Ons droom al jare lank om St. Helena-eiland te besoek. My oupa G.D.J. Scholtz is in die Anglo-Boereoorlog gevange geneem en het twee jaar in die Deadwood-kamp op die eiland deurgebring.

Nadat ek Sophia van Taak se artikels in Weg #165 en #166 gelees het, het ons geweet dis nou die regte tyd! Ons sou ook my vrou, Louiza, se 70ste verjaardag op die eiland vier.

Briewe
Gert en Louiza Scholtz het op St. Helena gaan kuier.

Ons sou net ’n week bly. Nadat ons bykans alles gedoen het soos Sophia aanbeveel het, het die tyd aangebreek dat ons op Saterdag 17 November 2018 terugvlieg Suid-Afrika toe. Groot was ons verbasing toe die vlug gekanselleer is weens gure weer. Ons kon dus tot die Dinsdag bly. Alles gepak en reg om te vertrek, hoor ons dié vliegtuig moes in Windhoek omdraai terug Johannesburg toe.

Ons het eers drie dae later op ’n spesiale vlug vertrek. Dit was heerlik om amper twee weke by die vriendelike Saints (soos die inwoners na hulleself verwys) te kuier.

- GERT SCHOLTZ, Kimberley