Presies een dag voordat ’n familielid van my op sy jaarlikse seevakansie vertrek, besluit hy om gou sy woonwa se bande na te gaan. Hy lig die wa met die hoekstukke, maar toe hy die een wiel afhaal, knak daardie hoekstut onder die gewig en die wa staan skoon skewebek.

Die les wat ons hieruit kan leer, is dat jy nie tot só kort voor jou vertrek moet wag om jou bande na te gaan nie. En, natuurlik, dat ’n hoekstut nie ’n domkrag is nie. Die goed is nié ontwerp om ’n wa op te lig nie, maar om dit gelyk en waterpas te kry op jou staanplek.

Om jou wa op ’n ongelyk staanplek gelyk te trek is ’n wetenskap in die kleine. Ek het al geleer ’n mens moet ’n wieltrap gebruik om die wa in die breedte so na as moontlik aan waterpas te kry.

Dan gebruik jy die neuswiel om dieselfde in die lengte te doen. Mense wat snags sooibrand kry, het al geleer dat dit effense verligting bring as jy die wa aan die koppenentkant ’n aks hoër lig as die voetenent.

Ek het ook al mense teëgekom wat beweer sekere woonwaens kraak net bo die deur omdat die hoekstutte verkeerd gebruik word. Dit veroorsaak skade aan die struktuur van die wa en kan selfs die as kromtrek.

Maar kom ons gesels weer oor die bande wat my familielid wou nagaan. Die een het toe inderdaad ’n skeur in gehad, natuurlik aan die agterkant, waar dit moeilik sigbaar is.

Daar staan blykbaar niks in padverkeerswetgewing oor die maksimumouderdom van bande nie.

Die lewensiklus van ’n woonwa se bande is die soort onderwerp waaroor amateurwetenskaplikes in vervoering raak. Een so ’n teorie is dat bande elke vyf jaar vervang moet word.

Gaan kyk ’n bietjie wat sê jou woonwaversekering. Word die aanbevole ouderdom van die bande spesifiek genoem? Daar staan blykbaar niks in padverkeerswetgewing oor die maksimumouderdom van bande nie.

Rubber verloor wel ná 5-6 jaar buigsaamheid en begin verhard. As jy met só ’n band oor ’n katoog ry, sal die harder en minder buigsame rubber makliker veroorsaak dat die loopvlak lostrek.

’n Bydraende oorsaak is daardie gleuwe wat op teerpaaie se middellyn ingesny word om ’n slaperige motoris te laat wakker skrik as hy die pad byster raak en oor die gleuwe ry. Die slootjies is só naby mekaar dat die harde rubber nie vinnig genoeg kan vervorm om die “impak” van onder af te absorbeer nie.

Ek het ’n bietjie op die internet gaan rondsnuffel en twee dinge oor dié onderwerp het my oog getref. Die een is die beskikbaarheid van ’n bandmonitor. Dit is ’n tegnologiese hulpmiddel wat ’n ogie hou oor jou hele sleepkombinasie se bande.

Sensors word binne-in die band of op die band se klep geïnstalleer. ’n Monitor binne oogafstand van die bestuurder gee ’n waarskuwingsteken sodra ’n band druk verloor of oormatig verhit.

Die ander aspek is bande se drakrag. Iewers op die buitekant van die band is daar waardevolle inligting wat die drakrag en die vervaardigingsdatum van die bande uiteensit.

Drakrag word in kilogram gespesifiseer, en een van minder as 1 000 kg per band is heel moontlik nie geskik vir middelslag- tot groter woonwaens nie.

Bande wat meer as 1 100 kg kan dra, kan met gemak tot op 3 bar gepomp word. Ek meen verkoopsmense by sleepwa- en woonwahandelaars moet hulle kennis opskerp om gesaghebbende en veilige raad oor bande te gee.

Om kortpaaie te vat met jou woonwa se bande maak jou ’n gevaar op die pad.