Alle wins uit die verkope word geskenk aan die Painted Wolf Foundation (paintedwolf.org). Nicholas vertel meer.  


Waarom is wildehonde so enigmaties?

Daar is soveel redes dat ek gesukkel het om alles in te sluit in ’n boek van 300 bladsye wat 4 kg weeg! Ek reken die belangrikste aspek is die trop se sosiale struktuur: ’n Dominante wyfie is die leier. Sy is die enigste een wat met die mannetjies paar, en die res van die trop neem rolle aan om die kleintjies groot te maak.

Wildehonde is saggeaarde diere en binne tropverband word die rangorde deur onderdanigheid eerder as aggressie bepaal – ondanks die feit dat dit Afrika se suksesvolste roofdier is met ’n 80%-suksessyfer op jagtogte. Hulle is ook lief vir speel, wat dit soveel pret maak om hulle dop te hou en af te neem.

Wat het gelei tot die steierende 99%-daling in hulle getalle die afgelope eeu?

Dit is baie hartseer dat hulle lank as ongediertes beskou is. Weens ’n totaal oordrewe persepsie dat hulle ’n bedreiging vir vee is, was daar programme in plek om wildehonde uit te wis. In die destydse Suid-Rhodesië het elkeen wat ’n wildehond se afgesnyde stert as bewysstuk van ’n suksesvolle jag gehad het, ’n beloning ontvang. Selfs in die Kruger is hulle met die eerste oogopslag geskiet.

Deesdae word wildehonde beskerm, maar hulle word steeds deur sommige boere gejag en sterf in strikke, op paaie en weens siektes soos hondsdolheid, wat hulle by gewone honde kry.

Hulle getalle het oor ’n eeu van 500 000 tot 6 500 gedaal.

Soos met alle wild is verlies aan habitat ook ’n groot uitdaging. Ons het die Painted Wolf-stigting begin om hulle ’n bewaringsprioriteit te maak, soos dit hoort.

Wat het jy geleer terwyl jy drie troppe in Manapoele in Zimbabwe gevolg het?

Hoe om te oorleef! Ek het al my foto’s te voet geneem en moes dikwels tussen olifante, leeus en buffels rondbeweeg. Maar belangriker as my eie oorlewing, was die besef van hoe broos die vooruitsig op die oorlewing van alle wild in Afrika lyk. Spesies is onder geweldige druk en ek glo almal wat dit geniet om te gaan wild kyk en hoegenaamd vir die diere omgee, moet iets tot hulle bewaring bydra. As dit nié gebeur nie, gaan leeus, renosters, jagluiperds en wildehonde nie meer vir lank hier wees nie.

Vertel ons van ’n paar gunstelingfoto’s uit die boek.

Die voorbladfoto is getiteld “On the Prowl” en wys hoe wildehonde lyk wanneer hulle prooi bekruip. Maar dié een het ’n ander storie: Op die foto bekruip hulle die kleintjies om hulle wakker te maak vir ’n speelsessie!

“Ahead of the Game” is ook spesiaal. Dit wys hoe die wildehonde ’n bobbejaan jag (iets wat nog nooit tevore gesien is nie), die eindelose vermoë vir die kleintjies om te speel en die wreedheid van die wildernis. Dié foto is eervol vermeld in die kompetisie Natuurfotograaf van die Jaar. ’n Ander gunsteling is “Wolf School” wat wys hoe Patrick (een van die mannetjies in die Nyamatusi-trop) skoolhoof speel vir die kleintjies. Dit herinner my aan die gedig “The Law of the Jungle” deur Rudyard Kipling.

Painted Wolves – A Wild Dog’s Life
Painted Wolves – A Wild Dog’s Life

Wat was jou angstigste oomblikke terwyl jy te voet foto’s neem?

Terwyl Blacktip se trop besig was om ’n rooibok te vreet, het drie leeus hulle kom aanval. Dit het skaars 13 m voor my afgespeel... terwyl my ryding meer as 2 km weg gestaan het! Die wildehonde het op die vlug geslaan en ek het agtergebly saam met drie leeus wat baie verras was om my te sien.

Gelukkig het ek geweet ek moet nie hardloop nie. Ek het op hulle geskreeu om my dominansie duidelik te maak. Dit het die leeus in hulle spore gestuit en daarna kon ek met ’n kalm stem met hulle gesels.

Ná ’n vreesaanjaende agt minute het ek gevoel dis nou veilig om stadig weg te beweeg. Ek beskryf die hele insident in detail in die boek saam met ’n mooi foto – “Evil-Eye” – van die leeuwyfie.

Toe ek eers ’n veilige entjie weg was, kon ek myself nie keer nie – ek móés haar net afneem. Ek is verbaas die kamera het nie geskud nie!

Wat maak jy met al daardie ledige ure wanneer jy in die veld sit en wag vir ’n foto?

Wanneer wildehonde jou voorwerp is, moet ’n mens soms vir lang tye geduldig wag terwyl hulle slaap. Maar daardie kort oomblikke wanneer hulle jag of speel, is ’n groot beloning.

In die stil tye geniet ek dit bloot om in die veld te wees, na die voëlgeluide te luister, om alleen te wees en die atmosfeer in te drink. Dit is baie soos meditasie. Maar met my oë oop, natuurlik!

Enige wenke vir aspirant-natuurfotograwe?

Raak só vertroud met jou kamera dat dit ’n verlengstuk van jou is. Tweedens, moet jy die wildsoort wat jy wil afneem, goed navors en aanhou bestudeer sodat jy hulle gedrag verstaan en fotogeleenthede kan voorspel.

En die belangrikste is om die natuur te respekteer. Daar is baie egosentriese fotograwe wat meer in die foto’s belang stel wat hulle dalk kan neem, as in die welstand van hulle voorwerp. Ons is bevoorreg om in húlle gebied te kan beweeg en ons moet hulle grense respekteer.

Waaraan werk jy tans?

Ek is steeds betrokke by die Painted Wolf Foundation, doen praatjies wêreldwyd, skryf artikels en publiseer my foto’s.

Ek kyk ook na innoverende maniere om fondse in te samel. Verder verken ek nuwe gebiede waar daar ook wildehonde voorkom en lei ook spesialisfotografiesafari’s waarop mense nie net dié mooi diere kan waarneem nie, maar ook die bewaringsgesindes wat met hulle werk kan ontmoet en ondersteun. Wildehonde het my lewe oorgeneem... maar dit pas my.


Painted Wolves – A Wild Dog’s Life word uitgegee deur HPH en kos R995 by hphpublishing.co.za