldekoker in die veld sien, kan jy dadelik vir die mense by jou interessante feite oor hom vertel. Daar is ook ’n veldgids agterin die boek, met foto’s en sketse vir uitkenning. Die insekte word op familievlak rangskik en beskryf sodat dit sin maak vir die leek.


Was dit vir jou as akademikus moeilik om só te skryf dat dit ook vir leke verstaanbaar sal wees? Ek was baie gelukkig, want ek was nog jonk – in my 30’s – toe ek gevra is om deel te neem aan ’n radioprogram waar ’n klomp kenners die publiek se vrae beantwoord (Die program, “Hoe verklaar jy dit?” word vandag nog uitgesaai, Sondae om 11.30 vm. op RSG, maar Erik is deesdae deel van program “Ek wil weet”, Sondae 8.35 nm. op Pretoria FM). Dan moet ’n mens noodgedwonge leer om in alledaagse taal te praat. As ’n mens self entoesiasties is, is dit nie so moeilik nie. Die doseerwerk aan die universiteit het my nog altyd meer gepas as die wetenskaplike navorsing. Akademici moet onthou: Die publiek subsidieer eintlik jou stokperdjie – dis jou verpligting om iets terug te gee!


Die boek het onder meer ’n hoofstuk oor “superorganismes”. Waarna verwys dit? By sosiale insekte soos miere, termiete en bye sien ’n mens die snaakse verskynsel dat die individue elkeen ’n selletjie in ’n groter organisme word. Hulle is nie meer individue nie en die “siel” verskuif van die individu na die kolonie. Dis geweldig interessant.


Insektopedie is ’n herdruk van ’n boek wat in 2008 verskyn het (Inseklopedie van Suider-Afrika). Wat is nuut in dié uitgawe? Dit het  heelwat mooier foto’s. En baie bygewerkte inligting – goed wat ek intussen bygeleer het. Die aanbieding is lekkerder, dit lyk meer soos tydskrifartikels, met inligting in kleiner kassies. Dit maak dit baie meer toeganklik.


Wat is jou raad aan ouers wat ’n liefde vir die natuur en insekte by hulle kinders wil aanmoedig? Dis die wonderlike ding van insekte – selfs in ’n stadstuin gaan jy ’n driekwart van die spesies te siene kry. Vir bokke en groter diere moet jy wildtuin toe gaan, maar die natuur wat letterlik óm ons is, is plante en insekte. As jy iets in die tuin sien of ’n mot kom na die lig gevlieg, het jy ’n sleutel tot iets interessants. Jy kan dit boeiend maak en jou kinders (en jouself!) al meer in die natuur verdiep. As julle ’n mier sien, gaan lees ’n bietjie in die boek, en vertel dan vir jou kind: Het jy geweet miere kan tot 10 jaar oud word? En dat hulle deur die jare al slimmer word sodat hulle later al die roetes deur julle tuin ken en kan onthou?


Het jy iets soos ’n gunstelingspesie? Vir my is die boktor ’n fantastiese insek. Hy het ’n effense houdinkie. Hy’s bittermooi – in vorm en in kleur. En die larwe moet vir sowat 10 jaar aan hout vreet om genoeg energie te kry om ’n boktor te word. As ’n mens dit weet, kry jy nuwe respek vir hulle!


Watter soort boeke lees jy? Iets van als, nie net vakgebiedgoed nie. Ek hou van fiksie – goeie fiksie – en lees dit in Afrikaans, Engels en Duits. Die boeke hou dus nooit op nie!


Is daar ’n boek wat jy weer en weer lees? Die Siel van die Mier. Eugène Marais boei my – ek’s ’n groot fan. Hy was ’n geniale man, ’n regte renaissancemens met 10 ambagte. Ek dink – ondanks die biografieë wat oor hom geskryf is – hy word onderskat in die Afrikaanse letterkunde.


Is jy besig met enige ander projekte? Ek werk vir die landbou-organisasie ZZ2 as raadgewer, waar ek my kennis van die ekologie baie meer gebruik as my kennis van insekte. Ons kyk na hoe jy ekologiese beginsels in besigheid kan toepas – om by die natuur af te kyk hoe jy jou bedryf moet bou. Ek werk aan ’n boek oor dié beginsel. 
Ek werk ook aan iets heeltemal anders. My stokperdjie is die restourasie van ossewaens – ek het al honderde daarvan gesien en gesrestoureer. Ek wil nou graag ’n boek skryf oor die ossewa- en transportryerbedryf en die uitwerking wat dit op kultuur en taal gehad het. 


Insektopedie (Struik Nature) kos R290 by boekwinkels.