Een van die skrywers, die toergids en fotograaf Jaco Powell, vertel meer.

Wat is jou eerste herinneringe aan die Kgalagadi?

Wintervakansies saam met my ouers. Ek onthou ’n swartmaanhaarleeu wat reg langs ons voertuig gestap en vir ons gekyk het – hy was in hoogte omtrent gelyk met die vensters...

Hoe beskryf ’n mens die park vir iemand wat nog nooit daar was nie?

Dit is ’n halfwoestynparadys met verrassend baie wild, ’n helder hemelruim snags en dalk die mees perfekte plek vir wild- en natuurfotografie.

Jy werk al lank as ’n gids in die park. Wat wil mense die graagste sien?

Eers het ek gedink almal wil net die swartmaanhaarleeus sien. Maar die meeste besoekers wil graag ’n kameelperd sien! Die vraag wat ek die meeste kry is: “Hoe oorleef die diere hier?”

Ek geniet dit om vir mense die klein en ongewone diere te wys wat uniek is aan die Kalahari, soos die dwergvalk, grondkoggelmanders wat in driedorings sit, of meerkatfamilies wat rondkrap vir kos.

Jou medeskrywers is Philip, Ingrid en Heinrich van den Berg. Hoe het julle die werk verdeel?

Ons is almal fotograwe wat al jare lank foto’s neem in die park; dus kan ons almal se argiewe kombineer.

Ingrid het die skryfwerk koördineer en my gevra om oor die gebiede, diere en roetes te skryf. Heinrich het die uitleg gedoen en saam met Philip op die foto’s besluit.

Daar is baie gidse tot ons parke. Wat maak hierdie boek uniek?

Die Kgalagadi is een van daardie parke waar besoekers nie weet waar om te begin of waarvoor hulle moet uitkyk nie. Ons boek is ’n volledige gids vir iemand wat self deur die park wil ry. Ons wys op punte waar sekere wild gereeld voorkom, met GPS-punte en volledige beskrywings van die roetes.

Dit is soos om ’n plaaslike toergids in jou voertuig te hê met gedetailleerde inligting oor die eienskappe en gedrag van die park se celebrities. Ons sluit ook graderings van die roetes in om die besoekers te help. Hiervoor het ons op eie ervaring staatgemaak en elke roete gegradeer op sterkte van mobiliteit (watter voertuig jy kan gebruik), potensiële wildkykgeleenthede, sigbaarheid en fotomoontlikhede.

Die Kgalagadi is een van daardie parke waar besoekers nie weet waar om te begin of waarvoor hulle moet uitkyk nie.

Wie behoort die boek te geniet?

Dit is nie slegs ’n gids nie, maar ook ’n koffietafelboek met meer as 600 foto’s en baie inligting en stories oor die Kgalagadi en sy inwoners. Enige natuurliefhebber sal hiervan hou – en dit behoort voltyds in jou voertuig te wees wanneer jy die park verken.

Noem ’n paar van jou gunstelingfoto’s in die boek.

Die foto van die jagluiperdma en haar welpies (bl. 261) wat al langs ’n duin stap – ons het haar omtrent telepaties aangemoedig om nader te kom vir ’n gesinsfoto! Die foto van die kameeldoringboom met ’n groot versamelvoëlnes en stormwolke in die agtergrond (bl. 297) langs die 4x4-roete na Gharagab staan ook vir my uit.

Vertel ons van drie van jou gunstelingplekke in die park.

Die Grootkolkwilderniskamp is ’n spesiale bestemming – die afsondering en wildkykgeleenthede maak dit my gunstelingkamp in die park.

Die stilte is oorweldigend en elke dier of voël wat jy sien, is ’n dramatiese oomblik in die ooptes. Die Cubitje Quap-watergat, noord van Nossob, is altyd bedrywig. Roofdiere gebruik dié watergat as ’n jagplek. Die duin binne die Twee-Rivieren-ruskamp is ’n puik plek om die hemelruim in die nag dop te hou, of om in die dag te sit en kyk na naderende donderstorms uit die noorde.

In die voorwoord skryf Heinrich van den Berg oor “the living emptiness and solitude” in die park. Ervaar jy dit ook so?

Ek het ’n paar jaar gelede in Unie-einde se rigting gery. By die piekniekplek kon ek sien stormwolke begin saampak – ek kon die reuk van aankomende reën en vars, nat grond ruik in die wind. ’n Springbokram het in die middel van die rivierbedding gestaan en my dopgehou.

’n Bleeksingvalk het in ’n boom gesit en roep en weggevlieg. Die eerste druppels het met ’n “plop” in die sagte sand geval. Grondeekhorings het agter skuiling aan rondgeskarrel. ’n Trop wildebeeste het op ’n duin aangemeld en gemik na die rivierbedding en in die nat sand begin speel.

Nóg springbokke het by die ram aangesluit en mekaar al pronkende begin rondjaag. Ek het net daar gestaan, papsopnat van die reën, verstom en dankbaar om te kon deel in een van die Kgalagadi se kosbare oomblikke.

By die piekniekplek kon ek sien stormwolke begin saampak – ek kon die reuk van aankomende reën en vars, nat grond ruik in die wind.

Watter wildkykoomblikke het jy sover die meeste geniet?

Vanweë die oop terrein is die park ’n goeie plek om jagluiperd te sien. Ek het een oggend by die Kwang-watergat gesien hoe wildebeeste nader stap om water te drink. Verskeie koeie het kalfies by hulle gehad.

’n Jagluiperdfamilie het hulle dopgehou – en toe die wildebeeste naby genoeg was, het die ma met spoed nader gestorm. Sy het ’n kalf gevang en met hom in die sand rondgerol, maar die wildebees se ma het met horings omlaag die jagluiperd aangeval en haar weggedruk. Daarna het die ma haar kalf met nog ’n swaai van haar horings deur die lug laat trek, weg van die gevaar.

* Kgalagadi Self-Drive – Routes, Roads & Ratings word uitgegee deur HPH Publishing en kos R490 in boekwinkels of hphpublishing.com