Dit is al beskryf as Suid-Afrika se antwoord op Eat Pray Love. Selfs Tito Mboweni, minister van finansies, het onlangs die boek se lof besing onderweg na die G20-beraad in Osaka, Japan! Lerato vertel meer.

Jy het as vermaakjoernalis uitgehang met sterre soos John Legend en Beyoncé. Waarom het jy besluit om na Wes-Afrika te reis?

Die vermaakjoernalistiek het my begin verveel. Dis natuurlik pret om sterre te ontmoet én ’n salaris te verdien, maar ek is altyd bang om vir te lank slegs een ding te doen.

Twee jaar as ’n vermaakjoernalis was genoeg. Ek wil my eie drome uitleef eerder as om te kyk hoe ander mense dit doen. My grootste droom was nog altyd om Afrika met al my sintuie te leer ken. Ek wou begin reis en het op Wes-Afrika besluit nadat ek Accra, Ghana, in 2006 op ’n mediareis van vier dae besoek het.

Ek het in Junie 2008 na Dakar gereis en gedink ek gaan vir drie maande ’n paar lande in Wes-Afrika besoek.

Jy het in Dakar aangekom met ’n piepklein begroting en geen plan vir blyplek nie...

Dakar is besig, lawaaierig en groot. Die mense is lank en trots. Die lewe is vinnig en intens. Jy moet straatwys wees om in ’n stad soos Dakar te oorleef.

Ek is in my hart ’n stadsmeisie van Pretoria; dus was dit vir my nie te onbekend nie.

Wat het jou laat besluit om langer as drie maande te reis?

Ek is ’n baie emosionele mens en wou dinge vóél sodat dit nie ’n geval raak van “been there, done that, got the T-shirt” nie. Ek wou dié reis die storie van my lewe maak eerder as net iets wat ek iewers in my twintigs gedoen het.

Wat het jy geleer van Afrika en sy mense?

Ubuntu bestaan werklik en dit is hoe ons aan mekaar waardigheid gee. Dit gaan oor hoe ons as Afrikane eer betoon aan ons menslikheid en dié van ander. Afrika beloon diegene wat op die vasteland reis. Daar is ’n warmte en teerheid aan die vasteland wat ek nog nie op reise elders teëgekom het nie. Ons sorg vir mekaar. Keer op keer, ongeag waar ek gereis het, het ek betowerende ervarings gehad, wanneer al die elemente saamspan en ’n mooi en betekenisvolle oomblik skep.

Vertel ons van so ’n oomblik.

Ek was vir ’n paar weke in Zanzibar en het uitgevind een van my helde, die Tanzaniese musikant Bi Kidude, is ook op die eiland. Ek gaan selde na toerisagtige of duur kroeë of restaurante, maar een Vrydag het ek en ’n vriend vir ons bier en pizza by Mercury’s Bar bestel.

Op die ou end het ek daar saam met Bi Kidude gesit en kyk na die openingswedstryd van die Wêreldbekersokkertoernooi.

Jy was dikwels platsak, maar daar was altyd iemand wat kon help?

Toe ek in Nairobi gewoon het, was ek op pad na die Kakuma-vlugtelingekamp sodat ek kon skryf oor Suid-Soedan se besluit om af te stig van Noord-Soedan.

Ek het my reise deur Afrika met vryskutskryfwerk probeer finansier. Ek het egter slegs genoeg geld gehad om tot by die vlugtelingekamp te reis. Daar was niks geld oor vir hotelverblyf óf om terug te keer na Nairobi nie. ’n Jong vrou met die naam Liz het haar oor my ontferm en blyplek vir twee dae aangebied.

Van die plaaslike polisiemanne het geld ingesamel om vir my ’n buskaartjie terug na Nairobi te koop, sowel as geld vir padkos.

Hoe het jy dit ervaar om vroualleen deur Afrika te reis?

Dit het my bemagtig om alleen te kan reis. Ek kon geslagsrolle en stereotipes tot my voordeel gebruik. Byvoorbeeld, ek kon my weg deur grensposte flankeer sonder om visumtariewe te betaal.

Deel een van die gelukkigste herinneringe van jou reis.

Om die sonsopkoms uit ’n warmlugballon in Luxor te sien wat oor die Vallei van die Konings dryf, was baie spesiaal. Ek was waarskynlik op my gelukkigste in Kaïro. Wel, volgens my ma. Toe ek agt jaar oud was, het my juffrou ons klas bekend gestel aan antieke Egipte.

Ek was betower deur ’n prentjie van die Sfinks en het myself voorgeneem om eendag hierdie wêreld te verken. Dekades later het dit gebeur. Ek onthou ook hoe ek op ’n keer in ’n taxi gery het in my tuisdorp, Mabopane, en gedink het “Eendag wil ek in ’n taxi ry op pad na die Piramides van Giza.”

Wie dink jy sal Vagabond geniet en dit betekenisvol vind?

Terwyl ek die boek geskryf het, het ek my verbeel elke leser is my beste vriend vir wie ek my reisstories vertel. Ek is 100% myself, daar is geen filters of beperkinge nie. Jy sal al die kante van my leer ken – the good, the bad and the ugly. En jy sal plekke ervaar soos dit is.

Die lewe is ongelooflik mooi. Dit is so maklik om dit te vergeet wanneer jy aan Afrika dink. Die oorgrote meerderheid stories uit Afrika gaan oor armoede, maar dit is altyd die moeite werd om te onthou die vasteland is soveel meer as die stereotipes van doom and gloom. Ek wil vir mense ’n ervaring van Afrika as ’n tuiste gee.

* Vagabond word uitgegee deur BlackBird Books en kos R250 in boekwinkels