Ons beleef hartseer tye waar verskeie van ons geskiedkundige plekke – veral op kleiner dorpe – verval. Tog, op ’n onlangse toer in die Bredasdorp-distrik, het ons die teendeel ontdek.

Ons het gebly by die Nacht Wacht-plaas sowat 8 km van Bredasdorp af langs die R316 op pad na Waenhuiskrans. Die plaasopstal dateer uit 1885. Al die geboue is gerestoureer en daar woon mense.

’n Deel van die perdestalle is omskep in twee netjiese selfsorgeenhede. Ons het soggens tussen die koringlande gaan draf en vir ’n ekstra bederf is daar ’n restaurant wat middag- en aandete bedien.

Die De Hoop-natuurreservaat is sowat ’n uur se ry weg – en beslis ’n besoek werd. Ook is daar die oorspronklike plaasopstal, silo en ander buitegeboue, wat uit die 1700’s dateer, netjies opgeknap. Hier is ’n restaurant en blyplek. Opvallend is die drie reusagtige wildevybome wat ’n mens laat wonder of dit so oud soos die plaasopstal is!

Voordat ons huiswaarts gekeer het, het ons ons vakansie afgesluit met ’n koffie op die stoep van die Arniston Spa Hotel.

- OLIVIA DU TOIT, Somerset-Wes