Wanneer het jy besluit dat jy ’n boek oor die TV-reeks wil skryf? Terwyl die reeks uitgesaai is, het ek begin dink: Hierdie vertel nie die hele storie nie. Televisie is ’n anderster besigheid. Ek glo nie dit kan jou bring waar woorde jou kan bring nie. Ek het toe begin om al die halwe gedagtes en goeters wat op die reis in my aan die broei was neer te skryf.

Hoe verskil Op pad van jou vorige boeke? Party mense sê dis my eerlikste boek tot dusver. Dalk is hulle reg. Ek skryf nogal eerlik oor my gekweldheid oor myself en my verlede. Miskien moes ek nie vertel het van die bottel whisky onder my bakkie se sitplek waarmee ek rondry nie, maar, wel... dis gedoen.

Het jy noukeurig dagboek gehou gedurende die reis? Ek was te gatvol saans om noukeurig dagboek te hou, ná ’n lang dag saam met die kameras op die pad. Ek het wel los gedagtes neergeskryf. Dit het baie gehelp om later weer na van die beeldmateriaal te kyk.

Wie behoort die boek te geniet en wie moet eerder verby hou? Uiteraard wil ek hê almal moet dit koop en lees... Maar, ja, as iemand dalk ’n gemoedelike, nostalgiese reis verwag, kan die persoon dalk teleurgesteld wees.

Jou boek gaan oor ’n soeke na hoop. Wat beteken die woord “hoop” vir jou? Hoop? Hoop beteken vir my God. Dis ’n wye, ietwat melodramatiese stelling, besef ek. Maar in die boek stoei ek nogal met die aard van gebed. Hoe voer ’n mens hierdie gesprek met God wat jy gebed noem? Is dit net ’n soort herhaling van woorde? Is gebed nie ook ’n manier van leef nie? Hoop is nie maklik nie. Hoop is moeilik.

Ek skryf nogal eerlik oor my gekweldheid oor myself en my verlede.

Hoe behou jy hoop in ons land? Vergewe my as ek ontwykend klink, maar ’n mens moet jou eie hoop uit die lewe los leef. Vir baie mense het hoop iets oppervlakkigs en sentimenteels geword. Soos daardie mooi prentjies vol soet woorde wat ons so graag op Facebook plaas. Daardie is fophoop. Mense soek kitsantwoorde en wanneer dit oor ware hoop gaan, is daar geen kitsantwoorde nie. Om hoopvol te leef is vir my ’n godsdienstige ding.

Jy tree ook in gesprek met jou oorlede pa in die boek. Watter impak het hy steeds in jou lewe? Ons praat van ons Vaderland. My geding met my pa was ook ’n geding met die verlede, ons Nasionale Party-verlede. Toe my pa die dag oorlede is, het ’n wyse oom vir my gesê: Om ’n pa te verloor is om ’n hoekpaal te verloor. Ek dink dis waar. Ek sal altyd ’n bietjie wankelrig wees sonder my pa.

In Op pad kry jy ’n nuwe hond, Blackie. Hoe gaan dit nou met hom? Baie goed. Hy sit hier langs my op hierdie oomblik. Hy wil gaan stap. Terwyl ek die boek geskryf het, het hy ure lank by my voete op ’n kombers gelê.

Jy skryf ook oor rugby in die boek. Waarom is Suid-Afrikaners so rugbymal? Hoekom is ons net so lief vir braaivleis? Ek is nie seker nie. Ek dink in rugby gaan dit oor beheerde geweld – en dis nie noodwendig ’n slegte ding nie. Sokker, dink ek, is veral vir ons Afrikaners effens te mak. Ons wil daardie bietjie brutaliteit beleef. Dis ’n soort oerritueel, en eintlik nogal, wel... beskaafd.

Vertel ons van die rugbyreis in die boek. Nadat ons in 2015 se Wêreldbekerrugbytoernooi teen Japan verloor het, het ek besluit om die pad te vat en vir die res van die toernooi na die Springbok-wedstryde op verskillende plekke saam met verskillende mense te gaan kyk. Dit was ook ’n soort soeke na myself as man. Ek het vrekdiep probeer wees oor rugby.

Wat dink jy van die vorige Bok-afrigter, Heyneke Meyer? Ek het al telkens probeer om vir hom kwaad te word, maar ek kan nie. Ek hou van hom. In tye van nood kies ek ook altyd die metaforiese Victor Matfield op slot in my span. Watter skryfwerk en projekte lê nou vir jou voor? Eers ’n eenmanstuk vir Frank Opperman, dan nóg ’n boek... Ek het ook weer begin draf. Die Bokke kan doen met ’n denkende stut...

Op pad: ’n Reisjoernaal word uitgegee deur Tafelberg en kos R250 in boekwinkels.